Ctrack nuutste medeborg van Emirates Lions

Capture

Pierre Bruwer, besturende direkteur van Ctrack SA, Rudolf Straeuli, hoof uitvoerende beampte van Lions Rugby-maatskappy, Nick Vlok, hoof uitvoerende beampte van DigiCore, en Ross Cronjé, Leeus-skrumskakel

Bankvas agter een van die land se voorste rugbyspanne

Kort ná hul Super Rugby skittersege die afgelope naweek oor die Chiefs op dié se tuisveld in Nieu-Seeland, het die Emirates Lions aangekondig dat die voertuigopsporing- en vlootbestuursmaatskappy Ctrack, ‘n filiaal van die Amerikaanse maatskappy Novatel Wireless, hul nuutste medeborg is.

Met dié borgskap gaan die Ctrack-handelsmerk duidelik sigbaar op die agterkant van die span se rugbybroeke verskyn. Die handelsmerk maak sy debuut by die naweek se Super Rugby-wedstryd in Dunedin, Nieu-Seeland, waar die Leeus teen die Highlanders gaan kragte meet. Ctrack is welbekend met dié streek weens sy operasionale teenwoordigheid in Nieu-Seeland en Australië.

“Dit is met trots dat Ctrack sy borgskap met een van die suksesvolle rugbyunies in die land aankondig. Integriteit, kwaliteit en innovering is drie van ons waardes wat in die waarde-ekosisteem van die Lions Rugby-maatskappy weerspieël word. Ons het oor die laaste paar jaar gesien hoe die span ontwikkel en gegroei het tot ‘n formidabele teenwoordigheid in Suid-Afrikaanse rugby,” sê Pierre Bruwer, besturende direkteur van Ctrack SA.

Rondte drie van die Super Rugby-toernooi is tans in volle swang en het miljoene ondersteuners op die punt van hul stoele. Dit is Ctrack se eerste groot borgskap van ‘n sport wat bekend is daarvoor om samehorigheid en nasietrots onder Suid-Afrikaners te bevorder.

Die Leeus het reeds vanjaar teen Japan gespeel en gaan in Julie na Argentinië toer, wat hul internasionale status bevorder. “Hierdie tipe blootstelling maak dit vir Ctrack verder moontlik om ons handelsmerk wêreldwyd uit te brei,” sê Bruwer.

Volgens Rudolf Straeuli, hoof uitvoerende beampte van die Lions Rugby Company (Pty) Ltd & Ellispark Stadium (Pty) Ltd, is dit belangrik dat borge en vennote die waarde smaak daarvan om met hul handelsmerk geassosieer te word. “Ons is opgewonde oor die vennootskap tussen Ctrack en ons maatskappye. Die feit dat Ctrack hierdie seisoen hul borgskap met ons uitgebrei het, toon dat hulle die waarde as ‘n internasionale handelsmerk sien,” sê hy.

Ctrack se groeiende toewyding tot die ontwikkeling van verskillende sportsoorte kan duidelik gesien word in sy wye verskeidenheid sportborgskappe. Die maatskappy is vir die laaste drie jaar al ‘n mede-borg van die suksesvolle Titans-krieketspan. Op gemeenskapsvlak borg Ctrack die sokkerspan van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se interne hoofkantoor (SAPSHOFA), wat uit meer as 20 spanne bestaan.

Ctrack se betrokkenheid by die Leeus het twee jaar gelede begin toe die maatskappy sy handelsmerk op die oostelike vleuel van Ellispark bemark het. “Ons het die span ondersteun toe hulle dit die meeste nodig gehad het. Vandag is ons trots om langs ander borge soos die lugdiens Emirates, Fidelity, Xerox, Vox, Jonsonn Workwear, Sun International, USN en 94.7 te staan,” sê Bruwer.

“Digicore het 30 jaar gelede sy deure in Johannesburg oopgemaak. Vandag is ek trots om te sien ons staan bankvas agter ‘n span wat die vlag hoog hou vir die Goudstad,” sê Nick Vlok, hoof uitvoerende beampte en stigter van Digicore, verskaffer van Ctrack.

Posted on by jonckie

Comments Off on Ctrack nuutste medeborg van Emirates Lions