Halfway Toyota Shelly Beach is die 2014-Toyota-handelaar van die Jaar

Toyota Dealer

Halfway Toyota Shelly Beach het die top-erkenning vir sy skitterende vertoning in 2014 gekry en is as die 2014-Toyota-handelaar van die Jaar aangewys. Dit is nie net die eerste vir dié handelaarskap nie, maar ook ’n eerste vir die Halfway-groep.

“Hierdie toekenning aan Brian Jones en sy span by Halfway Toyota Shelly Beach is ’n welverdiende blyk van waardering. Hul jarelange bestendige verrigting het hierdie handelaarskap uiteindelik die hoogste prys in die Toyota-stal besorg,” het Calvyn Hamman, Toyota Suid-Afrika Motors se Senior Vise-President vir Verkope en Bemarking, gesê.

“Halfway Toyota Shelly Beach lei van voor af en oortref klante se verwagtinge voortdurend. Die handelaarskap het skitterende uitslae in al die ontwikkelingsprogramme behaal, wat verseker dit is ’n baken van diensuitmuntendheid in die Toyota-handelaarsfamilie en ook in die streek waar hulle sake doen,” het Hamman gesê en bygevoeg dat die Toyota-handelaarstoekennings altyd deur vuurwarm deelname en harde mededinging gekenmerk word.

Die jaarlikse Toyota-handelaarstoekennings is gegrond op ’n omvattende stel vereistes waaraan elke handelaar regdeur die voorafgaande jaar gemeet word. Hierdie maatstawwe sluit klantediens, omgewingsbeskerming, finansiële verrigting en voertuigverkope in.

Toyota het in die beoordeling van die 2014-Toyota-handelaar van die Jaar die beste handelaarskappe in die klein, medium, groot en megagroot-afdelings identifiseer. Brian Jones en Halfway Toyota Shelly Beach is in die afdeling vir groot handelaarskappe beloon en het die algehele prys gewen, terwyl Calvin Parry van Algoa Toyota Uitenhage, Danny Govender van Thekwini Toyota Durban en Johann Folscher van Barloworld Toyota Centurion vir hul uitstaande prestasies in die klein, medium en megagroot-afdelings onderskeidelik beloon is.
Toyota het ook verskeie handelaars en handelaarsgroepe in sy toekenningseremonies wat verlede week afgesluit is, erken.

Dit het die gesogte Voorsittersprestasie-toekenning ingesluit. Dié prys, wat die persoonlike keuse van Dr Johan van Zyl, die President en Uitvoerende Hoof van Toyota Suid-Afrika Motors en Bestuurshoof is, word vir uitmuntende diens aan die Toyota-handelsnaam toegeken. Marius de Bruin van die Barloworld Motor-kleinhandelgroep het met dié louere weggestap.

Toyota het ná die oorhandiging van die spesiale Voorsitterstoekenning die handelaarskap met die beste omgewingsinisiatiewe aangewys. Charl Venter van Werde Toyota het die prys losgeslaan vir sy harde werk op die gebied van vernuwende omgewingsprojekte – in die handelaarskapsomgewing sowel as in die omliggende gemeenskap – en weens sy getroue steun aan die wêreldwye Toyota-handves.

Buiten die Voorsitterstoekenning en die Omgewingsprys het Toyota ook die handelaarskap met die beste klantediens uitgesonder. Martinus Rossouw van Status Toyota in Cradock het dié prys vir sy uitstaande dienstelling vir die afgelope jaar losgeslaan.

Toyota het in ’n verwante afdeling ook sy beste monitordiens-handelaar aangewys. Toyota se monitordiens-handelaars tree op as spesialis-probleemoplossing-handelaars vir ingewikkelde uitdagings of probleme wat nie ’n ooglopende oplossing het nie. Anthony Baraball van Mortimer Toyota Newcastle het die Monitor-Handelaar van die Jaar-toekenning gewen.

Toyota Finansiële Dienste (TFS) het ook die beste Toyota-handelaar beloon en Martin Klopper van Halfway Toyota Fourways het vanjaar die Toyota Finansiële Dienste se Uitvoerendehoof-prys die tweede agtereenvolgende jaar gewen.

Ander toekennings:
Vise-President-toekennings

Die Toyota-Vise-Presidentstoekennings beloon die beste algehele prestasies in verskillende praktiese afdelings, waaronder voertuigverkope, voertuigbemarking, onderdele en diens. Toyota het die volgende handelaars vir hul uitmuntende vertonings erken:

 Vise- Presidentstoekenning: Voertuig-bemarking – Halfway Toyota Shelly Beach (Brian Jones)
 Vise- Presidentstoekenning: Klantediens – Carnival Toyota (Nic Muller)
 Vise- Presidentstoekenning: Automark – Barloworld Centurion (Johann Folscher)
 Vise- Presidentstoekenning: Gesamentlike klantediens:
o Megagroot: Hillcrest Toyota (Warren Demmer)
o Groot: Halfway Toyota Shelly Beach (Brian Jones)
o Medium: Humansdorp Toyota (Johan Brits)
o Klein: Status Toyota Cradock (Martinus Rossouw)

Toyota Suid-Afrika Motors het ook die beste afdelingsgroepbesturende direkteur en groepbesturende direkteur van handelaarsgroepe in die Toyota-netwerk erken.

Jimmy Loubser van die Locross-Toyota-groep is in die afdelingskategorie beloon, terwyl Andrew Miller die groepbesturende direkteur van die jaar-toekenning losgeslaan het.

Verdere Inligting :

• Toyota Suid-Afrika Motors het die grootste handelaarsnetwerk in Suider-Afrika met 190 toegewyde Toyota-handelaars wat klante in Suid-Afrika, Namibië, Lesotho, Botswana en Swaziland bedien.
• Wouter Nel, die handelaarshoof van Hino Parow, is as die Hino-Handelaar van die Jaar vir 2014 aangewys.
• Leon Brand, die handelaarshoof van Lexus Midrand, het die toekenning vir die Lexus-Handelaar van die Jaar vir 2014 ontvang.

Posted on by jonckie

Comments Off on Halfway Toyota Shelly Beach is die 2014-Toyota-handelaar van die Jaar