Castrol Toyota Tydrenspan begin 2015 Tydrenseisoen op stewige voet

Poulter Coetzee 2

Die eerste ronde van die Suid-Afrikaanse Tydrenkampioenskap, die Tour-Natal-tydren, het tot ’n stewige begin vir die Castrol-Toyota-renspan gelei. Die tydren is op 27 en 28 Februarie op die vinnige suikerrietplantasiepaaie aan die Kwazulu-Natalse suidkus beslis, en het weereens die skitterende padtoestande waarvoor die omgewing bekend is, opgelewer.

Die verdedigende kampioene Leeroy Poulter en Elvéne Coetzee het in die tradisionele trekking voor die byeenkoms ongelukkig die voorste wegspringposisie getrek. Dit het gewis aan die begin teen hulle op die gladde grondpaaie getel aangesien hulle eerste oor die klein albasteragtige klippies gejaag en die pad vir die res “skoongevee” het. Hulle het hul Toyota Yaris S2000-tydrenmotor egter ten spyte hiervan reg van die begin af met mededingende sneltrajektye laat geld.

“Die motor het goed gevoel, maar ons het werklik weens ’n gebrek aan behoorlike klouvermoë gesukkel,” het Poulter aan die einde van die eerste dag van die tweedaagse byeenkoms gesê. “Ons het gelukkig dieselfde drie sneltrakjekte in die middag gedoen, en ons tye het aansienlik afgekom.”
Die verdedigende kampioene het die eerste dag in die tweede plek met ’n gaping van 24 sekondes agter die Ford-jaers Mark Cronjé/Robin Houghton afgesluit. Die Volkswagen-jaer Henk Lategan was derde, gevolg deur die Castrol-Toyota-jaers Giniel de Villiers en Caroyn Swan.

Toe die stof Saterdag aan die einde van die tydren uiteindelik oor die omgewing naby Scottburgh gaan lê, het die posisies nie verander nie, hoewel die tye effens verskil het. Cronjé het die seisoen se eerste oorwinning met ’n voorsprong van 44.6 sekondes teenoor Poulter/Coetzee beklink. Lategan het die laaste podiumposisie ingeneem, gevolg deur De Villiers/Swan in die vierde plek.

“Dit was ’n goeie leerervaring vir my en Carolyn,” het die Dakar-veteraan De Villiers ná die tydren gesê. “Ons moes maar vinnig aan mekaar in die motor gewoond raak, maar het gou ingeburger geraak en die beste daarvan gemaak. Ek is baie tevrede met die Toyota Yaris wat die span vir ons voorberei het, en ek kan nie vir die tweede ronde van die kampioenskap wag nie.”

Toyota het ook die spanprys vir die byeenkoms gekry ten spyte van die feit dat die Klas S1600-oorwinning aan die Volkswagen-jaer Paulus Franken en sy navigator, Henry Kohne, behoort het. Die verdedigende klaskampioene Guy Botterill en Simon Vacy-Lyle, wat in ’n Yato-geborgde Toyota Etios R2 jaag, was derde ná ’n lang stryd teen die private Toyota Etios-jaers Matthew Vacy-Lyle en Schalk van Heerden (Fragram Toyota Etios R2).
Die volgende ronde in die kampioenskap is die SASOL-tydren die naweek van 17 en 18 April in die laeveld in Mpumalanga. Dié tydren is een van Suid-Afrika se mees vooraanstaande motorsportbyeenkomste, en behels skouspelagtige sneltrajekte.

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy borge, spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota het ’n wedersyds voordelige borgskapsverhouding met Castrol, Toyota Finansiële Dienste, die Imperial Toyota-groep, die Innovation-groep, Bosch, Donaldson, Edgecam, Ferodo, Smith Manufacturing, 4×4 Mega World, NGK, SKF en Spanjaard.

Volg die Castrol-Toyota-renspan op die internet by motorsport.toyota.co.za
Twitter: www.twitter.com/toyotasa
Facebook: www.facebook.com/toyotasouthafrica

Besoek ook:

Veilige Bestuur op Grond/ Gruis

Poulter Coetzee

Posted on by jonckie

Comments Off on Castrol Toyota Tydrenspan begin 2015 Tydrenseisoen op stewige voet