Toyota behou voorsprong in voertuig verkoopstryd

 Toyota Quest cleaning

 

Marksegment Mei 2014 Mei 2015 %-verandering
Passasiersvoertuie 32 974 31 201 -5,4%
Ligte handelsvoertuie 13 837 14 182 2,2%
Medium handelsvoertuie 820 787 -4%
Swaar handelsvoertuie 444 433 -2,4%
Ekstraswaar handelsvoertuie 1 232 1 133 -8%
Busse 106 132 24,5%
Uitvoer 15 595 33 411 114,2%
Algehele mark (plaaslik) 49 449 47 868 -3,2%

Toyota Suid-Afrika Motors het die afgelope maand sy posisie as markleier behou nadat hy 8 043 eenhede vir ’n markaandeel van 16,8% verkoop het. Die fabrikaat het ook sy voorsprong in die afdeling vir algehele ligte voertuie met ’n markaandeel van 25,2% behou.

“Hoewel ons mededingers groot munt uit spesiale ooreenkomste met die staat en groot vlote geslaan het, is ons doodtevrede met Toyota se vertoning in Mei en die feit dat ons die vyfde agtereenvolgende maand ons status as markleier gehandhaaf het,” sê Calvyn Hamman, Toyota Suid-Afrika se Senior Vise-President vir Verkope en Bemarking, en voeg by dat handelaarsverkope vir Toyota se kernprodukte (waaronder die Hilux, Corolla en Fortuner) 75% van sy verkope behels. “Dit is veral van belang aangesien dit op die gebied van verkope op ’n stewige verbintenis deur ons handelaarsnetwerk en klantelojaliteit wat ons hoog op prys stel, dui.”

Die algehele nuwevoertuigmark het die tweede agtereenvolgende maand ’n effense daling van 3,2% teenoor dieselfde tydperk verlede jaar beleef, terwyl passasiersmotorverkope met 5,4% gedaal het.

“Die daling in veral die afdeling vir passasiersmotors dui op omsigtigheid onder die breër motorkoperspubliek – iets wat toegeskryf kan word aan onsekerheid oor die brandstofprys, nutsdienste, dreigende rentekoersstygings en hoër voertuigpryse,” sê Hamman, en voeg by dat Toyota se afdeling vir gebruikte voertuie, Automark, verkope van altesaam 3 418 eenhede in Mei – effens hoër as die vorige maand – aangeteken het.

“Hierdie neiging, tesame met ’n skuif na kleiner intreevlak-voertuie, bevestig dat verbruikers ’n versigtige benadering in die lig van ekonomiese onsekerheid het.”

Nog ’n kommerwekkende neiging is die voortgesette daling in motorverhuringsverkope wat met 19,5% teenoor dieselfde tydperk verlede jaar gedaal het. “Hoewel hierdie afname gedeeltelik aan koopsiklusse toegeskryf kan word, kan ’n mens nie anders nie as om te dink aan die uitwerking wat nuwe reiswetgewing op toerismegerigte bedrywe soos motorverhuringsmaatskappye het,” sê Hamman.

Wat vragmotorverkope betref, het Hino Suid-Afrika ’n stewige 316 eenhede van die hand gesit, wat dié fabrikaat met ’n markaandeel van net onder die 13% in ’n stewige derde posisie plaas.

“Die medium en  swaar handelsvoertuigsegmente, wat van belegging afhanklik is, toon ’n bestendige daling van maand tot maand wat hoofsaaklik toegeskryf kan word aan minder koopaktiwiteit weens vervangingsiklusse wat gewoonlik op ’n grondslag van vyf jaar werk, tesame met ’n algemene afname in sakevertroue,” sê Hamman.

Topverkopers in die Toyota-stal was die Hilux (2 608 eenhede), die Corolla/Auris/ Quest-kombinasie (1 400 eenhede) en die RAV 4 wat steeds los voor in die afdeling vir klein sportnutse is waar 416 eenhede in Mei van die hand gesit is.

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota behou voorsprong in voertuig verkoopstryd