Verdedigende kampioene reg vir eerste ronde van 2015-Donaldson -Veldtydrenkampioenskap

Hilux vir Donaldson

Die verdedigende Donaldson-veldtydrenkampioene Anthony Taylor en Dennis Murphy van die Castrol-Toyota-renspan is slaggereed vir die 2015-seisoen. Hulle het reeds hul nuwe Toyota Hilux-renvoertuig, wat gegrond is op die Dakar-weergawe wat Giniel de Villiers en sy Duitse naviagtor Dirk von Zitzewitz as naaswenners in vanjaar se moordende Dakar-uithouveldtydren laat eindig het, ter voorbereiding op die nuwe seisoen getoets.

“Ons kan nie wag dat die nuwe seisoen begin nie,” sê Taylor. “Die toe-seisoen het baie lank gevoel, veral omdat ons by die huis gesit en ons motors in die Dakar sien ry het.”

Die verdedigende Suid-Afrikaanse tydrenkampioen Leeroy Poulter sal weer saam met sy navigator, Rob Howie, in ’n tweede Castrol-Hilux jaag om Taylor/Murphy te ondersteun. Poulter het verlede jaar sy eerste volwaardige seisoen in die Donaldson-veldtydrenkampioenskap gehad, en het in ’n merkwaardige vierde posisie algeheel geëindig. Hy het ook in vanjaar se Dakar-uithouveldtydren gejaag en was 16e, wat hom waardevolle tyd agter die stuur van die jongste weergawe van die Toyota Hilux-veldrenbakkie gegee het.

“Ons is baie opgewonde om met die jongste weergawe van ons Toyota Hilux te jaag,” sê die spanhoof, Glyn Hall. “Ons het dié motors in die laaste byeenkoms van die 2014-seisoen gebruik, maar het sedertdien heelwat ontwikkelingswerk gedoen. Ons het ’n string klein verbeterings aangebring wat die motors meer by die plaaslike toestande sal laat pas.”

Die span, wat nou met elke voertuig oor die 9 500 kilometer se werklike langafstand-toetswerk in die Dakar agter die rug het en ook uitgebreide toetswerk voor die ren gedoen het, is vol vertroue wat hul kanse in die 2015-Donaldson-veldtydtrenkampioenskap betref, en dit ten spyte van ’n aantal uitdagende veranderings aan die samestelling van die nuwe reeks.

Die nuwe kampioenskap sien aansienlik anders daarna uit en bestaan nou uit ses rondes (twee minder as voorheen), waaronder naelrenne oor 450 kilometer, uithourenne van 650 tot 700 kilometer elk, en die Toyota-1000-Woestynren as die enigste marathon-byeenkoms op die kalender.

Die puntesamestelling het ook verander, wat beteken die wenners jaag nou 30 punte in elke ren los. Die vorige gebruik dat die reeks uit net die sewe beste van agt rondes tel, is laat vaar, wat beteken dat die spanne regdeur die jaar sal moet seker maak hulle is en bly bestendig.

“Ons is baie gelukkig met die feit dat die Toyota Hilux een van die beste betroubaarheidsrekords in die renveld het, aangesien betroubaarheid vanjaar – meer as ooit tevore – net so belangrik as spoed sal wees,” sê Hall. “Ons glo ons het die regte voertuig om die kampioenskap te wen, sowel as die regte bemanning en spanne om ons tot by die einde van elke ren te bring.”

Die seisoen skop die naweek van 27 en 28 Maart met die RFS-Uithouren in Harrismith af. Die byeenkoms sal vanjaar ’n algehele renafstand van digby die 700 kilometer hê, wat die kwalifiserende voorren oor 196 kilometer en twee renrondtes van 251 kilometer elk insluit.

Die roete is hoofsaaklik nuwe terrein wat nog nie voorheen vir veldrenne gebruik is nie, en net sowat 50 kilometer van die rengedeelte is dieselfde as verlede jaar. Die RFS-Uithouren sal dus vir die hele renveld ’n beproewing wees, veral weens die feit dat dit oor so lang afstand is.

Hoogtepunte van die nuwe roete behels ook ’n lopie al met die ou Qwa-Qwa-pad langs en verby die Sterkfontein-dam, maar elke ronde begin en eindig by die La La Nathi-oord aan die buitewyke van Harrismith.

Die renhoofkwartier en aangewese dienspunt (DSP) sal by die La La Nathi-oord wees, en die kwalifiserende voorren begin Vrydag 27 Maart om 10:30. Die hoofren begin Saterdagoggend om 7:30.

Toegang is soos altyd in die Donaldson-veldtydrenreeks heeltemal gratis, en daar is talle toeskouerpunte waar mense die voertuie in aksie kan sien.

 

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy borge, spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota het ’n wedersyds voordelige borgskapsverhouding met Castrol, Toyota Finansiële Dienste, die Innovation-groep, die Imperial Toyota-groep, Bosch, Donaldson, Edgecam, Ferodo, Smith Manufacturing, NGK, SKF en Spanjaard.

Volg die Castrol-Toyota-renspan op die internet by:

www.motorsport.toyota.co.za

Twitter: www.twitter.com/toyotasa

Besoek ook:

Veilige Bestuur op Grondpaaie

Posted on by jonckie

Comments Off on Verdedigende kampioene reg vir eerste ronde van 2015-Donaldson -Veldtydrenkampioenskap