Een miljoenste Hilux in Suid-Afrika verkoop

Toyota Hilux 1

’n Syfer kan ’n baie insiggewende betekenis hê, en min so indrukwekkend as dié van ’n miljoen…

Die Toyota Hilux, wat ’n staatmaker in die plaaslike ligtehandelsvoertuigmark is, kan nou sy naam met trots aan die woord “miljoen” koppel.

Plaaslike verkope van die Hilux het in Julie vanjaar as bewys van die Suid-Afrikaanse koperspubliek se liefde, respek en vertroue in dié ikoniese bakkie deur die eenmiljoenkerf gebreek.

Die eenmiljoenste bakkie, ’n Hilux-enkelkajuit 3.0 D-4D Legend 45-model, is op 31 Julie 2015 aan die Pretoriase sakeman Shabier Aboobaker verkoop. Mnr. Aboobaker is ’n lojale Toyota-ondersteuner en het al ’n verskeidenheid Toyotas gehad, waaronder ’n 1982-Corolla Sprinter, ’n 1986-Cressida 2.8i (waarvan hy een van die eerste gelukkige eienaars was) en verskillende Camry-modelle waarvan party steeds in sy familie is.

“Ons is ongelooflik trots op wat die voertuig in die plaaslike mark bereik het, en hierdie is net nog bewys dat die Hilux se legendariese betroubaarheid in die harte van klante nes geskrop het,” sê Calvyn Hamman, Senior Vise-President van Verkope en Bemarking by Toyota Suid-Afrika. “Dit is ook ’n groot prestasie vir ons vervaardigingsaanleg in Durban, waar die bestaande Hilux vervaardig word.”

Motorsport-prestasie

Toyota het die afgelope sewe vervaardigerskampioenskappe in die Suid-Afrikaanse Veldtydrenkampioenskap, wat voorheen as die SA Veldrenkampioenskap bekend gestaan het, agtereenvolgens gewen met die Hilux in die hande van die oudkampioenjaer Duncan Vos, die verdedigende kampioen Anthony Taylor en die huidige kampioenskapsvoorloper, Leeroy Poulter.

Die Hilux het in internasionale mededinging ewe goed gevaar. Die Suid-Afrikaans ontwikkelde en plaaslik geboude Hilux-renbakkie het met die voormalige Dakar-wenner Giniel de Villiers agter die stuur ’n derde plek in die voertuig se heel eerste Dakar-ren in 2012 aangeteken. In 2013 was die Hilux een beter deur as naaswenner uit die stryd te tree, in 2014 was hy vierde en in 2015 weer in die tweede plek in wat as die wêreld se mees uitdagende motorren beskou word.

Die Hilux het buite die plaaslike kollig ook aan ’n verskeidenheid internasionale renne as deel van die FIA se Veldtydren-wêreldbekerreeks deelgeneem. Die Finse jaer Tapio Suominen het die openingsronde van die 2015-Wêreldbekerren in Rusland gewen, terwyl die Brasiliaanse jaer Reinaldo Varela derde algeheel was – al twee agter die stuur van Suid-Afrikaanse Toyota Hilux-renbakkies.

Varela het benewens sy algehele oorwinning in ’n sewedaagse ren in Brasilië nog ’n derde plek in die Sealine-veldtydren in Qatar aangeteken, terwyl die Dakar-sensasie Yazeed Al-Rajhi vanjaar as naaswenner in die Rallye de Pharaohs in Egipte geëindig het.

Toyota het ’n tweede en ’n derde plek in Italië aangeteken met Varela die naaswenner en die Russiese jaer Vladimir Vasilyev derde.

Die Hollandse jaer Bernhard ten Brinke was in die mees onlangse ronde van die reeks, die Baja in Hongarye, tweede – nog ’n sterk internasionale vertoning deur die plaaslik-ontwikkelde Toyota Hilux-renvoertuig.

toyota Hilux 2

’n Spesiale Hilux vir ’n spesiale prestasie

Toyota SA Motorsport het ter aandenking van nie net die blote aantal Hilux-voertuie wat al vervaardig is nie, maar ook sy ongeëwenaarde sukses as renvoertuig, ’n eensoortige Hilux gebou.

Die voertuig, wat as die Toyota Hilux Racing Experience bekend staan, is ter viering van die Hilux gebou.

Die hart van die renweergawe van die Toyota Hilux is die kragtige en veelsydige Lexus IS-F V8-enjin. Dit is ter viering van sy rensukses ook die enjin wat in die Toyota Hilux Racing Experience aangetref word.

Dit is danksy die meer as 335 kW wat teen 6 000 r/min beskikbaar is waarskynlik die kragtigste Toyota Hilux wat nóg gebou is.

Die Hilux Racing Experience is egter baie meer as net ’n Toyota Hilux met ’n groot enjin – dit is ’n voertuig wat kunstig gebou is en ’n magdom tegnologie wat in Toyota se renvoertuie ingespan word, bevat.

Die enjinbeheerstelsel is byvoorbeeld met ’n Pectel Cosworth-stelsel vervang, wat die beste uit die voertuig se direkte brandstofinspuiting haal. Die oliebak is omgebou om plek vir die Hilux-produksieweergawe se vooras te maak, wat ’n nuwe ratverhouding het. Die agterste ewenaar het soortgelyke behandeling ontvang, terwyl die inlaatspruitstuk tot Dakar-spesifikasie omgebou is, wat die wringkrageienskappe van die enjin aansienlik verhoog.

’n Nuwe alternator en kragstuurpomp en ’n nuwe lugversorgingskompressor word ingespan.

Die bedradingsharnas is tot Dakar-spesifikasie opgegradeer, ’n volwaardige buis-uitlaatstelsel is aangebring, en die ratkashulsel is aangepas ten einde die ratkas aan die IS-F-enjin te koppel.

“Die ombouings is nogal omvattend,” sê Glyn Hall van Toyota SA Motorsport. “Maar ’n mens kan ook nie net al die krag en ander speelgoed bysit sonder om seker te maak dat die voertuig dit kan hanteer nie.”

Die veerstelsel is dus ook opgegradeer met volle verstelling vir die voorste skokbrekers, terwyl die hele voertuig 50 mm laer as die produksieweergawe gemaak is. Die stuurverhouding is aangepas om vinniger stuurbewegings deur te voer terwyl groot 9×18”-wiele aangebring is.

“Al hierdie verbeterings kom saam met die AIM elektroniese voorpaneel, wat ten volle by die Pectel-enjinbeheerstelsel ingeskakel is en die bestuurder in ware motorsport-gebruik van ’n omvattende reeks enjininligting voorsien.”

Die gevolg is ’n goed-gebalanseerde bakkie met uitstaande verrigting wat niks op die gebied van hantering prysgee nie – eintlik ’n padweergawe van die ren-Hilux met motorsport-DNS en wat die bestuurder die ervaring van Toyota SA Motorsport se renvoertuie bied.

KERN-SPESIFIKASIES:

Enjin:                          Lexus IS-F 2UR-GSE

Uitleg:                         V8

Verplasingsinhoud: 5 000 cc

Enjinbeheerstelsel: Pectel Cosworth, direkte inspuiting

Kraglewering:           335 kW @ 6 000 r/min

Wringkrag:                 600 Nm @ 3 250 – 4 500 r/min

Remme:                     Power Brake (SA-verskaffers vir Toyota se Dakar-Hilux-voertuie)

350 mm-skywe met aluminium 4-suier-remknypers

Vering:                       Volledig verstelbare skokbrekers voor en agter

Ryhoogte:                  50 mm laer as gewone weergawe

Wiele:                         18×9

Uitlaatstelsel:                        Buisstelsel met Dakar-spesifikasie-luginlaat

Ratkas:                       Gewone Toyota Hilux D-4D

Ewenaars:                 Gewone Toyota Hilux D-4D voor en agter met nuwe verhouding van 4.375

Koppelaar:                 Dubbelplaat-AP Racing

Instrumente:              AIM-Elektroniese voorpaneelwat by Pectel-enjinbeheerstelsel geïntegreer is

Toyota Advanced Driving (TAD)

Toyota Suid-Afrika Motors het ’n trotse vennootskap met Toyota Advanced Driving (TAD) om verantwoordelike bestuur en padveiligheid te bevorder.

TAD het as die Continental-veldry-akademie ontstaan en is in 1990 gestig.

Die akademie was verantwoordelik vir die suksesvolle bekendstelling van die Camel Trophy-byeenkoms in Suid-Afrika. TAD is in 2007 amptelik geregistreer om in al Toyota Suid-Afrika se behoeftes vir gevorder bestuur te voorsien. Die registrasie was die gevolg van ’n noue samewerkingsverhouding van twaalf jaar met Toyota.

TAD het sedert 2007 tot ’n volwaardige bestuursakademie gegroei wat opleiding aan Toyota Suid-Afrika, private eienaars en handelaars voorsien.

Hoewel die hoofkantoor in Gauteng is, doen TAD ook opleiding landwyd en in ses Afrika-lande. TAD is ook die enigste verteenwoordiger vir Test & Training – QAMTC in Suid-Afrika.

QAMTC is die Europese Automobiel-Assosiasie en die internasionale leiers op die gebied van bestuurdersopleiding.

Besoek ook:

Vehicle Finance, Car Insurance and Road Safety

Buying and Selling a Vehicle – Informed decisions and the Vehicle Retailer

Posted on by jonckie

Comments Off on Een miljoenste Hilux in Suid-Afrika verkoop