Veilige 2de plek in Sasol-Tydren vir Toyota se verdedigende kampioene

Castrol rally 1

Die verdedigende tydrenkampioene Leeroy Poulter en Elvéne Coetzee het hul Castrol-Toyota-Yaris-S2000 as stewige naaswenners oor die wenstreep in die uiters uitdagende toestande van die 24e Sasol-tydren gestuur. Die byeenkoms, wat in die laeveld-omgewing in Mpumalanga om Sabie, Graskop en Nelspruit beslis is, is deur uiterste nat en gladde toestande gekenmerk terwyl reën steeds op dag een uitgesak het. Die oudkampioene Mark Cronjé/Robin Houghton (Ford) het die tydren gewen en hul tweede oorwinning vir die seisoen aangeteken.

“Ons het dag een net ’n paar sekondes agter Cronjé afgesluit, maar dit was baie glad en dus maklik om foute te maak,” het Poulter aan die einde van die byeenkoms by die skouterrein in Nelspruit gesê. “Ons het uiteindelik besluit om seker te maak dat ons tweede eindig eerder as om enige kanse te waag.”

Poulter het tweede op die pad weggespring en daarin geslaag om uit die grootste moeilik te bly.

“Ons weet wat dit verg om ’n kampioenskap te wen,” het die spanhoof, Glyn Hall, ná die ren gesê. “Punte vir die tweede plek is baie beter as om alle versigtigheid oorboord te gooi en van die pad af te jaag – veral in sulke toestande soos wat ons in die laeveld gehad het.”
Die Dakar-veteraan en tydrenjaer Giniel de Villiers, wat saam met Carolyn Swan in die tweede Castrol-Toyota Yaris jaag, het ’n bestendige lopie in die Sasol-tydren gehad totdat ’n enjin-probleem die span net 25 kilometer voor die einde langs die pad laat agterbly het. Hulle was op daardie tydstip derde algeheel met ’n gesonde voorsprong voor die jaers agter hulle.

“Dit was ’n groot teleurstelling toe Giniel en Carolyn so naby aan die einde van die 200km-tydren uitgeval het,” het Hall verder gesê. “Sake het goed gelyk vir twee podiumposisies, maar wanneer dit by tydrenne kom, kan ’n mens nooit van enigiets seker wees voordat die ren nie verby is nie.”

Wat Klas S1600 vir voorwielaangedrewe motors met enjins tot 1 600 cc betref, het die verdedigende kampioene, Guy Botterill en Simon Vacy-Lyle (Yato-Toyota Etios) stewig weggespring, maar is op die eerste dag reeds tot toeskouerstatus gedwing toe die ewenaar ingegee het. Hulle het die volgende dag ingevolge die Super-tydrenreëls verder gejaag, maar kon nie daarin slaag om beduidende punte aan te teken nie.

Die klas is deur Chad van Beurden (Volkswagen) gewen met Paul Franken in ’n tweede Volkswagen in die tweede plek. Matthew Vacy-Lyle en Schalk van Heerden was derde in hul Fragram-Toyota Etios.

Die volgende ronde is die Secunda-Motor-tydren, wat die naweek van 15 en 16 Mei 2015 beslis word. Dit is ’n nuwe byeenkoms op die nasionale tydrenkalender, hoewel die omgewing voorheen vir streekkampioenskapstydrenne gebruik is. Hierdie byeenkoms is die derde ronde van die Suid-Afrikaanse Tydren-kampioenskap, wat uit agt renne bestaan.

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy borge, spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota het ’n wedersydse borgskapsverhouding met Castrol, Toyota Finansiële Dienste, die Innovation-groep, die Imperial Toyota-groep, Bosch, Donaldson, Edgecam, Ferodo, Smith Manufacturing, 4×4 Mega World, NGK, SKF en Spanjaard.

Volg die Castrol-Toyota-renspan op die internet by motorsport.toyota.co.za
Twitter: www.twitter.com/toyotasa
Facebook: www.facebook.com/toyotasouthafrica

Also view:

Safe Driving on Gravel Roads

Posted on by jonckie

Comments Off on Veilige 2de plek in Sasol-Tydren vir Toyota se verdedigende kampioene