Dubbele Podium vir Castrol-Toyota in Port Elizabeth

 PE Rally

  • Eerste algeheel vir Leeroy Poulter en Elvéne Coetzee (Toyota Yaris-S2000)
  • Derde algeheel vir Giniel de Villiers en Carolyn Swan (Toyota Yaris-S2000)
  • Naaswenners in Klas S1600 vir Matthew Vacy-Lyle en Schalk van Heerden (Toyota Etios S1600)

Dit was ’n harde stryd, maar die Castrol-Toyota-jaer Leeroy Poulter en sy navigator Elvéne Coetzee het die 2015-Volkswagen-tydren in Port Elizabeth, die vyfde ronde van die Suid-Afrikaanse Nasionale Tydrenkampioenskap, gewen. Dit was die herlewende verdedigende kampioene se tweede agtereenvolgende algehele oorwinning vanjaar.

Poulter/Coetzee se Toyota Yaris-S2000 het soos klokslag geloop, terwyl dieselfde van die tweelingmotor van hul spanmaats Giniel de Villiers en Carolyn Swan, wat derde algeheel was, gesê kan word.

“Dit was ’n fantastiese naweek vir ons,” het ’n oorstelpte Glyn Hall, hoof van die Castrol-Toyota-renspan, ná die tydren gesê. “Hierdie is van al die tydrenne regdeur die seisoen die een wat die jaers die graagste wil wen.

“Die Longmore-plantasie se sneltrajekte is berug as die moeilikste op die tydrenkalender, en Leeroy het sy staal gewys deur die langste daarvan ten spyte van gietende reën wat die roete in ’n pappery omgeskep het, te wen.”

Poulter/Coetzee het in die ses sneltrajekte van Dag Een van die 2015-VW-Tydren ’n handige voorsprong van 35,8 sekondes teenoor die naasvoorlopers en huidige kampioenskapsvoorlopers, Mark Cronjé en Robin Houghton (Ford Fiesta) opgebou. Dag Twee het grys en reënerig aangebreek, en dit was gou duidelik dat die res van die byeenkoms in uiterste toestande beslis sou word. Toe die hemelpoorte oor die Oos-Kaap oopmaak, het Poulter daarin geslaag om sy voorsprong voor in die renveld te behou, en Cronjé wat in wat uiteindelik die laaste sneltrajek van die byeenkoms was, hard van agter af gedruk het, op ’n afstand gehou.

Die ses sneltrajekte wat vir die laaste dag beplan is, sou die byeenkoms by die ovaalrenbaan in Port Elizabeth laat afsluit, maar die swaar reën het dié supersneltrajek wat die toneel van Sneltrajekte 11 en 12 sou wees, geheel en al oorstroom. Dit het die 2015-Volkswagen-Tydren voortydig laat eindig, wat beteken het dat Poulter/Coetzee die byeenkoms in die Longmore-plantasie reeds beklink het. Hulle het die gaping agter die kampioenskapsvoorlopers (Cronje/Houghton) sodoende met nog vier punte verklein. Dié Castrol-renspan is nou net nege punte agter in die algehele kampioenskap, en daar is nog drie rondes oor.

Die Volkswagen-Tydren het Giniel de Villiers en Carolyn Swan in die tweede Castrol-Toyota-Yaris-S2000 die geleentheid gebied om tot die derde plek in die kampioenskap op te skuif, en dit is presies wat hulle gedoen het toe hulle derde algeheel in die byeenkoms was. Dit was twee plekke beter as hul naaste teenstanders, Gugu Zulu en Hilton Auffray (Volkswagen Polo).

“Giniel en Carolyn het fantasties gejaag en by die tye van die jaers voor hulle gehou,” het Hall hul vertoning beskryf. “De Villiers-hulle se spoed regdeur die byeenkoms was briljant, en hulle het bewys dat hulle die stryd tot in die kamp van enige ander span in die reeks kan neem.”

Wat Klas S1600 vir voorwielaangedrewe 1,6ℓ-motors betref, het Matthew Vacy-Lyle en sy navigator, Schalk van Heerden (Toyota Etios S1600), as naaswenners ’n kortkop agter die VW Polo van Paul Franken en Henry Kohne geëindig.

Die huidige kampioenskapsvoorlopers in dié afdeling, Guy Botterill en Simon Vacy-Lyle, het op dag een uitgeval nadat hulle ratkasprobleme opgedoen het.

Die volgende ronde in die 2015-kampioenskap is die Cullinan-Motor-Tydren, wat op 14 en 15 Augustus beslis word. Dié byeenkoms, wat die sesde ronde van die agt in die kampioenskap is, sal ’n deurslaggewende byeenkoms in die finale uitslag van die kampioenskap wees.

PE Rally 2

Posted on by jonckie

Comments Off on Dubbele Podium vir Castrol-Toyota in Port Elizabeth