Toyota plant eerste hou na eerste rondte van 2016- Tydrenkampioenskap

 tgrsa16-leeroy-poulter-6_1800x1800

 

  • Eerste algeheel: Leeroy Poulter en Elvéne Coetzee (Toyota Yaris S2000)
  • Naaswenners: Giniel de Villiers en Carolyn Swan (Toyota Yaris S2000)
  • Eerste in Klas S1600: Guy Botteril en Simon Vacy-Lyle (Toyota Etios)
  • Toyota wen vervaardigersprys

Toyota het skoonskip gemaak in die openingsronde van die Suid-Afrikaanse Tydrenkampioenskap wat Saterdag in Welkom in die Vrystaat begin het. Die 2014-kampioene, Leeroy Poulter en Elvéne Coetzee, het die eerste Goldfields-tydren in hul Toyota Gazoo Racing SA Yaris S2000 gewen, met hul spanmaats Giniel de Villiers en Carolyn Swan die naaswenners in ’n identiese motor.

“Wat ’n opwindende byeenkoms was dít net nie,” het ’n glimlaggende Glyn Hall, spanhoof van Toyota Gazoo Racing SA, aan die einde van die byeenkoms gesê. “Die tydren is deur ’n splinternuwe span mense gereël, en hulle het hulle gewis goed van hul taak gekwyt. En om eerste en tweede op die podium in die openingsronde van die kampioenskap te eindig, was ’n fantastiese uitslag vir ons.”

Die byeenkoms het laat Vrydagmiddag 3 Maart met twee sneltrajekte begin. Die deelnemers het in Sneltrajek 1 ’n roete van 11,4 km by die Phakisa-rensentrum aangedurf voordat die eerste dag met ’n sneltrajek van 1,2 km deur die middedorp afgesluit is. Die verdedigende kampioen, Mark Cronjé, en sy nuwe navigator, Barry White (Volkswagen), het die pas aangegee en moes as gevolg daarvan die volgende dag eerste op die roete wees en die pad “vee”.

Altesaam nege sneltrajekte het op dag twee gevolg, en agt daarvan was op grond. Cronjé het weer die pas aangegee, maar die twee Toyota Gazoo Racing SA-jaers het hard teruggeveg en die Volkswagen op Sneltrajek 7 ingehaal.

“Ons het teen ons eie pas gejaag, wat duidelik goed genoeg was,” het Poulter as tydrenwenner gesê nadat hy die eer gehad het om vonkelwyn van die boonste trappie van die wenverhoog af te spuit. “Die twee Toyota Yaris-tydrenmotors het foutloos gehardloop, en hoewel die byeenkoms op party plekke nogal moeilik was, het ons nogtans daarin geslaag om al twee motors veilig by die eindpunt te kry.”

Poulter/Coetzee het ses van die tydren se elf sneltrajekte gewen, terwyl De Villiers/Swan twee sneltrajekoorwinnings aangeteken het. Cronjé/White was derde algeheel, maar het duidelik gewys dat hulle vanjaar hard gaan baklei ‒ iets wat vir ’n baie interessante tydrenseisoen sal sorg.

Wat Klas S1600 vir voorwielaangedrewe motors met enjins tot 1600cc betref, het die verdedigende kampioene, Guy Botterill en sy navigator, Simon Vacy-Lyle, die stang vasgebyt. Hulle het van begin tot einde voor gejaag, en hul klein Yato-geborgde Toyota Etios nog ’n klasoorwinning besorg en só hul deel gedoen om Toyota te help om die vervaardigersprys te wen.

Die tweede ronde van vanjaar se nasionale tydrenkampioenskap is die legendariese Sasol-tydren wat die naweek van 22 en 23 April 2016 beslis word. Die Sasol-tydren is ’n groot toeskouer-gunsteling en ’n hoogtepunt op die tydrenkalender. Die byeenkoms vind in en om Sabie plaas, met die tradisionele sneltrajekte in die omgewing van Graskop en Witrivier.

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota plant eerste hou na eerste rondte van 2016- Tydrenkampioenskap