Toyota-Imperial-Suid-Afrika-voertuie met standvastige vertonings in voorlaaste sneltrajek

Safe Driving on Gravel roads

ROSARIO – Sneltrajek 12, die voorlaaste van die 2015-Dakar, was ’n uitdagende sneldeel oor 298 km wat die Dakar-brigade van die rivierdorp Termas Rio Hondo tot die stad Rosario – en die heel laaste tentkamp van die ren – geneem het.

Die twee Toyota-Imperial-Suid-Afrika-voertuie het met nog ’n goeie en standvastige vertoning vorendag gekom, en Giniel de Villiers en Dirk von Zitzewitz (#303) het die 12e vinnigste tyd vir die dag opgestel. Leeroy Poulter en Rob Howie (#327) was net 12 sekondes stadiger as hul spanmaats, wat goed genoeg was om die 13e posisie aan te teken. Hul bestendige vertoning in Sneltrajek 12 het De Villiers en Von Zitzewitz se posisie as naasvoorlopers in die algehele stand van sake versterk, terwyl Poulter en Howie in die 16e plek is.

“Dit was nog ’n goeie en bestendige dag vir ons,” het die spanhoof, Glyn Hall, by die laaste oornagtentkamp gesê. “Giniel en Dirk het presies gedoen wat ons van hulle nodig gehad het deur konserwatief te jaag en die Toyota-Imperial-Hilux sonder probleme tot by die eindstreep te bring. Leeroy en Rob het hulle puik van hul taak gekwyt ten spyte van die feit dat hulle ver agter in die 20e posisie op die pad begin het nadat talle jaers hul gelukskaarte gebruik het om hul wegspringposisies te verbeter.”

Die 2015-Dakar is vir die Toyota-Imperial-SA-Dakar-span alles behalwe verby. Nog net een sneltrajek, dié tussen Rosario en die Argentynse hoofstad Buenos Aires, bly oor. Sneltrajek 13 is 174 km lank, en sal die algehele afstand wat die deelnemers afgelê het, op 9 112 km te staan bring.

Dakar maintenance 2

Poulter/Howie sal waarskynlik hard probeer om die laaste sneltrajek te wen nadat hulle weer met ’n fantastiese vertoning in Sneltrajek 12 vorendag gekom en stadiger deelnemers ingehaal en verbygesteek het, maar nooit die geleentheid gehad het om werklik hard te jaag nie. Vir hul spanmaats moet Sneltrajek 13 egter net ’n herhaling van Sneltrajek 12 wees.

“Die werklikheid is dat ons die tweede plek buiten iets onvoorsiens al van die rusdag af in die sakkie gehad het,” het De Villiers aan die einde van die voorlaaste sneltrajek gesê. “Al wat nog oorbly, is om die Toyota-Imperial-Hilux veilig oor die eindstreep te stuur. En om seker te maak daarvan, kan ons dit nie bekostig om enige kanse in die laaste sneltrajek te waag nie.”

Elke renspan sal ná die einde van die laaste sneltrajek oor die tradisionele eindpodium ry om een van die grootste motorsportbyeenkomste ter wêreld af te sluit.

Dakar gravel

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy Dakar-borge, spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Hallspeed, TFM, Castrol, SKF, Spanjaard, Robor, 4×4 Megaworld, NGK, Donaldson, Mastercraft, Sat4Rent, Oakley, Edgecam, Supreme Springs, FreeM, Bosch, Smiths Manufacturing en Shatterprufe sowel as Duxbury Netgear, Innovation, Toyota Finansiële Dienste, SAA Cargo, Toyota en Imperial Toyota.

Besoek ook:

Veilige Bestuur op Grondpaaie

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota-Imperial-Suid-Afrika-voertuie met standvastige vertonings in voorlaaste sneltrajek