Toyota Imperial SA Dakar -Span staan sterk op Dakar-Rusdag

Dakar rest day 2

IQUIQUE – ’n Fantastiese poging op die tweede dag van die sogenaamde marathon-sneltrajek (twee agtereenvolgende sneltrajekte sonder tegniese bystand) het Giniel de Villiers en sy Duitse navigator Dirk von Zitzewitz die vierde vinnigste tyd, 2 minute 49 sekondes agter die wenner, en 13 sekondes agter die algehele voorloper Nasser Al-Attiyah (MINI) besorg. Dit plaas hulle stewig in die tweede posisie algeheel ná agt sneltrajekte van die 2015-Dakar-veldtydren, en net 8:27 agter Al-Attiyah.

“Vandag se sneltrajek was nogal ’n uitdaging,” het De Villiers gesê nadat hulle veilig teen die monsteragtige sandduin agter die oornagtentkamp by Iquique af is. “Ons het teen hoër as 4 500 m op die Salar de Uyuni begin, en het ’n 130 km-gedeelte gehad waar ons absoluut volspoed gejaag het. Die Toyota-Imperial-Hilux het egter sy staal teen die MINI’s gewys, en ons is baie tevrede met ons algehele tyd.”

De Villiers-hulle was vir die grootste deel van die sneltrajek oor 510 kilometer los voor, maar ’n voorval waarby een van die TV-helikopters betrokke was, het veroorsaak dat hulle ’n rots in die digte poeierstof wat deur die helikopter opgewaai is, getref het. Hulle het ’n pap wiel gekry wat hulle drie minute en die sneltrajekoorwinning gekos het, en het die waardevolle tyd wat hulle teenoor Al-Attiyah ingehaal het, uitgewis.

“Ons het oombliklik ná die sneltrajek beswaar by die renbestuur aangeteken,” het die spanhoof, Glyn Hall, by die tentkamp gesê. “Hulle het vir ure beraadslaag, maar ons beswaar om die tyd wat ons weens die helikopter verloor het terug te gee, uiteindelik verwerp.
“Dit is baie teleurstellend om tyd te verloor in ’n situasie wat ooglopend nie deur ons veroorsaak is nie, maar dis hoe dit is en ons is ten minste nog binne bereik van ’n oorwinning.”

Hoewel De Villiers/Von Zitzewitz (#303) gewis baie rede het om teleurgesteld te wees, het die Saoediese jaer Yazeed Alrahji en sy Duitse navigator, Timo Gottschalk, wat aan hul heel eerste Dakar-ren deelneem, skitterend gejaag en die eerste sneltrajekoorwinning vir die nuwe Toyota Hilux, wat deur Toyota Motorsport naby die bekende Kyalami-renbaan gebou is, beklink.

Hulle is nog regdeur die byeenkoms blitsig, maar hul sneltrajekoorwinning bevestig dat hulle die vermoë het om onder die grootstes in die Dakar te eindig. Hulle is nou derde algeheel en net minder as tien minute agter De Villiers/Von Zitzewitz.

“Ons het al die rede in die wêreld om trots te wees op wat ons tot dusver reggekry het,” het Hall gesê. “Ons het Giniel en Dirk wat sake aan die voorpunt uitwoed, en Yazeed en Timo wat die heel eerste oorwinning in die nuwe Toyota Hilux aangeteken het. En moenie vergeet dat Leeroy (Poulter) en Rob (Howie) steeds puik vaar nie, al het hulle so baie tyd in sneltrajek 6 verloor.”

Vir die tweede Toyota-Imperial-Hilux-span (#327), Leeroy Poulter en Rob Howie, was die ren tot dusver die ene hoogte- en laagtepunte. Hulle was soms uiters vinnig, maar die tyd wat hulle in Sneltrajek 6 verloor het nadat hulle ’n beheerpunt gemis het, het hulle ver laat terugsak en vir alle praktiese doeleindes uit die stryd om ’n oorwinning geskakel. Hulle is op die oomblik 17e algeheel.

Dakar rest day

“Ons sal aanhou probeer. As daar nou een ding is wat ons van ons eerste Dakar-ren verlede jaar geleer het, is dat ’n mens geduldig moet wees,” het Poulter aan die einde van Sneltrajek 8 gesê.
“Al wat ons nou kan doen, is om so hard soos moontlik te jaag sonder om die motor te beskadig. En as ons aanhou om dit tot die einde te doen, is ek seker ons sal in ’n goeie posisie eindig.”

Vandag is die rusdag waar die jaers en navigators ruskans kry terwyl die diensspanne die renmotors stroop en vir die laaste deel van die byeenkoms na die eindpunt van die 2015-Dakar op 17 Januarie in Buenos Aires voorberei.

“Dis vir ons alles behalwe ’n rusdag,” het Hall gesê. “Ons moet doodseker maak dat elke noodsaaklike komponent aan elke renvoertuig in ’n absolute perfekte toestand is. Daarvoor moet ons die motors heeltemal uitmekaar haal, en weer herbou nadat alles behoorlik nagegaan is. Daar is altyd ’n risiko om iets reg te maak wat nie gebreek het nie, maar dit sal ’n fout wees om nie alles op hierdie tydstip te fynkam nie.”

Die rusdag word gevolg deur die laaste sneltrajek in Chile, van Iquique tot Calama, voordat die Dakar-brigade terug oor die Andes na Argentinië verskuif vir die laaste vier sneltrajekte van die byeenkoms. Dié sneltrajekte is almal laer bo seevlak, waar die turbolose V8-enjin van die Toyota-Imperial-Hilux meer tuis is. “Dit kan ’n deurslaggewende faktor in die laaste sneltrajekte van die byeenkoms wees,” het Hall gesê, “maar ons takel dit ’n dag op ’n keer. Die Dakar is en bly ’n moeilike ren om te wen, maar dit is die beste posisie waarin ons nog op hierdie punt was, en as ons al ooit ’n kans gehad het, is dit nou.”

Dakar rest day 3

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy Dakar-borge, spesialisverskaffers en tegniese vennote:

Hallspeed, TFM, Castrol, SKF, Spanjaard, Robor, 4×4 Megaworld, NGK, Donaldson, Mastercraft, Sat4Rent, Oakley, Edgecam, Supreme Springs, FreeM, Bosch, Smiths Manufacturing en Shatterprufe sowel as Duxbury Netgear, Innovation, Toyota Finansiële Dienste, SAA Cargo, Toyota en Imperial Toyota.

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota Imperial SA Dakar -Span staan sterk op Dakar-Rusdag