Toyota wen prys as Energiemaatskappy van die Jaar

Arden Wessels neem ontvangs van die Trofee

Arden Wessels neem ontvangs van die Trofee

Energiedoeltreffendheid het nog altyd by Toyota Suid-Afrika Motors voorkeur geniet. Dié maatskappy se moeite is pas met sy tweede agtereenvolgende toekenning as Energiemaatskappy van die Jaar beloon. Die eerste was in 2013. Die prys is deur die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Energiedoeltreffendheid (SAEE) toegeken.

Dié gesogte prys word by ’n jaarlikse toekenningsbanket oorhandig. Die SAEE gee deur dié toekennings erkenning aan buitengewone prestasie van individue en maatskappye in die energiebedryf en wat spesifiek daaraan toegewy is, die behoefte het om die vereniging se missie te bevorder en deelname aan burgerlike en gemeenskapsake bevorder.

“Dit is ’n baie gesogte toekenning en ons is baie in ons skik om dit die tweede agtereenvolgende jaar te wen,” sê Riaan Olivier, hoofbestuurder van die SHE-afdeling by Toyota Suid-Afrika Motors.

“Ons streef hier by Toyota voortdurend daarna om Nommer 1 te wees in alles wat ons doen, en hierdie bewys dat ons op die gebied van energiedoeltreffendheid in die regte rigting beweeg. Dit is ’n kritieke deel van ons onderneming en ’n inisiatief wat regdeur die maatskappy toegepas word,” sê hy.

Energiedoeltreffendheid is nog altyd ’n groot kopsorg vir Toyota, en ’n toegewyde omgewingsingenieurspan is in April 2010 in die lewe geroep om onder meer al die energiedoeltreffendheidsprojekte by die maatskappy se aanleg in Durban te behartig. Die immer stygende energiekrisis en koste daaraan verbonde het tot dié afdeling gelei. Die hoofdoelwit van die afdeling is om die maatskappy se energieverbruik te verminder, wat tot ’n regstreekse vermindering van bedryfskoste en ’n verbetering in bedryfsdoeltreffendheid gelei het.

Die omgewingsingenieursafdeling het sedert sy totstandkoming reeds 108 projekte met die hooffokus op energiedoeltreffendheid gelei. Die projekte is baie kompleks en behels lewensvatbaarheidstoetse, meettoetse en bevestiging. Die span gebruik die vernuf van die verwante afdelings om hulle te help om die beste besluite moontlik te neem.

“Energie is ’n gesamentlike poging en dis hoekom ons die hele maatskappy inspan om ons met ons projekte te help. Ons maak seker al ons projekte lewer die beste uitslae sonder om iets op die gebied van gehalte, veiligheid en vervaardiging prys te gee. Ons monitor ook al die projekte vandat dit voltooi is,” sê Olivier.

“Energiedoeltreffendheid het verreikende gevolge wat kosteverlaging, beter vervaardigingsvermoë en ’n kleiner impak op die omgewing insluit, dus het dit sin.”

Toyota Suid-Afrika het ook ’n Platinum-toekenning in die Toyota-wêreldwye eko-toekennings vir die monteeraanleg met die beste vertoning om CO2 te verminder, losgeslaan. Dit bewys dat uitmuntendheid deur fokus en voortdurende verbetering bereik kan word.

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota wen prys as Energiemaatskappy van die Jaar