Lof vir Toyota in 2015-Produkgehaltetoekennings

Toyota Quest cleaning

Ipsos Suid-Afrika het pas die 2015-Produkgehaltetoekennings aangekondig, en Toyota Suid-Afrika Motors het uitgeblink met nie minder nie as drie platinum-pryse, ’n goud-toekenning en algehele oorwinning in drie afdelings. Dit bewys net weer dat gehalte absoluut sinoniem met Toyota is.

Toyota het platinum-toekennings vir die beste algehele ligtehandelsvoertuig-fabrikaat (LHV) met ’n telling van 33 foute per 100 eenhede (PP100 van 33), beste eenton-dubbelkajuit-fabrikaat (34) en beste plaaslike aanleg wat ligte handelsvoertuie vervaardig (31) losgeslaan. Toyota het ook ’n goud-toekenning as die beste hoëvolume-passasiersmotor-fabrikaat (31) ontvang, en ook die eerste prys as beste plaaslike aanleg wat passasiersmotors vervaardig (25). Daarbenewens is Toyota ’n duidelike voorloper in die afdeling vir ligte handelsvoertuie met sy vlagskip-Hilux wat die prys as beste petrolaangedrewe enkelkajuitbakkie (26) en die beste diesel-aangedrewe enkelkajuit (31) gekry het.

“Gehalte is een van ons voorkeur-fokusgebiede,” sê Calvyn Hamman, Senior Vise-President van Verkope en Bemarking by Toyota Suid-Afrika Motors. “Ons fokus op bougehalte, duursaamheid en betroubaarheid in elk van ons voertuie. Ons verstaan baie goed dat gehalte nog altyd ’n groot oorweging is wanneer klante voertuie aanskaf, en ons streef daarna om ’n hoë standaard sowel as puik klantediens te handhaaf.”

Toyota was ook die wenner in drie van die elf onderafdelings waaruit die passasiersmotorafdeling bestaan, waaronder die Toyota Auris (beste luikrug), die Toyota Avanza (veeldoelvoertuig) en die Lexus ES (medium sedan). Vier Toyota-voertuie was onder die tien beste voertuie algeheel, wat die Toyota Auris as algehele wenner insluit.

Die Ipsos-peiling is die grootste peiling in sy soort in Suid-Afrika en is deel van Ipsos se gesindikeerde voertuignavorsing. Die peiling behels onderhoude met meer as 30 000 voertuig-eienaars per jaar. Die gehalte-peiling word binne drie maande nadat iemand ’n nuwe voertuig gekoop het, gedoen ten einde te bepaal watter probleme met die nuwe voertuig ondervind is.

Die bedryfsgemiddelde aantal probleme per 100 voertuie (PP100) staan al van 2011 steeds tussen 30 en 40, wat ’n groot verbetering sedert 2005 is toe hierdie syfer op nagenoeg 140 foute per 100 nuwe voertuie behels het.

“Ons het weereens ’n merkbare verbetering teenoor die 2014-syfers gesien, en dit ten spyte van die groter tegnologiese ingewikkeldheid van voertuie,” het die Ipsos direkteur vir die voertuig-sake-eenheid, Patrick Busschau, gesê.

“Suid-Afrikaanse kopers word toenemend meer veeleisend wat produkgehalte en algemene diens betref, maar die plaaslike voertuigbedryf slaag daarin om die dwarslat telkens te verhoog of ten minste op ’n baie hoë vlak te hou.”

Busschau het voorts gesê iets wat veral uit ’n klant se oogpunt gerusstellend is, is “die algemene verbetering in al die deelnemende fabrikate”.

“Ons kan almal as verbruikers vol vertroue wees dat die fabrikate wat hier verteenwoordig word, hulle almal goed van hul taak kwyt deur ons ’n produk te bied wat van wêreld-gehalte is,” het Busschau gesê.

“Vanjaar vier ons onderskeiding in ’n aantal nuwe afdelings, waaronder bestendige uitmuntendheid, nuwemodel-toetredes en voertuie wat die meeste verbeter het, en dít tesame met die hoë aantal goud-toekennings behoort geen twyfel te laat nie dat die verteenwoordigende fabrikate baie het om op trots te wees,” het hy gesê.

Hamman het bygevoeg dat almal baie trots op die uitslag is.

“Ons roem ons op ons gehalte, en wanneer ons klante dit bevestig, wys dit net dat ons moeite op hierdie gebied erkenning kry. Ons het twee oogmerke by Toyota ‒ om immer beter voertuie te skep, en met ’n breë glimlag op elke klant se gesig begroet te word. Ek dink dit bewys aan ons dat ons in die regte rigting koers hou,” het Hamman afgesluit.

Posted on by jonckie

Comments Off on Lof vir Toyota in 2015-Produkgehaltetoekennings