Toyota neem tweede en derde plekke in 2015 tydrenkampioenskap

 rally gravel

 

  • Elvéne Coetzee wen tweede agtereenvolgende navigatorskampioenskap
  • Klas S1600-kampioenskap vir Guy Botterill/Simon Vacy-Lyle
  • Toyota wen vervaardigerskampioenskap

Die 2015-Suid-Afrikaanse Nasionale Tydrenkampioenskap is verby, en noudat die stof oor die laaste sneltrajek van die Polokwane-Motor-Tydren, die agtste en ronde van die reeks, gesak het, het die Castrol-Toyota-jaer Leeroy Poulter (Toyota Yaris S2000) as naaswenner uit die stryd getree. Sy navigator, Elvéne Coetzee, het een beter gevaar deur haar tweede agtereenvolgende kampioenskapstitel te wen en die algehele louere in Polokwane ingeoes het.

“Dit was ’n harde seisoen,” het die Castrol-Toyota-spanhoof, Glyn Hall, by die eindpunt van die laaste tydren van die jaar gesê. “Leeroy en Elvéne het pynlik naby daaraan gekom om die kampioenskap wat hulle in 2014 gewen het, suksesvol te verdedig, maar dit het toe net nie so uitgewerk nie.”

Die Polokwane-Motor-Tydren, die toneel van die laaste veldslag van die seisoen, het Vrydag 16 Oktober met vier sneltrajekte suid van die stad in Limpopo begin.

Die dag se eerste sneltrajek is egter afgelas nadat dit ná swaar reën in die omgewing oorstroom is. Die Castrol-Toyota-jaer Giniel de Villiers en sy navigator, Carolyn Swan, het egter geskitter en die eerste dag as vroeë voorlopers afgesluit. Dit het beteken hulle sou op die tweede dag eerste op die pad wees, wat dit bykans onmoontlik gemaak het om hul voorsprong te behou.

Poulter/Coetzee het intussen in die voorlaaste sneltrajek van die dag ’n pap wiel opgedoen, en het nie net tyd teenoor die voorjaers nie, maar veral teenoor die kampioenskapsvoorloper, Mark Cronjé (Ford) verloor. Poulter/Coetzee het die dag ten spyte van hul papwielprobleem net 16 sekondes agter Cronjé en 30 sekondes agter De Villiers/Swan afgesluit.

Toe kom Dag Twee van die tydren, en Poulter/Coetzee het ’n gedugte taak voor hulle gehad. Cronjé en sy navigator, Gerhard Snyman, het egter ’n paar blitsige sneltrajektye vroeg in die dag opgestel terwyl De Villiers/Swan aan die voorpunt gesukkel het om vastrapplek te kry, maar die pad vir die res van die renveld agter hulle skoongevee het.

Dit het Cronjé gehelp om die voortou oor te neem. Hy het tot die einde ten spyte van ’n dapper aanslag deur Poulter/Coetzee, wat deur knaende probleme met hul motor se kragstuur gekniehalter is, voor gebly om die byeenkoms te wen.

“Die kampioenskap het ten spyte van die tegniese uitdagings waarmee ons gespook het, tot reg aan die einde geduur,” het Hall gesê. “Selfs net ’n pap wiel in die heel laaste sneltrajek van die byeenkoms kon die uitslag van die seisoen beïnvloed het.”

Cronjé/Snyman het die Polokwane-Motor-Tydren uiteindelik gewen, waarmee Cronjé ook sy derde kampioenskapstitel (2012, 2013 en nou ook 2015) beklink het. Cronjé se jare lange navigator, Robin Houghton, is vir die laaste twee tydrenne van die 2015-seisoen deur Gerhard Snyman vervang, wat beteken dat die Castrol-Toyota-navigator Elvéne Coetzee as kampioennavigator gekroon is.

De Villiers en Swan het ook baie in die Polokwane-Motor-Tydren op die spel gehad. Hulle was voor die laaste byeenkoms vierde op die punteleer, met die Volkswagen-jaer Gugu Zulu binne trefafstand voor hulle. Al wat hulle nodig gehad het, was ’n sterk eindlopie om tot die derde plek vir die seisoen op te skuif.

Die geveg met Zulu het uiteindelik op ’n nulletjie uitgeloop nadat die Volkswagen-jaer die stryd weens veringprobleme gewonne moes gee. De Villiers/Swan het die seisoen in die derde plek afgesluit, en met Poulter/Coetzee die naaswenners kan dit nie betwyfel word dat 2015 nog ’n groot jaar vir die Castrol-Toyota-renspan was nie.

Wat Klas S1600 vir voorwielaangedrewe motors met enjins van 1,6ℓ betref, het die verdedigende kampioene, Guy Botterill/Simon Vacy-Lyle (Yato-Toyota Etios-S1600) daarin geslaag om hul titel te behou ten spyte van probleme in die laaste byeenkoms van die seisoen. Hulle het veringprobleme met hul gewoonlik uiters betroubare Etios gehad en kon net ’n vierde plek losjaag, maar dit was genoeg om die byeenkoms te voltooi en as die 2015-kampioene gekroon te word, en sodoende nog ’n suksesvolle seisoen te vier.

Hul kampioenskapstitel, tesame met die tweede en derde plekke van die Castrol-renspan, het Toyota die algehele vervaardigerskampioenskapstitel vir 2015 besorg, wat Toyota se oorheersing in moderne tydrenne beklemtoon.

“Dit was ’n teleurstelling dat ons nie weer die kampioenskap gewen het nie,” het Hall gesê. “Ons het egter nogtans ’n baie goeie jaar met puik uitslae gehad.”

Alle oë is nou op die laaste ronde van die Donaldson-veldtydrenkampioenskap, die Atlas Copco-450, wat die laaste naweek in Oktober beslis word. Poulter en sy veldrennavigator, Rob Howie, het daardie kampioenskap reeds bejklink, maar daar is steeds baie ander kampioenskapsposisies vir Toyota op die spel.

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy borge, spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota het ’n wedersydse borgskapsverhouding met Castrol, Toyota Finansiële Dienste, die Innovation-groep, die Imperial Toyota-groep, Bosch, Donaldson, Edgecam, Ferodo, Smith Manufacturing, NGK, SKF, Reiger en Spanjaard.

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota neem tweede en derde plekke in 2015 tydrenkampioenskap