Splinternuwe Toyota Hilux herdefinieer “taai”

Hilux 2015

Die agtste geslag van Toyota se immer gewilde Hilux is vandag amptelik in Bangkok onthul waarna verkope van dié splinternuwe model in Thailand sal begin… en dit was gewis die wag werd.

Hilux, een van die wêrdeld se bekendste en mees geliefde handelsname, was in 1968 die eerste keer in handelaarskappe, en meer as 16 miljoen eenhede is sedertdien in meer as 180 lande van die hand gesit. Toyota sal vanjaar digby een miljoen daarvan net in Suid-Afrika vier.

Die splinternuwe Hilux, wat geheel en al van die binnekant af buitentoe herontwerp is, bied ’n ingrypend weelderige binneruim in ’n gekunstelde, netjies gevormde nuwe romp, en bied uitstaande padryverrigting en nuwe tegnologie terwyl hy terselfdertyd getrou bly aan sy kernwaardes van ongeëwenaarde veldryvermoë en natuurlik ook sy legendariese taaiheid.

Maar wat beteken “taai” eintlik? Dit is die vraag wat ons by Toyota onsself gevra het toe ons die massiewe taak gekry het om die agtste weergawe van die Hilux te ontwerp.

Ons het besef dat blote taaiheid nie net uit die voertuig kom nie; dit geld ook die insittendes. Of jy nou teen ’n modderige steilte opsukkel of die nougesetheid van die stedelike oerwoud aandurf, is dit ewe belangrik om spanning agter die stuur te verlig as wat dit is om die elemente te oorwin.

Dit is hoekom die nuwe Hilux ten spyte van die feit dat die model se kenmerkende gehardheid en verrigting verbeter word, taaiheid herdefinieer deur meer op sy insittendes gefokus te wees en nog makliker as ooit bestuur.

Om werklik te verstaan wat ons klante van ons verwag en ’n gevoel te kry van die uitdagings waarmee hulle elke dag te doen kry, het ons ontwikkelingspanne regoor die wêreld (van Caracas tot Kommetjie) gereis om regstreekse terugvoer by Hilux-klante te kry en ook op ’n wye verskeidenheid paaie te ry om ’n eerstehandse gevoel vir hul uiteenlopende gebruikstoestande te kry.

Die span het vir aansporing vir die ontwerp van die agtste geslag Hilux in toestande gery wat gewissel het van rowwe, modderige woude tot woestyne met ’n gemiddelde temperatuur van oor die 50°C, sowel as oorstroomde paaie in die reënseisoen. Hulle het soms op erger toestande afgekom as wat hulle verwag het, wat die behoefte om ’n selfs nog taaier Hilux te ontwerp, net versterk het.

Die ontwikkelingsproses het ook waardevolle terugvoer behels wat regstreeks van Hilux-bestuurders af gekom het. Party sou graag dwars oor die vasteland wou reis sonder om hulle te bekommer dat hulle sonder brandstof gaan staan. Ander het beskryf hoe moeilik dit is om op moordende lang ritte met lang rybeurte op rowwe oppervlakke wakker te bly. Nog ander, wat hul Hilux’e vir bosbou-instandhoudingswerk gebruik en gereeld oor tweerigting-radios met die polisie en brandweer praat, het verduidelik dat ’n stil kajuit noodsaaklik vir goeie kommunikasie is.

Hilux 2015  2

Dit het die ontwikkelingspan tot die gevolgtrekking gebring dat die nuwe Hilux nie net taaier moet wees nie, maar spanning ook so veel as moontlik moet verlig. Buiten die gewone taaiheid pronk die agtste weergawe van die Hilux ook met die soort ritgemak wat lang, moeilike ritte geriefliker maak, ’n stil kajuit wat kommunikasie in alle toestande moontlik maak, en ’n langer reikafstand danksy verbeterde brandstofodeltreffendheid.

Ter opsomming – net soos in die geval van die huidige weergawe is Toyota se QDR (gehalte, duursaamheid en betroubaarheid) steeds die ruggraat van die nuwe Hilux.

Die woord “doelgebou” is iets wat die nuweling volmaak beskryf – hetsy jy dit vir ontspanning, as werkesel, vir boerdery of in die algemeen gebruik, is daar ’n Hilux vir jou.

Hoewel die agtste geslag Hilux ’n splinternuwe model is, bou hy voort op die bestaande model se suksesverhaal wat herverkoopwaarde en begeerlikheid betref. Moet ook nie vergeet dat die Hilux verlede jaar die topverkoper-voertuig sowel as die topverkoper-bakkie in Suid-Afrika was nie. Wat 2015 betref, is die huidige model steeds aan die bopunt van die lys, en die rede daarvoor is voor-die-hand-liggend: die sewende generasie is met die jare verbeter en bied nou gevorderde verfyning tesame met uitstaande waarde vir geld. Die bestaande Hilux is steeds ’n bekwame pakket en sal al die pad tot die koms van sy opvolger ’n rolmodel in hierdie mark bly.

Hiroki Nakajima, die uitvoerende hoofingenieur vir die Hilux (hy is ook ’n bestuursraadslid van die Toyota-Motorkorporasie) stel dit só: “Ons hele ontwikkelingsbenadering was daarop gefokus om taaiheid te herdefinieer. Ons was daarop uit om die nuwe Hilux op grond van ’n groter betekenis van die woord nog ‘taaier’ te maak. Die boodskap wat ons aan ons klante wil bring, is in die slagspreuk vir die nuwe Hilux verpersoonlik: ‘’n Nuwe tydvak vir die bakkie… elke millimeter die ene Hilux’ (‘A New Era for Pickup. Every Inch a Hilux.’)”

Dit word deur Calvyn Hamman, Senior Vise-President van Verkope en Bemarking by Toyota SA, beaam: “Die (nuwe voertuig) kan oomblik as ’n Hilux herken word. Hy voel soos ’n Hilux, en hy ry soos ’n Hilux – net baie beter. Die nuwe Hilux, wat vernuwing, gekunsteldheid en ’n ekstroverte ontwerp met fanatiese betroubaarheid suksesvol saamvoeg, sal gewis die maatstaf wees. Die legende duur voort…”

Hilux 2015 3

Hoofkenmerke
Nuutontwikkelde raam en vering:
· ’n Nuwe, stewige raam met groter en dikker sye en dwarsbalke is ontwerp ten einde beter vermoë en ongehoorde rystabiliteit te bewerkstellig.
· Verbeterde veldry-verrigting en groter gemak danksy opgegradeerde bladvere en skokbrekers.
· Die veringverstelling is ten beste verfyn.

Nuutontwikkelde enjins en ratte:
· Skitterende wringkrag teen alle enjinsnelhede, met aansienlik verbeterde wringkraglewering teen lae snelhede danksy nuutontwikkelde 2,4ℓ- en 2,8ℓ-dieselenjins.
· Verlengde reikafstand aan die hand van verbeterde brandstofdoeltreffendheid.
· Verminderde enjingeraas.
· Gebalanseerde wringkrag- en brandstofdoeltreffendheid weens nuutontwikkelde outomasie sesgang-transmissies met meer stappe en vervolmaakte ratverhoudings om die beste enjinverrigting te bewerkstellig.
· Die wêreld se eerste (in die geval van ’n bakkie) intelligente handrat-transmissie of
i-MT sorg vir soepel ratwisseling na gelang van enjinspoed.

Diensbaarheid/instandhouding:

· Minder instandhoudings- en hersteltyd word vereis danksy beter versienbaarheid wat die nuwe enjin betref.

Taai dog emosionele ontwerp

Buitekant
· Taai dog verfynde voorkoms danksy die kontras tussen die voorpaneel en die stewige nuwe buffer en die ingeboude voorkoms van die dun, boonste sierrooster en ligdiode-kopligte. Dit sal ook in die smaak val van kopers wat die eerste keer ’n bakkie oorweeg, of ’n bakkie eerder as ’n sportnuts of passasiersmotor wil aanskaf.
· Die soort verfyning en sensitiwiteit wat nie gewoonlik in ’n bakkie aangetref word nie – alles danksy sterk, dinamiese wielnisse wat aantreklik in die algehele romp geïntegreer is.

Binneruim
· Stylvolle instrumentepaneel met ’n verenigde ontwerpvoorkoms en vrypostige gebruik van metaalafwerking wat ’n sterk dog verfynde voorkoms bied.
· Hipermoderne weelde-eienskappe waaronder die klankstelsel met ’n elektrostatiese veeldoel-raakskerm, elektroniese vierwielaandrywingskakelaar en weelde-sitplekke.

Let asseblief daarop dat die nuwe Hilux in die eerste kwartaal in 2016 in Suid-Afrika bekend gestel sal word. Die volledige plaaslike reeks en toerusting sal nadar aan die bekendstellinsdatum aangekondig word.

Besoek ook:

Vehicle Finance, Car Insurance and Road Safety

Buying and Selling a Vehicle – Informed decisions and the Vehicle Retailer

 

Hilux 2015 interior

Posted on by jonckie

Comments Off on Splinternuwe Toyota Hilux herdefinieer “taai”