Uitdagende nuwe rol Toyota Suid-Afrika se President en Uitvoerende Hoof

Johan Van ZylDie President en Uitvoerende Hoof van Toyota Suid-Afrika Motors (TSAM), dr. Johan van Zyl, se portfolio is ná strukturele verskuiwings in die wêreldwye bestuurspan van die Toyota-Motorkorporasie (TMC) uitgebrei om nou ook Toyota van Europa in te sluit.

Die nuwe portfolio, wat by dr. Van Zyl se bestaande verantwoordelikheid as Uitvoerende Hoof van die Afrika-streek gevoeg word, maak hom nou die Uitvoerende Hoof van die Europese streek. Hy bly aan as President en Uitvoerende Hoof van TSAM en word ook President en Uitvoerende Hoof van Toyota Motors van Europa.

“Dit is ’n fantastiese loopbaangeleentheid en ek is baie opgewonde oor die nuwe uitdaging. Ek wil dit egter beklemtoon dat my tuiste altyd Suid-Afrika sal wees en dat ek my steeds aan die ontwikkeling van die bedryf in my tuisland verbind,” sê dr. Van Zyl.

Sy nuwe rol plaas dr. Van Zyl aan die stuur van Toyota se handelsname in die Afrika- sowel as die Europa-streke, met die fokus op voortgesette verbetering op die gebied van vervaardiging , verskaffing en verkope. “Die Europese mark is ’n uiters mededingende mark en kan ten beste as ’n herstellende mark beskryf word nadat voertuigverkope in 2014 die eerste keer in ses jaar weer begin styg het. Dit is ’n baie dinamiese mark met ’n gesonde voertuigbedryf.”

Dr. Van Zyl neem sy nuwe verantwoordelikhede van 1 April 2015 af op en sal in Brussel en Sandton gesetel wees.

 

Verkorte CV: Dr. Johan van Zyl

Dr. Johan van Zyl het sy loopbaan by Toyota Suid-Afrika Motors in 1993 as direkteur van voertuigverkope en die handelaarsnetwerk begin. Dit was die wegspringpunt van ’n uitstaande loopbaan in die maatskappy. Dr. Van Zyl was voor sy aansluiting by Toyota Suid-Afrika hoofsaaklik ’n lektor en nagraadse student.

Nadat Dr. Van Zyl sy doktorsgraad in handel verwerf het, het hy aan die Universiteit van Potchefstroom klas gegee. Hy is kort voor sy toetrede tot die motorbedryf as professort aangestel en het konsultasiewerk vir talle ondernemings gedoen.

Hy het hom in 1993 by Toyota aangesluit en was vir alle verkoopsbedrywighede sowel as die handelaarsnetwerk verantwoordelik. Dr. Van Zyl is in 1995 tot groepbemarkingsdirekteur bevorder en was verantwoordelik vir alle verkope- en bemarkingsbedrywighede. Hy is in Julie 1996 tot besturende direkteur vir voertuigbemarking bevorder waar sy verantwoordelikhede uitgebrei is om ook Hino Vragmotors in Suid-Afrika in te sluit. Hy is in 1997 as die Besturende Direkteur van Toyota Suid-Afrika Bemarking aangestel, en het ’n jaar later President en Bedryfshoof van Toyota Suid-Afrika geword.

Dr. Van Zyl is in 2002 in sy huidige pos as President en Uitvoerende Hoof van Toyota Suid-Afrika Motors aangestel, en in 2009 as Bestuursamptenaar van Toyota-Motorkorporasie in Japan. Dr. Van Zyl het ook die titel as Uitvoerende Hoof vir Toyota in Afrika by sy verantwoordelikhede gevoeg.

Sy uitstaande sake-insig en omvattende kennis van die bedryf het met die jare met besoeke aan Japan, die Verenigde State van Amerika en die res van Afrika versterk. Dr. Van Zyl is in erkenning vir sy prestasies in die bedryf as President van die Nasionale Vereniging van Voertuigvervaardigers van Suid-Afrika (NAAMSA) van 2005 – 2008 aangestel en hou steeds hierdie posisie.

Dr. Van Zyl is ook ’n toegewyde sportman. Hy het op skool as atleet uitgeblink en was op skool en universiteit ook ’n kranige vlugbalspeler en fietsryer. Rugby en motorsport lê hom ook na aan die hart wat ontspanning betref. Sy belangstelling in motors sluit klassieke motors in waarvan hy ’n paar juweeltjies besit.

Dr. Van Zyl se passie vir onderrig het lank ná sy dae aan die Universiteit van Potchefstroom voortgeduur toe hy op die Raad van die Universiteit van Noordwes, die Adviesraad van die Universiteit van Stellenbosch se sakeskool en die ekonomiese fakulteit van die Universiteit van Pretoria gedien het. Hy het ook ’n eredoktorsgraad in handel van die Universiteit van Noordwes vir sy bydrae tot die motorbedryf en onderrig in Suid-Afrika ontvang.

Dr. Van Zyl is ’n ware gesinsman en bring al sy vrye tyd saam met sy vrou, Santie, en hul dogters by hul gesinshuis in Pretoria deur.

Posted on by jonckie

Comments Off on Uitdagende nuwe rol Toyota Suid-Afrika se President en Uitvoerende Hoof