Toyota Gazoo Racing reg vir “T20” van Veldtydrenne

leeroy-poulter-rob-howie-5_1800x1800_1800x1800

Die tweede ronde van die Donaldson Suid-Afrikaanse Veldtydrenkampioenskap word op 7 Mei in die Vrystaatse dorp Vredefort beslis. Vredefort, waar die grootste meteoriet nog die aardbol getref het, huisves die kortste byeenkoms op die 2016-veldrenkalender. Die byeenkoms, wat as die Vredefort-Supernaelren bekend staan, is spesifiek ontwerp om die grootste impak op toeskouers te maak ‒ baie soos wat T20 vir krieket doen.

“Dit is ’n interessante vernuwing,” is die Toyota Gazoo Racing SA-spanhoof, Glyn Hall, se mening. “Die byeenkoms, waarvan die roete net 200 kilometer lank is, is minder as die helfte van die renafstand waaraan ons gewoond is. Maar ons is vol vertroue nadat ons vroeër vandeesmaand die openingsronde in Vryburg gewen het.”

Die verdedigende kampioene Leeroy Poulter en sy navigator, Rob Howie, het die RFS-Vryburg-Uithouren, die eerste ronde van die kampioenskap, gemaklik gewen terwyl hul spanmaats, Anthony Taylor en Dennis Murphy, die naaswenners in ’n identiese Toyota Hilux was.
Poulter het ook die eerste twee rondes van die 2016Suid-Afrikaanse Nasionale Tydrenkampioenskap met sy navigator Elvéne Coetzee langs hom in hul Toyota Yaris S2000 gewen.

Die Vredefort-Supernaelren het ’n nuwe eendagformaat, en die wegspringvolgorde word op deelnemers se posisie in die nasionale kampioenskapsgradering bepaal. Dit beteken dus dat die twee Toyota Gazoo Racing SA-Hilux’e eerste en tweede in die afdeling vir produksievoertuie sal wegspring.

Die ren bestaan uit twee rondtes wat elk 100 kilometer lank is. Die eerste rondte begin om 09:30 met stofgapings van twee minute, gevolg deur ’n verpligte kuipebesoek om die voertuie te versien. Hoewel die kuipebesoek gewoonlik 20 minute duur, sal die Vredefort-Supernaelren in twee afsonderlike renne verdeel word, met die tweede rondte wat om 13:30 begin. Die wegspringvolgorde daarvoor sal op grond van die rentye in die eerste rondte geskied, met die vinnigste jaers wat eerste sal wegspring.

“Om dinge nog interessanter te maak, sal die motors in die tweede rondte net een minuut ná mekaar wegspring,” verduidelik Hall. “Dit beteken dat stof ’n kritiese faktor kan wees, dus is dit van kardinale belang om so goed as moontlik in die eerste rondte te vaar.”

Benewens die twee fabrieksingeskrewe Toyota Hilux-renvoertuie van Poulter en Taylor, sal ’n hele aantal private jaers in soortgelyke voertuie te sien wees. Jason Venter en Vince van Alleman, die openingsren se wenners in Klas T, sal weer in hul 4×4 Mega World-Toyota Hilux jaag. Die broers Johan en Werner Horn, wat in die Malalane Toyota-Hilux jaag, sal ook weer in aksie wees.

Die renhoofkwartier en aangewese dienspunt (DSP) vir die ren is aan die buitewyke van Vredefort op die plaas Witwal. Die openingsrondte begin Saterdag 7 Mei om 09:30, en die tweede rondte om 13:30. Verversings sal by die DSP te koop wees, waar hope vermaak ook aangebied word. Toeskouers sal ook die kans hê om die deelnemers en hul voertuie van naby te sien.

Toegang is gratis.

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota Gazoo Racing reg vir “T20” van Veldtydrenne