Dakar 2016 ‘n Klinkende sukses vir Toyota Gazoo Racing SA

 finish_giniel_880x500

 

  • Giniel de Villiers/Dirk von Zitzewitz (#301) derde algeheel
  • Leeroy Poulter/Rob Howie (#319) vyfde algeheel
  • Yazeed al Rajhi/Timo Gottschalk (#305) elfde algeheel
  • Toyota Hilux wen afdeling vir petrolaangedrewe voertuie
  • Drie Toyota Hilux-renbakkies onder Top-10

JOHANNESBURG – Die 2016-Dakar-veldtydren, die wêreld se moeilikste motorren, is verby. Die miljoene rengeesdriftiges in Suid-Amerika wat die Dakar-brigade deur Argentinië en Bolivia gevolg het, se lewens het nou weer genormaliseer, en in Johannesburg, Suid-Afrika, het die lede van die Toyota Gazoo Racing SA-renspan uiteindelik teruggekeer huis toe.

Vanjaar se ren was ’n emosionele wipwaentjierit. Asof die ren self nie reeds erg genoeg was nie, het Moeder Natuur saamgesweer en oorstromings, stofstorms en skroeiende hitte by die mengsel gevoeg. Selfs in die sneltrajekte, waar dit regtig saak maak, het die ren wankelrig begin…

“Ons het vooraf geweet die Peugeots sou vinnig wees,” het die spanhoof, Glyn Hall, verduidelik. “Ons het egter nie verwag hulle gaan vinnig wees nie! Ons het veral in die vroeë deel van die ren, waar die veelvuldige wêreldtydrenkampioen Sebastien Loeb baie tuis was, ernstige rede tot kommer gehad.”

Die Dakar-ren is egter ’n ultra-marathon, nie ’n naelren nie, en bestendigheid is gewoonlik belangriker as suiwer spoed.

Daarbenewens het dinge ook nie makliker geword toe die ren nader aan die hoë Boliviaanse plato’s beweeg het nie.

“Die turbo-aangejaagde motors is altyd vinniger in die dun lug op die hoëliggende sneltrajekte. Ons het egter vanjaar meer sulke hoë sneltrajekte as voorheen gehad,” het Hall gesê. “Trouens, die reëls bepaal dat die grootte van die lugbeperkers aangepas moet word as die gemiddelde hoogte bo seevlak meer as 2 000 meter is. Hoewel die gemiddelde hoogte vanjaar laer sou wees, het die kansellasie van Sneltrajek 1, wat bykans op seevlak sou wees, die gemiddeld verby die maatstaf gestoot.”

Die skrif was toe reeds aan die muur, en die Toyota Hilux moes noodgedwonge sonder die voordeel van ’n groter lugbeperker jaag. “Ons het verwag om tweede viool in die dun lug te speel, maar die manne het nogtans deurgedruk en seker gemaak hulle bly binne bereik van die voorjaers.”

Die dun lug het nie net die voertuigenjins se verrigting beïnvloed nie, maar die bemanning het ook swaar getrek. Giniel de Villiers en Leeroy Poulter het vooraf ure met spesiale toerusting, wat groot hoogtes bo seevlak naboots, geoefen. Dit het op die oog af vrugte afgewerp, maar Toyota Gazoo Racing SA se derde jaer, Yazeed al Rajhi, het ’n nagmerrietydjie gehad vandat hulle die hoë plato’s in Bolivia bereik het.

“Yazeed het regtig gesukkel. Hy was naar en duiselig, en ons het baie tyd in Sneltrajek 5 verloor,” het sy navigator, Timo Gottschalk, verduidelik. “Hy het egter in Sneltrajek 6 herstel en skielik baie beter gevoel. Ons het die derde vinnigste tyd in daardie sneltrajek opgestel, en was ná ons rampspoedige dag in Sneltrajek 5 skielik terug in die hitte van die stryd.”

’n Vernietigende stofstorm het die oornag-tentkamp aan die oewer van die bekende soutpan, Uyuni, getref. Die storm het stof in die dun lug gedwarrel en gemaal, vlieënde puin rondgeslinger en vernietigend deur die tentkamp gewaai.

Baie spanne se afdakke en ander toerusting is weggewaai, terwyl absoluut alles wat in die stofstorm se pad was, onder ’n laag klam stof bedek was.

“Die storm was so erg dat ons moes ophou om aan die motors te werk,” het Hall gesê. “Almal het iets vasgegryp terwyl die wind om ons gemaal het. Die ouens wat nie ’n stofbril gehad het nie, was diep in die moeilikheid. Toe die storm bedaar, het dit ons ’n hele rukkie geneem om alles weer agtermekaar te kry.”

Dit was maar net een voorbeeld van die strawwe toestande wat in die eerste week van vanjaar se Dakar-byeenkoms aan die orde van die dag was. Oorstromings in Argentinië het daartoe gelei dat Sneltrajek 1 afgelas is aangesien die diensspanne nag vir nag in oorstroomde kampe moes slaap, behalwe vir die kere dat die son geskyn het, wat tot uiterste hitte en verlammende humiditeit gelei het. Maar die tegnici het deur alles aanhou werk…

“Ek kan hulle nie genoeg lof toesing nie,” het Hall beklemtoon. “Die ouens het ongeag die weer of watter toestande ook al deurgedruk en gedoen wat gedoen moes word. Toe die rusdag uiteindelik aanbreek, het hulle nie ’n oomblik gehuiwer nie ‒ hulle het skouer aan die wiel gesit, die motors kaalgestroop en alles volmaak vir die laaste week van die ren herbou.”

Dinge het halfpad deur die ren vir die Toyota Gazoo Racing SA onindrukwekkend begin lyk. De Villiers/Von Zitzewitz was die beste van die drie Toyota-fabriekspanne en ná amper 30 uur vyfde algeheel. Al Rajhi/Gottschalk was sesde, met Poulter/Howie in die sewende posisie algeheel. Voor hulle het die twee Peugeots van Carlos Sainz en die uiteindelike wenner, Stéphane Peterhansel, die pas aangegee, met die verdedigende Dakar-kampioen Nasser Al-Attiyah (MINI) in die derde plek en die veelvuldige WRC- wenner Mikko Hirvonen (MINI) vierde.

110116_yazeed3_1800x1800

“Maar ons het al geleer die Dakar is ’n lang ren, en word nie in die eerste week gewen of verloor nie.

“Jy moet so vinnig en so bestendig as wat jy kan aanhou, jou eie ren ry, en die uitslag na jou kan toe laat kom,” verduidelik De Villiers. “Dit is presies wat ons gedoen het. Ons het die druk op die voorjaers gehou en dinge so skoon en netjies as moontlik gehou.”

Die ratkas van Carlos Sainz se motor het in Sneltrajek 10 die gees gegee nadat sy spanmaat Loeb in sneltrajek 9 uitgeval het nadat hy sy motor gerol het. Hirvonen het ’n fout gemaak en ook tyd verloor, en skielik was De Villiers/Von Zitzewitz weer deel van die ren. Hulle het tot derde opgeskiet, en net Peterhansel en Al-Attiyah was voor hulle.

“Dinge het nogal spanningsvol geword,” het De Villiers skertsend gesê. “Ons was weer op pad terug na laerliggende dele met ’n paar lang sogenaamde off-piste-gedeeltes waar ons van navigasiepunt tot navigasiepunt jaag en elke jaer sy eie roete moet vind. Dit het so in die kraal van die Hilux geval, en ons kon ons posisie effens verstewig. Maar toe kom die WRC-agtige sneltrajekte aan die einde waar Mikko heeltemal tuis was. Ons het geen keuse gehad as om uit te haal so wat ons kon nie, aangesien hy met alles wat hy gehad het vorendag gekom het in ’n poging om ons van ons derde posisie te beroof.”

De Villiers is egter ’n Dakar-veteraan met dertien byeenkomste agter die rug, en dit is nie maklik om hom te intimideer nie. Poulter/Howie was terselfdertyd onder ewe groot druk van die gewese Dakar-wenner Nani Roma (MINI), wat beteken dit was steeds ’n dolle gejaag op pad wenvlag toe. Yazeed en Gottschalk het intussen bestendig in die elfde plek algeheel gery, maar steeds puik sneltrajektye opgestel.

“Toe kom Sneltrajek 12,” onthou Poulter. “Dit was 481 kilometer lank, die ene kronkels en draaie, en baie moeilik. Ons het besef ons kon nie bekostig om ’n fout te maak as ons Roma agter ons wou hou nie. Terselfdertyd moes ons verseker dat ons die kolossale sneltrajek moes deurry en die Hilux in een stuk hou, en dit was nogal moeilik om ’n goeie balans tussen spoed en risiko te vind.”

Poulter het die presiese balans gevind, die Toyota Hilux die vinnigste van sektor tot sektor geneem, en ná vyf ure was hy meer as twee minute voor sy naasste teenstander.

De Villiers het terselfdertyd ’n puik lopie gehad en soortgelyke tye as Poulter opgestel.

“Ons het almal in die tentkamp om ’n rekenaar gesit en die regstreekse tye wat gereeld deurgegee is, dopgehou. Dit het gelyk asof Leeroy op pad was om sy eerste sneltrajek te wen, en die atmosfeer was uiters gespanne,” het Poulter se vrou en span-fisioterapeut, Michela, gesê. “En toe, toe die tye van die tweede laaste navigasiepunt deurkom, was hy skielik nie meer voor nie…”

Wat gebeur het, is dat Poulter van die ander jaers voor hom op die pad ingehaal en in hul stof beland het, en ’n skerp regsdraai wat toemaak, het die vlieënde Suid-Afrikaner onkant betrap. Die Hilux is van die pad af en het in ’n sloot beland. Dit het hom en Howie twee minute geneem om die motor, wat gelukkig nie ernstig in die voorval beskadig is nie, uit te kry. Hulle was dadelik weer teen dieselfde spoed op pad, maar het net-net te veel tyd verloor en uiteindelik die derde plek in die sneltrajek aangeteken.

Al wat in sneltrajek 13 nog tussen die Toyota Gazoo Racing SA-renspan en twee skitterende uitslae gestaan het, was die laaste 180 kilometer van die laaste sneltrajek. Die laaste sneltrajek bied gewoonlik nie veel geleentheid om ’n paar plekke op te maak nie, maar aangesien Hirvonen minder as vyf minute agter De Villiers was, kon selfs die kleinste foutjie die derde plek aan die Finse jaer oorhandig het.

Die sneltrajek het afgeskop en by die eerste navigasiepunt het Hirvonen reeds twee minute teenoor De Villiers ingehaal, wat die Toyota-jaer se voorsprong halveer het. Maar toe kry De Villiers/Von Zitzewitz hul sit behoorlik en het hulle die gaping reg tot by die einde behou. Verder agtertoe het Poulter/Howie presies dieselfde met Roma gedoen, en die twee Toyota Gazoo Racing SA-jaers het in dieselfde posisies geëindig as waarin hulle die oggend weggetrek het.

“Dit voel amper soos ’n oorwinning om een van ons motors op die wenverhoog te hê,” het Hall gesê. “Vanjaar se mededinging was veral straf, en dit, tesame met die groot hoogtes bo seevlak, het dit vir ons baie moeilik gemaak om mededingend te wees. Giniel en Dirk was egter so bestendig soos altyd, en het ons die podiumposisie besorg wat ons so graag wou gehad het.”

Dit beteken dat De Villiers/Von Zitzewitz nog net een keer nié op die podium was vandat hulle in 2012 na die Toyota-renspan oorgeskuif het nie. Wat Poulter wat aan sy derde Dakar-ren deelegneem het betref, het Hall gesê hy het vanjaar ‘volwasse’ geword.

“Ons weet almal Leeroy is blitsig, en hy het oorgenoeg talent. Die Dakar vereis egter meer as net spoed en talent. Dit is die soort ren waar ’n mens dit gewis nodig het, maar jy het ook ’n bietjie geluk en baie ervaring nodig – en dit is iets wat tyd in beslag neem…”

Poulter/Howie was uiteindelik vyfde algeheel, terwyl hul spanmaats Al Rajhi/Gottschalk in die elfde posisie geëindig het. Die Saoediese jaer en sy Duitse navigator in hul Suid-Afrikaanse bakkie het net soos verlede jaar vir ’n paar oomblikke geskitter. As dit nie was vir die tyd wat hulle in Sneltrajek 10 verloor het nie, sou hulle gewis onder die voorste tien ‒ en moontlik selfs die voorste vyf ‒ geëindig het.

“Vanjaar se Dakar was baie anders as die vorige renne. Ons het meer hoogliggende dele as voorheen gehad, en natter toestande as wat ons nog ooit ervaar het ‒ veral in die eerste week,” het Hall gesê.

“Die skrikwekkende sandduine in die omgewing van Fiambalá het hul deel gedoen, en die off-piste-gedeeltes was so moeilik soos altyd. Ons sou verkies het om ’n bietjie tyd in die Atacama in Chile deur te bring, maar ons is nogtans in ons skik met ons uitslag in vanjaar se ren.”

Die 2016-Dakar-veldtydren het uit 13 sneltrajekte in Argentinië en Bolivia bestaan. Dit was ’n algehele afstand van 9 597 km, waarvan sowat die helfte voet in die hoek teen die stophorlosie was. Altesaam 112 motors het vir die wêreld se strafste motorren aangetree, en net 66 het die eindpunt gehaal – bewys van net hoe moeilik die Dakar werklik is. Daar was 28 Toyotas op die laaste lys uitslae ‒ meer as enige ander fabrikaat. Dit getuig van die legendariese taaiheid en betroubaarheid van Toyota se produkte, en onderskei die vervaardiger van die ander fabrikate wat aan die 2016-Dakar deelgeneem het.

110116_yazeed2_1800x1800

Posted on by jonckie

Comments Off on Dakar 2016 ‘n Klinkende sukses vir Toyota Gazoo Racing SA