Castrol-Toyota Renspan oorgehaal vir Atlas Copco-450

rally cross country

Die 2015-Donaldson-veldtydrenkampioenskap eindig hierdie naweek met die Atlas Copco-450 wat op 30 en 31 Oktober in die omgewing van Westonaria, Gauteng, beslis word. Dit sal ’n laaste geleentheid vir die Castrol-Toyota-renspan wees om hul oorheersing in die 2015-seisoen te beklemtoon nadat hulle elke ronde in vanjaar se reeks tot dusver gewen het.

“Dit was ’n puik jaar vir ons,” het die Castrol-Toyota-spanhoof, Glyn Hall, op die vooraand van die laaste ren van die seisoen gesê. “Ons het elke ronde tot dusver gewen en die kampioenskap in die voorlaaste ren reeds beklink. Om die laaste ren van die seisoen te wen, sal net die kersie op die koek wees.”

Leeroy Poulter, wat in maar net sy tweede volle seisoen as deel van die Castrol-Toyota-renspan in veldtydrenne jaag, het vanjaar sy voete behoorlik gevind. Poulter het in 2014 steeds aan die Dakar-spesifikasie van die Toyota Hilux-renbakkie gewoond geraak, maar het dit in 2015 duidelik geniet om die plaaslik geboude en ontwikkelde renmonster te tem.

“Dit is baie anders om die Hilux-renbakkie as die tydrenmotor te bestuur,” het Poulter verduidelik.

Hy het die Suid-Afrikaanse tydrenkampioenskap in 2014 vir die Castrol-Toyota-renspan gewen en was die naaswenner in die 2015-reeks.

“Die renbakkie is uit die aard van die saak baie swaarder en aansienlik hoër as die tydrenmotor, maar kan ook baie moeiliker toestande hanteer. Dit het my ’n rukkie geneem om aan alles gewoond te raak.”

Poulter en sy navigator, Rob Howie, het vanjaar vier van die ses rondes in die reeks gewen, terwyl hul spanmaats, die oudkampioene Anthony Taylor en Dennis Murphy, die berugte Toyota-1 000-Woestynren gewen het. Tussen hulle het die twee Castrol-Toyota-renjaers ook elke kwalifiserende ren van die seisoen gewen.

Noudat die kampioenskap reeds beklink is, sal die span hulle in die Atlas Copco-byeenkoms vir die 2016-Dakar-veldtydren begin voorberei.

“Ons sal die twee Hilux-renbakkies wat Suid-Amerika toe gaan gebruik aangesien die span hulle vir die plaaslike reëls sowel as vir die Dakar-ren moet voorberei,” het Hall verduidelik. “Anthony se terugvoer sal baie waardevol wees, en ons hoop om van die veranderings wat ons aangebring het nadat ons vroeër vandeesmaand aan die Marokko-veldtydren gaan deelneem het, te finaliseer.”

Die span hoop ook die rentoestande sal droog wees ten einde die meeste van die ren te maak wat toetswerk betref.

Taylor/Murphy sal die bakkie gebruik waarmee Giniel de Villiers en sy navigator, Dirk von Zitzewitz, in Marokko deelgeneem het, terwyl Poulter/Howie met ’n splinternuwe weergawe sal jaag.

Wat Klas S vir renvoertuie met vaste-as-agtervering en enjins kleiner as vier liter betref, is die stryd om hierdie titel nog springlewendig. Die 4×4 Megaworld-Toyota Hilux-jaers Heinie Strumpher en Henri Hugo is voor die laaste ren aan die bopunt van die punteleer, maar het ’n gaping van net ses punte teenoor die Portugese jaers Rómulo Branco en João Serôdio (Nissan). En om dinge selfs nog interessanter te maak, sal die verdedigende klas-kampioene, Jannie Visser en sy navigator, Joks le Roux (Toyota Hilux), in die Atlas Copco-450 jaag nadat hulle die grootste deel van die seisoen uitgesit het. Dit kan maklik ’n invloed op die uitslag van die ren – en selfs die kampioenskap self ‒ hê.

Die 2015-Atlas Copco-450 word in die omgewing van die Kloof-Buiteklub in Glenharvie beslis, en die kwalifiserende voorren begin Vrydag 30 Oktober om 11:30. Die hoofren begin Saterdagoggend om 7:00 en sal betyds vir die Rugby-wêreldbeker-eindstryd later dieselfde middag, eindig.

Posted on by jonckie

Comments Off on Castrol-Toyota Renspan oorgehaal vir Atlas Copco-450