Stewige eerste maand vir Toyota

 Hilux legend vertical

  • Toyota oorheers plaaslike verkope
  • Hilux los voor in bakkieverkope; 2e beste algeheel
  • Plaaslike mark bly veerkragtig

 

Marksegment Jan 2014 Jan 2015 %-verandering
Passasiersvoertuie 38 374 36 982 -3,6%
Ligte handelsvoertuie 12 704 13 460 6%
Medium handelsvoertuie 773 637 -17,6%
Swaar handelsvoertuie 267 320 19,8%
Ekstraswaar handelsvoertuie 765 820 7,2%
Busse 65 87 33,8%
Uitvoer 13 845 16 708 20,7%
Algehele mark (plaaslik) 52 948 52 306 -1,2%

 

Plaaslike verkope van nuwe voertuie het in die eerste maand van 2015 op 52 306 eenhede te staan gekom terwyl Toyota altesaam 21% van hierdie syfer (11 191 eenhede) opgeraap het. Toyota is in Januarie 2015 die algehele topverkoper. Die Toyota-fabrikaat het in Januarie die topposisie vir verkope van passasiersvoertuie sowel as ligte handelsvoertuie ingeneem. En wat uitvoer betref, het Toyota ’n bydrae van 4 201 eenhede (25%) gelewer.

Toyota se topverkopers sluit in die Hilux, wat in 2014 die algehele topverkoper was. Dié staatmaker het in Januarie verkope van 2 605 eenhede aangeteken, terwyl sy stalmaat, die Fortuner, 721 eenhede gehaal het. Nog bestendige vertonings deur die Quantum Ses’fikile (1 222 eenhede),  die Corolla/Quest-kombinasie (2 354 eenhede) en die bekostigbare intreevlak-Etios (1 820 eenhede) rond die maatskappy se verkoopsukses af.

“Die beskeie daling van 1,2% in algehele plaaslike verkope teenoor Januarie 2014 toon die veerkragtigheid van die mark in die moeilike omstandighede wat deur stadiger ekonomiese groei en wisselkoers-verwante prysstygings vir nuwe voertuie gekniehalter is,” sê Calvyn Hamman, Senior Vise-President van Verkope en Bemarking by Toyota Suid-Afrika, en voeg by dat Toyota se bedryfvoorspelling vir 2015 op ’n beskeie 630 000 eenhede te staan kom. Die laer brandstofprys hou egter ’n positiewe uitkyk vir verbruikers in. Dit sal inflasie waarskynlik in toom hou en rentekoersveranderings bestendig hou.

Die voorgestelde nuwe belasting vir maatskappyvoertuie kan werknemers ook van maatskappymotors na motortoelaes laat omskakel, wat tot groter verkope kan lei. Maatskappye wat verkies dat hul werknemers die maatskappymotorkeuse behou, sal dié voertuie voor die einde van die belastingjaar op 28 Februarie 2015 moet koop ten einde die laer belastingkoers te behou.

“Die opwaartse neiging in veral die sportnuts- en passasiersmotorsegmente hou groot belofte vir die res van die jaar in. Die ekonomie bly egter onder druk en verbruikers is versigtig om bykomende skuld te maak,” sê Hamman. Hy wys ook daarop dat daar ’n skuif ten gunste van gebruikte voertuie was wat aan die prysstygings van nuwe voertuie en die beskikbaarheid van gebruikte voertuie van goeie gehalte teen ’n bekostigbare prys toegeskryf kan word.

Hilux legend

Posted on by jonckie

Comments Off on Stewige eerste maand vir Toyota