Poulter en Taylor slaggereed vir stryd in Malalane

CaptureDie skrale 14 punte tussen die Castrol-Toyota-jaers Leeroy Poulter en Anthony Taylor aan die voorpunt van die Donaldson-veldtydrenkampioenskap hou groot belofte in vir ’n tweestryd soos min tussen dié twee Toyota Hilux-jaers in hierdie naweek se Nkomazi-450 in Malalane, vierde ronde uit die reeks van ses.

Poulter en sy navigator, Rob Howie, oorheers die reeks tot dusver nadat hulle die eerste twee renne gewen het. Hulle het hul posisie aan die bopunt van die punteleer versterk toe hulle in Junie die eerste van die moordende Toyota-1000-Woestynren se twee rondes gewen het. Taylor en sy navigator, Dennis Murphy, is die verdedigende Suid-Afrikaanse kampioene, en hoewel Poulter die eerste hou geplant het, het Taylor seker gemaak hy blymet ’n derde en twee tweede plekke vir die seisoen tot dusver binne bereik. Daarbenewens het hulle die tweede ronde van die Toyota-1000-Woestynren in Botswana gewen, wat hulle tot net 14 punte agter hul stalmaats laat opskuif het.

“Maar iets wat selfs nog belangriker is, is dat ons naaste mededinger, Gary Bertholdt (Ford) ’n hele 53 punte agter Anthony is,” sê die spanhoof, Glyn Hall. “Ons het dus ’n gesonde voorsprong met nog drie renne oor.”

Bertholdt deel die derde plek met Lance Woolridge, wat ook in ’n Ford jaag.

Wat Klas S vir voertuie met enjins tot vier liter en met vaste agtervering betref, is dit Heinie Strumpher en Henri Hugo aan die bopunt van die punteleer. Dié 4×4 Mega World-Toyota-Hilux-span het ’n goeie seisoen tot dusver gehad, waaronder ’n dubbele topvyf-vertoning in die onlangse Toyota-1000-Woestynren.

Die Nkomazi-450 word hierdie naweek (7 en 8 Augustus) in en om Malalane in Mpumalanga beslis. Dit is die tuisgrond van die broers Johan en Werner Horn, wat verlede jaar ’n fantastiese seisoen gehad het, maar tot dusver vanjaar spook om dieselfde te lewer. Hulle jaag in die Malalane-Toyota-Hilux, en sou graag ’n goeie vertoning voor hul tuisskare wil opstel.

Die roete vir vanjaar se Nkomazi-450 is soortgelyk aan dié van verlede jaar, maar loop in die teenoorgestelde rigting. Die ren begin met die kwalifiserende voorren oor 100 kilometer, wat Vrydag om 11:30 begin. Saterdag se hoofren, wat om 8:30 begin, bestaan uit twee rondtes van 175 km elk. Die renhoofkwartier is by die Riverview-voorbereidingskool, wat ook die ligging vir die aangewese dienspunt sowel as die wegspring- en eindpunt is.

Besoek ook:

Safe Driving on Gravel Roads

Capture 2

Posted on by jonckie

Comments Off on Poulter en Taylor slaggereed vir stryd in Malalane