Poulter / Coetzee wen Bela-Bela Tydren

 bela bela

  • 1e algeheel vir Poulter/Coetzee (Castrol-Toyota Yaris S2000)
  • 1e in Klas S1600 vir Botterill/Vacy-Lyle (Yato-Toyota Etios)
  • 3e in Klas S1600 for Vacy-Lyle/Van Heerden (Fragram-Toyota Etios)
  • Toyota wen Vervaardigersprys

Die verdedigende Suid-Afrikaanse Nasionale Tydrenkampioene, Leeroy Poulter en sy navigator, Elvéne Coetzee, het ’n bykans volmaakte vertoning in die Bela-Bela-tydren gehad toe hulle dié byeenkoms, die vierde ronde van die Suid-Afrikaanse Nasionale Tydrenkampioenskap, op fantastiese wyse gewen het.

Dié Castrol-Toyota-jaers het elke sneltrajek op die eerste dag van die byeenkoms gewen, en op die tweede dag voortgejaag om die res van die renveld onder druk te hou. Poulter-hulle het die tien sneltrajekte van die tydren uiteindelik 28,8 sekondes voor die naaswenners, die oudkampioene Mark Cronjé en Robin Houghton (Ford Fiesta), kafgedraf.

“Ons Castrol-Toyota Yaris S2000 het absoluut foutloos gejaag en ons is baie in ons skik met ons pas regdeur die byeenkoms,” het ’n glimlaggende Poulter by die eindpunt in Bela-Bela, wat voorheen as Warmbad bekend gestaan het, gesê.

“Dit is presies wat ons nodig gehad het om ons hoop op die kampioenskap aan die gang te hou.”

Die heel eerste Nalsionale Tydrenkampioenskapsbyeenkoms is einde verlede jaar die eerste keer in en om Bela-Bela gehou, maar toe was dit reeds vroegsomer. Vanjaar se tydren was in die hartjie van die winter, wat uiterste stowwerige en sanderige toestande opgelewer en die deelnemers van ’n strawwe uitdaging voorsien het.

“Ons het die pas egter ten spyte van die heersende toestande van meet af aangegee,” het die spanhoof, Glyn Hall, gesê. “Ons het ná die vorige byeenkoms ’n paar veranderings aan die motor aangebring, en dit het hierdie naweek gewis vrugte afgewerp – veral as ’n mens in ag neem dat Giniel en Carolyn op dag een ook die pas volgehou het.”

Giniel de Villiers en Carolyn Swan, wat in die tweede Castrol-Toyota Yaris jaag, het in die eerste drie sneltrajekte houe met die Volkswagen-jaers Hergen Fekken en sy navigator, Pierre Arries, in ’n strawwe stryd om die derde plek agter Poulter aan die voorpunt en Cronjé in die tweede plek gewissel. ’n Pap wiel in Sneltrajek 4, die laaste vir die eerste dag, het De Villiers/Swan amper 50 sekondes gekos, wat hulle ’n hele paar plekke laat terugsak het.

“Dit was ’n groot slag vir ons,” het De Villiers, ’n voormalige Dakar-wenner, oor dié voorval gesê. “’n Mens kan op ’n byeenkoms soos kort en knap soos hierdie net nie bekostig om amper ’n hele minuut te verloor nie. Dit haal jou dadelik uit die stryd.”

De Villiers-hulle het egter deurgedruk en op Dag 2 steeds skitterende tye opgestel, terwyl ’n hele paar kernjaers voor hulle foute begaan het. Fekken/Arries was op pad na ’n podium-posisie, maar het ’n walletjie getref wat een van hul motor se wiele verwoes het. Dit het nie net die private jaer Japie van Niekerk en sy navigator, Gerhard Snyman (Ford), tot derde verhef nie, maar ook De Villiers/Swan weer laat opskuif.

“Ons was met ’n bietjie geluk terug in die stryd om die derde plek,” het De Villiers erken, “maar Japie het daarin geslaag om ons en Gugu Zulu (Volkswagen) agter hom te hou. Japie het die laaste podiumposisie beklink, gevolg deur Gugu in die vierde plek en ons vyfde.”

Wat Klas S1600 vir voorwielaangedrewe motors met enjins van 1,6ℓ betref, was dit weer die verdedigende kampioene, Guy Botterill en Simon Vacy-Lyle, wat die louere ingeoes het. Hulle het hul Yato-Toyota Etios tot ’n tweede agtereenvolgende klasoorwinning aangevoer, wat hulle weer op dreef het om hul 2014-titel suksesvol te verdedig nadat hul seisoen met ’n effense wipplankryery begin het.

“Ons het nie in die openingsrondes van die kampioenskap juis baie goed gevaar nie,” het Botterill gesê nadat hy die kans gehad het om die vonkelwyn van die boonste trappie van die rostrum af te spuit. “Ons het egter ons klas in Secunda en nou weer hier in Bela-Bela gewen, en is nou behoorlik terug in die stryd.”

Botterill/Vacy-Lyle het die Ford-jaers Chad van Beurden en Nico Swartz met meer as ’n minuut geklop. Van Beurden/Swartz was eintlik gelukkig om die tweede plek te beklink nadat hulle net 1,4 sekondes voor Matthew Vacy-Lyle en Schalk van Heerden (Fragram-Toyota Etios) was.

Van Beurden/Swartz het hulle op Dag 2 ’n boetetyd van 20 sekondes op die hals gehaal, maar daarin geslaag om net genoeg te doen om Vacy-Lyle/Van Heerden in die stryd om die tweede plek te klop.

Toyota het weens die span se algehele oorwinning sowel as ’n eerste en derde plek in Klas S1600 ook die vervaardigersprys vir die byeenkoms gewen.

Noudat die Bela-Bela-Motor-tydren verby is, het die Suid-Afrikaanse Nasionale Tydrenkampioenskap die halfpadkerf bereik. Die vyfde ronde van die reeks van agt is die komende en skouspelagtige Volkswagen-tydren, wat weer in en om Port Elizabeth aangebied word. Vanjaar se byeenkoms word op 17 en 18 Julie beslis en beloof om so nat en wild soos altyd te wees, met van die tradisionele sneltrajekte in die vreesaanjaende Longmore-plantasies weer op die spyskaart.

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy borge, spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota het ’n wedersydse borgskapsverhouding met Castrol, Toyota Finansiële Dienste, die Innovation-groep, die Imperial Toyota-groep, Bosch, Donaldson, Edgecam, Ferodo, Smith Manufacturing, 4×4 Mega World, NGK, SKF, Reiger en Spanjaard.

Besoek ook:

Safe Driving on Gravel Roads

Posted on by jonckie

Comments Off on Poulter / Coetzee wen Bela-Bela Tydren