Sneltrajekoorwinning vir Toyota Dakar span in Marokko Tydren

Capture

Die 2015-Marokko-tydren sal vir Giniel de Viliers en sy navigator, Dirk von Zitzewitz, seker nog lank onthou word as ‘wat kon gewees het’, veral as hulle nie soveel tyd in die byeenkoms se openingsneltrajek verloor het nie. Dit is nou egter alles vergete nadat hulle ’n puik vertoning in Marokko in hul Dakar-toegeruste Toyota Hilux met ’n skitterende sneltrajek-oorwinning op die laaste dag van die strawwe vyfdaagse byeenkoms afgesluit het.

“Dit was fantasties om die laaste sneltrajek te wen,” het ’n borrelende De Villiers uit die kusstad Agadir, waar die tydren Vrydagmiddag (9 Oktober) ten einde geloop het, opgewonde gesê. “Wat egter nog belangriker is, is dat ons al ons doelwitte wat die toetswerk vir die Dakar-byeenkoms – wat die eintlike rede vir ons deelname was – suksesvol voltooi het.”

De Villiers/Von Zitzewitz het in die openingsneltrajek van die byeenkoms twaalf minute afgestaan toe ’n dryfas aan hul voertuig die gees gegee het net toe hulle wegtrek en hulle die hele 329 kilometer van dié sneltrajek met net agterwielaandrywing afgelê het.

De Villiers-hulle het die byeenkoms in die algehele vierde plek – 19 minute en 22 sekondes agter die algehele wenner, Nasser Al-Attiyah (MINI) – afgesluit.

“As ons nie al daardie tyd op die eerste dag verloor het nie, sou ’n podiumposisie verseker gewees het, en ons sou heel moontlik die krane oopgedraai het om die voormotor die stryd om die algehele oorwinning aan te sê,” het ’n glimlaggende De Villiers by die eindpunt van die ren gesê.

De Villiers/Von Zitzewich was uiteindelik net meer as twee minute agter hul mede-Toyota Hilux-jaers Yazeed Al Rajhi en sy navigator, Timo Gottschalk, wat op hul beurt net 29 sekondes agter die Russiese jaer Vladimir Vasilyev en sy navigator, Konstantin Zhiltsov, die naaswenners en ook in ’n Toyota Hilux, was.

Wat die Toyota SA Dakar-span se tweede jaer, Leeroy Poulter en sy navigator, Rob Howie, in hul veel ouer Toyota Hilux betref, het die byeenkoms bewys dat selfs ouer toerusting in die regte hande steeds ’n gevaar kan wees.

Poulter-hulle het die byeenkoms in die sesde plek algeheel afgesluit – 31 minute 22 sekondes agter die wenmotor van Al-Attiyah. Hulle is egter met net elf sekondes deur die WRC-sterjaer Mikko Hirvonen (MINI) om die vyfde plek geklop – iets wat dit ’n ongelooflike mededingende byeenkoms gemaak het as ’n mens in ag neem dat die hele ren ’n afstand van 1 358 km behels het.

“Ons het ’n heerlike stryd teen Mikko gehad,” het Poulter, wat vir twee dae van die byeenkoms erg siek was, gesê. “Hy het uiteindelik net-net daarin geslaag om ons in die laaste sneltrajek met ’n kortkoppie te klop, maar dit was steeds ’n fantastiese ervaring.”

Die finale uitslae plaas Nasser Al-Attiyah van Qatar aan die voorpunt van die ren, gevolg deur Vasilyev (+16 minute 45 sekondes), Al Rajhi (+17:14) en De Villiers (+19:22).

Die Marokko-tydren was vir Toyota ’n magsvertoon soos min nadat vyf Toyota Hilux-renbakkies onder die voorste tien oor die wenstreep is.

“Ons is uit die aard van die saak baie tevrede met die uitslag,” het die spanhoof van die Toyota SA Dakar-renspan, Glyn Hall, gesê.

“Ons is egter meer as tevrede met die hoeveelheid toetswerk wat ons vir die komende Dakar-ren gedoen gekry het. Dit was ons eintlike doel, en ons kan nou oppak en huis toe gaan met die wete dat ons al ons toetsoogmerke bereik het.”

Die Marokko-tydren het Maandag 5 Oktober in die suide van die land naby Zagora afgeskop. Daaglikse sneltrajekte in die omgewing het daarop gevolg totdat die byeenkoms Donderdag 8 Oktober na die kusstad Agadir verskuif het. Die byeenkoms het Vrydag 9 Oktober ná die vyfde en laaste sneltrajek wat as die Rondte van Agadir bekend staan, ten einde geloop.

Wat Toyota SA se Dakar-renspan betref, is die wedloop na die 2016-Dakar-veldtydren nou volspoed aan die gang. Daar is nog hope werk om te doen, wat nog toetswerk insluit voordat die 2016-Toyota Hilux-Dakar-voertuie vroeg in Desember Suid-Amerika toe verskeep word. Die Marokko-byeenkoms was ’n belangrike stap in die span se voorbereiding, maar hulle kan nog nie skiet gee voordat die renvoertuie veilig na die Dakar-ren op pad is nie.

Aanhangers kan die Toyota SA Dakar-span volg by www.toyota.co.za, www.facebook.com/toyotasouthafrica of @toyotaSA op Twitter.

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Sneltrajekoorwinning vir Toyota Dakar span in Marokko Tydren