Eerste algeheel vir Poulter/Howie in die Nkomazi-450

woods

Die voorjaers in die Donaldson-veldtydrenkampioenskap reg van die begin van die jaar af, Leeroy Poulter en sy navigator, Rob Howie (Castrol-Toyota Hilux) het hul voorsprong aan die bopunt van die punteleer met ’n puik oorwinning in die Nkomazi-450 vergroot. Die byeenkoms was die vierde ronde uit die reeks van ses. Poulter-hulle oorheers die 2015-kampioenskap geheel en al nadat hulle nou drie van die seisoen se vier renne tot dusver en die eerste skof in die moordende Toyota-1000-Woestynren in Botswana gewen het.

“Leeroy en Rob het na vore gekom en die pas regdeur die seisoen aangegee,” het die oorstelpte spanhoof, Glyn Hall, by die eindpunt van die ren by die Riverview-voorbereidingskool in Malalane in Mpumalanga gesê. “Hierdie laeveldse oorwinning plaas hulle nou in ’n baie sterk posisie vir die kampioenskap.”

Poulter/Howie is nou ver voor hul spanmaats, Anthony Taylor en sy navigator, Dennis Murphy, wat hul tweede plek in die reeks behou ten spyte van die feit dat hulle nie die Nkomazi-450 voltooi het nie. Hul Castrol-Toyota-Hilux se stuur is beskadig toe hulle vir ’n gestrande deelnemer uitgeswaai en ’n klip getref het.

“Dit was ’n teleurstellende naweek vir Anthony en Dennis, veral as ’n mens in ag neem dat hulle in so sterk posisie gekwalifiseer het. Hulle was regdeur die ren ook reg op Leeroy en Rob se Hilux se stert,” het Hall bygevoeg.

Die twee Castrol-Toyota Hilux-renmotors het die eerste en tweede plekke in die voorren vir die Nkomazi-450 losgejaag. Die voorren strek oor ’n afstand van 100 kilometer en word gebruik om die wegspringposisies vir die hoofren te bepaal.

Poulter/Howie was die vinnigste van almal in die voorren en het 1 minuut 32 sekondes vinniger as Talyor/Murphy gevaar. Taylor/Murphy, wat die verdedigende kampioene is, het in die hoofren aanvanklik ’n bietjie tyd aan die voortsnellende Poulter/Howie afgestaan, maar toe die gaping op nagenoeg 5 minute vir die res van hul ren gestabiliseer. ’n Ramp het hulle egter in die tweede 175km-rondte van die ren oor 350 km getref, en Taylor/Murphy moes hulle noodgedwonge aan die ren onttrek.

Dit was egter nie alles net voet in die hoek vir Poulter/Howie nie, al het hulle die ren met ’n voorsprong van meer as 20 minute teenoor die naaswenners, Jurgen Schröder en sy navigator, Max Schröder, (Nissan Navara) kafgedraf. ’n Stuk doringdraad met vier ysterpale aan het in die tweede ronde in Poulter-hulle se Hilux verstrengel geraak en om die linker-agterwiel van hul voertuig gedraai. Hulle het ’n pap wiel as gevolg daarvan opgedoen en gespook om die wiel te ruil aangesien die gekoekte doringdraad in die pad was.

“Die draad was so styf om die wiel en dryfas gedraai dat ons dit nie kon loskry nie. Ons het net-net daarin geslaag om die wiel te ruil en net so verder gery en vir die beste gehoop. Ons voorsprong was gelukkig groot genoeg sodat ons ’n bietjie stadiger kon ry om seker te maak dat ons die eindpunt in een stuk haal.”

Die volgende ronde van die Donaldson-veldtydrenkampioenskap is die Vryburg-uithouren, wat op 11 en 12 September in en om Vryburg in die Noordwes-provinsie aangebied word. Die roete strek oor bykans 650 kilometer en is die tweede (en laaste) van die 2015-seisoen se sogenaamde uithourondes.

Besoek ook:

Safe Driving on Gravel Roads

Posted on by jonckie

Comments Off on Eerste algeheel vir Poulter/Howie in die Nkomazi-450