Lexus: Die Krag van Ontwerp

Lexus 2

Lexus het verlede jaar die LF-NX, ’n kenmerkende, kompakte kruismotor-konsepmodel wat die sluier oor die fabrikaat se moontlike mikpunt na die kruismotor-sportnutsmark gelig het, onthul. Die motor het ’n aggressiewe aansig gehad. Sy ontwerpmotief was sterk en gespierd. Maar hy was ook verfynd en atleties. Een van die ontwerpers het hom ’n “liggewig-krytvegter” genoem – die soort voertuig wat sterkte en krag met ratsheid en finesse kombineer.

Konsepmotors maak gewoonlik ’n eenmalige verskyning. Dit is eksperimentele en progressiewe ontwerpe wat soms lig werp op die tegniese vordering wat ’n vervaardiger maak. Min konsep-ontwerpe word ooit ’n produksievoertuig wat op groot skaal vervaardig word. Die Lexus NX, die LF-NX se produksie-opvolger, is anders. Hy het ’n meer berekende voorkoms as sy konsep-voorganger en sy vernuwende ligdiode-kopligte en spieëls is om praktiese redes groter gemaak. Andersins was die evolusie lineêr en naatloos… Die produksiemotor se gesofistikeerdheid is behou, soos talle van die sportnuts se oorspronklike ontwerpelemente: die gevormde snoet en prominente uurglas-sierrooster, die uitgeboude modderskerms, uitstaande wielnisse en indrukwekkende rompstewigheid.

Die daklyn wat na die agterkant styg, sorg vir oorgenoeg kopruimte en beklemtoon die kantaansig deur ’n knap silhoeët te vorm. Astrante, uitgeboude wielnisse huisves 17”- of 18”-wiele (onderhewig aan die model) en plaas die voertuig in ’n hurkende, gespiederde houding. Die agterkant word beklemtoon deur Lexus se kenmerkende ‘L’-vormige kombinasieligte, elk met naatlose ligdiode-beligting, terwyl die vorm van die stertpaneel aan die uurglasvormige sierrooster aan die voorkant herinner.

’n Vernuwende buitespieël en die wêreld se eerste handvatselmeganisme met ’n versteekte sleutelgat en ingeboude beligting brei die weelde-voorkoms uit.

Die binneruim van die NX is deurspek van die vooraanstaande stadsgevoel van die voertuig, en kombineer die strukturele aantrekking van ’n hoëverrigtingsmotor met die materiële gevoel wat van weelde en praktiese bruikbaarheid spreek.

’n Rapsie silwer lyswerk is stewig in die voorpaneel versink en simboliseer die krag van die voertuig, terwyl opgestopte kniestutte aan weerskante van die raam die bestuurder en voorste passasier stewig ondersteun.

Die binne-ontwerp beklemtoon sitplek- en kajuit-ruimte. Die laterale slagstikwerk-patroon van die sitplekke met verskillende dikte opstopsels beklemtoon die kruismotor-oogmerk van die voertuig. Die NX bied aan die hand van sy plat vloer die beste bagasieruimlengte en agtersitplek-beenruimte in sy klas.

NX 200t

Die nuwe Lexus-tweeliter-turbo-enjin, dié fabrikaat se eerste petrol-turbo, is oor ’n afstand van meer as ’n miljoen kilometer oor wisselende en meestal strawwe pad- en omgewingstoestande getoets. Sonder om te tegnies te raak – die 175 kW-turbo-enjin met regstreekse petrolinspuiting pronk met die wêreld se eerste gekombineerde silinderkop, ingeboude waterverkoelde uitlaatspruitstuk en tweeling-turbo-aanjaer. ’n Nuwe outomatiese sesgang-transmissie is aangepas om by die turbo-enjin gebruik te word. Die ratkas gebruik logiese wringkragbeheer, wat bereken hoeveel enjinwringkrag benodig word om die beste gevoel aan die hand van vinnige versnellingsreaksie en brandstofdoeltreffende verrigting te verkry. Die motor draf die gebruiklike 0-100km/h-naellopie in 7,1 sekondes kaf.

Nuut-ontwikkelde skokbrekers, wat selfs die kleinste mikrobewegings kan beheer, bied skitterende hanteringstabiliteit en ritgemak. Daarbenewens het die F-Sport ’n nuwe veranderlike veerstelsel (AVS) wat veranderlike beheer in 30 fases kan toepas.

Die NX gebruik gespesialiseerde Lexus-tegnieke soos rompgom en laserskroef-sweiswerk om romp- en veerstelsel-stewigheid te verbeter, wat algehele ryverrigting bevoordeel.

Benewens die turbo-NX 200t het Lexus ook die NX 300h, ’n hibried-weergawe met ’n demperbeheerstelsel wat daarop gemik is om ritgemak te verhoog, bekend gestel.

’n String tegnologiese vernuwings vul die voertuig aan. Om net twee daarvan te noem: die nuwe Lexus-raakskerm (EX en F-Sport)  sowel as die omvattende multi-inligting-vertoonskerm.  Ander lekkernye sluit in ’n banddruk-monitorstelsel, ’n uitgebreide veiligheidspakket wat agt lugsakke insluit, trurat-monitor (EX en F-Sport), sondak (F-Sport) sowel as fieterjasies soos ’n G-sensor en turbodrukmeter (F-Sport).

Die NX F-Sport-weergawe se ontwerp is effens meer aggressief en sportief. Die F-Sport-eksklusiewe toerusting sluit in ’n maasbedekking vir die sierrooster, nuwe onderkant vir die voorste buffer, ‘gebrande’ metaal-allooi-wiele, blinkswart deurspieëls, eksklusiewe binneruim-kleuropsies (Dark Rose), ’n ornament-paneel en sport-sitplekke.

Pryse wissel van R539 900 vir die NX 200t E tot R659 900 vir die F-Sport. Die NX het ’n diensplan van vier jaar / 100 000 km (wat vir elke afsonderlike model aangepas is).

Lexus

Posted on by jonckie

Comments Off on Lexus: Die Krag van Ontwerp