Suid- Afrikaans geboude Toyota Hulux steeds voor in Qatar

nasser_edo3230_rid_1800x1800

Die verdedigende kampioene Nasser Al-Attiyah en Mattieu Baumel, wat in ’n Suid-Afrikaanse Toyota Hilux jaag, het Donderdag 22 April Sneltrajek 4 van die 2016-Sealine-veldtydren gewen. Dit het hul voorsprong tot net onder veertien minute en ver voor die naasvoorlopers, Yazeed Al Rajhi en Timo Gottschalk (MINI), gerek.

“Ons het vandag weer ’n fantastiese tydjie in die motor gehad,” het Al-Attiyah, ’n voormalige Dakar-wenner, by die oornag-tentkamp by die internasionale Losail-rensentrum gesê. “Ons het die laaste sneltrajek in gedagte gehou en daarop gefokus om dinge skoon en bestendig te hou. Ons het hard gedruk waar dit veilig was en seker gemaak ons kyk mooi na die motor waar die terrein baie rof was.”

Al-Attiyah het weer geen probleme met die Toyota Hilux gehad om aan te meld nie, en was vol vertroue dat hulle die krane aansienlik groter kan oopdraai as hulle uitgedaag word. “Ons motor is puik en sterk, en ons weet ons het nog baie om op terug te val as dit nodig is.”

Al-Attiyah/Baumel het ’n voorsprong van 13:58 ná vier sneltrajekte met nog net een sneldeel voor die einde van die ren. Hulle het Sneltrajek 4 ver gewen deur 5:22 voor Al Rajhi/Gottschalk oor die wenstreep te seil, en het sodoende hul vierde agtereenvolgende sneltrajekoorwinning aangeteken. Dié sneltrajek, wat 354 km lank was, het uit vinnige tweespoorpaaie met hier en daar rowwe gedeeltes sowat halfpad deur die sneltrajek bestaan. Die laaste 50 km was sanderig en glad en volgens Al-Attiyah was dit “werklik lekker om daar te ry”.

Die Toyota Hilux waarin Al-Attiyah en Baumel in Qatar jaag, is in Suid-Afrika gebou en ontwikkel, en is dieselfde voertuig waarmee Giniel de Villiers en Dirk von Zitzewitz vanjaar as deel van die Toyota Gazoo Racing SA-renspan die derde plek algeheel in die 2016-Dakar-veldtydren aangeteken het. Die voertuig word deur die Overdrive Racing-span in sy internasionale veldtog bedryf en in stand gehou.

Dié voertuig is byna identies aan die twee FIA-gespesifiseerde Toyota Hilux-voertuie wat plaaslik aan die Donaldson-veldtydrenkampioenskap deelneem, waar hulle deur Leeroy Poulter en Anthony Taylor onderskeidelik beman word. Poulter en sy navigator, Rob Howie, is die verdedigende Suid-Afrikaanse kampioene, terwyl Taylor en sy navigator, Dennis Murphy, veelvuldige kampioene in eie reg is.

Die laaste sneltrajek van die 2016-Sealine-veldtydren, Sneltrajek 5, bestaan uit 351 km se tipiese woestynrenroete en kom Vrydag 22 April aan die beurt.

’n Mengsel klipperige en sanderige tweespoorpaaie tesame met 70 km se sandduine word verwag en sal die oorblywende jaers se laaste sneltrajek in die vyfdaagse byeenkoms wees wanneer hulle Vrydagmiddag by die eindpunt by die Losail-rensentrum in Doha aankom.

Posted on by jonckie

Comments Off on Suid- Afrikaans geboude Toyota Hulux steeds voor in Qatar