Suzuki Celerio – ‘n Ekstragroot klein motortjie

Celerio• Geheel nuwe Celerio bied klasbeste ruimte binne
• Kompakte afmetings sorg vir rats, gebruiksvriendelike padgedrag
• Uiters doeltreffende aandryfstelsel verseker suinige brandstofverbruik
• Uiters praktiese, ruimskootse bagasieruim
• SRS-lugsakke en ABS-sluitweerremme standaard op alle modelle
• Nuwe geoutomatiseerde handratkas baat ekonomie en gerief

Suzuki se geheel nuwe Celerio, wat vandeesmaand die gewilde Alto-miniluikrugmotor in Suid-Afrika vervang, is daarop gemik om aan kopers van klein motors ’n grootmoedige en genotvolle motorervaring te bied. Die nuweling bewys dat klein nie noodwendig beknop hoef te wees nie, en dat styl en ruimte nie ’n fortuin hoef te kos nie.

Die Celerio, wat spesifiek vir wêreldmarkte ontwikkel is, en reeds groot welslae in Indië behaal, weerspieël Suzuki se ongeëwenaarde vernuf as ’n vervaardiger van kompakte motors en sportnutsvoertuie. Die nuweling koppel die gebruiksvriendelike afmetings en ratse padgedrag van ’n klein luikrug met ’n verbasend ruim kajuit en ’n yslike kattebak.

Terselfdertyd sorg die Celerio se doeltreffende aandryfstelsel vir wakker verrigting en suinige brandstofverbruik. Lae CO2-uitlaatgasvlakke beteken dat die Celerio boonop omgewingsvriendelik is.

Die Celerio is slegs 3,6 meter lank en 1,6 meter wyd en is dus onmiskenbaar lid van die minimotorsegment. Dit beteken dat die klein Suzuki maklik deur stadsverkeer rits, en in selfs die kleinste parkeerruimte kan inglip.

Die indruk van ruimte wat geskep word wanneer daar in die Celerio se kajuit geklouter word is heeltemal onverwags, gemeet aan die motor se kompakte afmetings. Een van die bydraende faktore is die dakhoogte van 1,53 meter, wat ’n ongewone vlak van kopruimte skep. Daarbenewens sorg die lang asafstand, die kort bakoorhange en die ruimtedoeltreffende ontwerp van die vering vir optimale ruimtebenutting. Dit geld ook die tamaaie bagasiebak.

Die Celerio se doeltreffende verpakking gaan met moderne, aantreklike stilering gepaard. ’n Verchroomde sierrooster met breë, horisontale stawe oorheers die voorkant, terwyl groot kopligsamestellings ook tot die motor se treffende vooraansig bydra.

Die Celerio se voorkoms word deur Suzuki se sogenaamde CICO (Curve In, Curve Out) ontwerpfilosofie gekenmerk. Sterk stileringslyne lig die sykante en die skouerlyn van die luikrugmotor uit, en beklemtoon ook die vaartbelynde vorm.

Celerio silver

Agter is die groot laaideur die ooglopendste kenmerk. Dit maak tot op buffervlak oop, wat toegang tot die bagasieruim makliker maak.

Nog ’n kenmerk van die nuwe Celerio is die KB10B-driesilinderenjin. Die 1,0-liter kragbron koppel volop krag aan puik doeltreffendheid, wat rats verrigting en uitstekende brandstofverbruik tot gevolg het. Maksimum kraglewering beloop
50 kW by 6 000 r/min, met ’n gepaardgaande wringkragpiek van 90 Nm by ’n relatief lae 3 500 r/min.

Van besondere belang is die Celerio se suinige brandstofverbruik. Afhangend van die spesifieke model verbruik die Suzuki slegs 4,6 liter/100 km in die gekombineerde siklus, met ’n gepaardgaande CO2-uitlaatgasvlak van net 108 g/km – wat beteken dat die Celerio nie aan uitlaatgasbelasting onderhewig is nie. Die nuweling behaal boonop ’n reiksafstand van meer as 750 km met ‘n enkele tenk brandstof van 35 liter.

Die Celerio is die eerste Suzuki-model wat met ‘n nuwe geoutomatiseerde handratkas toegerus is. Die ratkas word sonder ’n koppelaar bedryf, en ly ook nie aan die energieverliese wat met ’n gewone, koppelomsitter-toegeruste outomatiese ratkas gepaard gaan nie.

’n Elektries-hidrouliese aktiveerder wissel ratte sonder dat die bestuurder ’n koppelaarpedaal hoef te gebruik. Die stelsel bied seepgladde ratskakeling deur die koppelaarbeheer, ratskakelaksie en enjinsnelheid te sinchroniseer. Dit ratkas kan heeltemal outomaties ratte wissel, maar bied ook ’n handratmodus vir diegene wat verkies om self ratte te skakel. ’n Kruipaksie sorg vir gladde werking in spitsverkeer.

Onder die voordele van die nuwe ratkas tel laer massa, groter brandstofdoeltreffendheid, bekostigbaarheid en bestuursplesier. Dié ratkas sorg ook dat die Celerio Suid-Afrika se mees brandstofdoeltreffende outomatiese motor is.

Die Celerio se praktiese kenmerke en doeltreffendheid gaan gepaard met ’n hoë vlak van aktiewe en passiewe veiligheid. ABS-sluitweerremme, dubbele SRS-lugsakke voor, rukstopgordels, peuterbestande kinderslotte vir die agterdeure en ’n hooggemonteerde derde remlig is almal standaardtoerusting.

“Die nuwe Celerio volg in die voetspore van ons uiters gewilde en suksesvolle Alto-miniluikrug, maar bied aansienlike voordele wat ruimte, praktiese kenmerke, styl en algehele verfyning betref,” sê Yukio Sato, besturende direkteur van Suzuki Suid-Afrika.

“Dit bewys dat ultrakompakte, uiters doeltreffende passasiermotors met behulp van slim ontwerp en verpakking ook ruim, stylvol en gerieflik kan wees. Dus is die Celerio ’n verdere uitdrukking van Suzuki se alombewese vernuf wat die ontwerp en ontwikkeling van uitsonderlike klein motors betref.”

Die nuwe Celerio is van meet af aan as ’n wêreldmotor ontwikkel, en word deur Suzuki in Indië en Thailand vervaardig vir uitvoer na wêreldmarkte, wat Suid-Afrika insluit.

ONTWERP: Herskryf die reëls

Die nuwe Celerio is nie net nog ’n klein motortjie nie. Dié miniluikrug spog met ’n slim, uiters moderne ontwerp wat daarop gemik is om selfs die stoutste verwagtinge te oortref.

Hoewel die Celerio in die sogenaamde A-segment vir superminis meeding, het die motor se ontwerpers die definisie van dié segment heromskryf, en inderwaarheid ’n A-Plus-model geskep.

Daardie benadering word versinnebeeld deur die ‘ekstra-groot klein motor’-uitvoering van die Celerio. Hoewel die nuweling se kompakte afmetings vir rats hantering en gebruiksvriendelike bestuur sorg, word die ruim kajuit en tamaaie bagasieruim gewoonlik aan veel groter voertuie gekoppel.

Trouens, die Celerio bewys dat klein motors nie ondergeskik hoef te wees wat ontwerp en funksionaliteit betref nie. Maar om dit reg te kry, moes Suzuki se ingenieurs elke aspek van kleinmotorontwerp en -ontwikkeling in heroënskou neem.

Celerio interior

Doeltreffende ruimtebenutting en verfyning was bo-aan die lys, maar sonder om die praktiese voordele van ultrakompakte buite-afmetings, uiterste doeltreffendheid en lae massa te benadeel.

Die gevolg is ’n supermini wat ruim, aanpasbaar, toeganklik en prakties is, maar ook bestuursplesier bied en gebruiksvriendelik is. Die Celerio is inderdaad ’n A-Plus-motor wat in die A-segment uitblink.

Die buitevoorkoms is vars en stylvol, met ’n skoon, ongekunstelde benadering wat aantreklik en sonder tierlantyntjies is. Die prominente sierrooster, beklemtoonde karakterlyne, skerp gekantelde voorruit en ruimskootse glasoppervlakke skep ’n treffende, aantreklike indruk.

Die kopligte kombineer die hoofligte, rigtingaanwysers en posisieligte in ’n enkele samestelling met ’n helder lens wat gevorm is om by die horisontale lyne van die sierrooster te pas. Die subtiele V-vorm voor, die wigvormige profiel en die gladde bakoppervlakke dui op lugdinamiese doeltreffendheid, terwyl die kort bakoorhange die Celerio se ratse beweegbaarheid beklemtoon.

Agter bevestig die styl helling van die laaideur dat ruimtebenutting ook ’n belangrike element van die ontwerp is, terwyl die agterlig-samestellings nie net uiters sigbaar is nie, maar ook tot die algehele ontwerp bydra deur die kontoere van die laaideur verder te voer.

Die Celerio se staalwiele van 14 duim is met volgrootte wieldoppe toegerus, terwyl allooiwiele van 14 duim opsioneel beskikbaar is. In albei gevalle is die bandgrootte 165/70 R14.

Die Celerio is 3 600 mm lank, 1 600 mm breed en 1 540 mm hoog, wat beteken dat die nuweling 100 mm langer en 70 mm hoër as die Alto is, hoewel die twee motors ewe breed is. Die asafstand van 2 425 mm is egter 65 mm langer, wat aansienlik meer ruimte binne tot gevolg het.

Die nuwe Celerio se kleurpalet bestaan uit ’n keuse van sewe kopdraaikleure: Cerulean Blue Pearl-metaal, Sunshine Yellow Pearl-metaal, Cave Black Pearl, Blazing Red Pearl-metaal, Silky Silver-metaal, Glistening Grey-metaal, en Arctic White Pearl-metaal.

BINNERUIM: Die elegansie van eenvoud

Die Celerio se kajuit voer die konsep van omsigtige ontwerp ’n trappie verder, maar maak ook die onmoontlike moontlik deur ’n ongewoon ruim en praktiese binneruim te skep. Die gevolg is ’n aantreklike kajuit wat beide ruimte en styl bied.

Die simmetriese proporsies van die instrumentepaneel bied ’n gebruiksvriendelike oorsig van die instrumente, kontroles en skakelaars. Die hoofinstrumente is direk voor die bestuurder geplaas, met bykomende instrumente in die middelste gedeelte.

’n Driespeek-stuurwiel (wat in die GL-model met kontroles toegerus en is ook kantelverstelbaar is) omraam die instrumentehuls, terwyl die ratkierie hoër geplaas is om binne maklike bereik te wees.

Die kajuit se deftige afwerkings dra by tot ’n oortuigende indruk van gehalte wat nie altyd met motors in die supermini-segment gepaard gaan nie. Die voorste sitplekke, met hul hoë rugleunings, en die sitbank agter (wat in die GL-weergawes 60:40 verdeel is), is met duursame doekstofbekleedsel oorgetrek.

In vergelyking met die Alto, bied die Celerio 21 mm meer kopruimte voor en
43 mm meer kopruimte agter. Daar is ook 60 mm meer elmboogruimte vir die agterste insittendes. Die Celerio se langer asafstand het 50 mm meer beenruimte agter geskep, en die voetholtes agter is 28 mm wyer. Die resultaat is ’n motor wat ongewoon ruim voel — veral vir die agterste passasiers.

In- en uitklim is ook makliker, omdat die deuropeninge voor en agter 70 mm hoër is, terwyl die drumpels 20 mm laer is. Die voor- en agterdeure maak boonop wyer oop as dié van die Alto.

Vir baie Celerio-eienaars gaan die vragdravermoë egter een van die hoogtepunte wees. Die bagasiebak van 235 liter is die ruimste in sy klas, terwyl die laaideur agter tot op drumpelvlak oopmaak, sodat die laaidrumpel net 692 mm hoog is.

In weergawes met ’n verdeelde banksitplek agter kan die individuele gedeeltes afsonderlik platgevou word om ’n veelsydige kombinasie van laairuimte en sitplek te bied. Met die agtersitplek heeltemal platgevou is daar tot 1 034 liter pakplek beskikbaar.

Die lang lys bêreplekke in die Celerio se binneruim is verdere bewys van hoe prakties die motortjie is. Daar is ’n oopvou-paneelkissie, ’n diep bêrekassie aan die bestuurderkant, ’n rakkie aan die onderpunt van die middelkonsole, en deurvakkies en bekerhouers voor en agter.

Celerio dash

KONSTRUKSIE: Minder massa, maar meer motor

Die Celerio maak van ’n gevorderde, liggewig bakstruktuur gebruik wat ook baie stram is, en dus ’n kernrol in die nuweling se dinamiese talente en hoë veiligheidsvlakke speel.

Die balans tussen stramheid en massa is versigtig vervolmaak deur van spesiale, hoësterkte staal gebruik te maak. Die gevolg is ’n bakstruktuur met ’n relatief lae massa, wat die krag-tot-massa verhouding bevoordeel, maar wat ook baie styf is, ter wille van veiligheid, duursaamheid, en lae vlakke van vibrasie, geraas en hardheid.

Ligter, sterker veringkomponente met ’n meer doeltreffende ontwerp dra ook tot die ligter massa van die Celerio by. Die platter profiel van die wringstaafpunte het meer beenruimte en ekstra bagasieruimte tot gevolg, terwyl die MacPherson-stutte voor gekalibreer is om ’n goeie balans tussen hanteringstabiliteit en ritgerief te bied.

Die bakvorm van die Celerio is aerodinamies vervolmaak met die hulp van lugtonneltoetse en rekenaar-gesteunde ontwerpvoorstellings. Die gevolg is ’n motor met ’n gladde, vaartbelynde voorkoms, ondanks die feit dat die Celerio hoër as die Alto is.

VERINGSTELSEL: Gerief en beheer

Die Suzuki Celerio se onafhanklike voorvering bestaan uit MacPherson-stutte, kronkelvere en ’n teenkantelstaaf, terwyl ’n wringstaafontwerp agter ingespan word. Die algehele uitleg is taamlik konvensioneel, maar die toepassing is spesifiek aangepas om by die Celerio se hoofdoelwitte van laer massa en ’n groter binneruim aan te sluit.

Die massa van die veringraam en die veerstutte voor is verminder, sonder om stramheid of verrigting in te boet, wat ’n besparing van 3,5 kg tot gevolg het. Agter is die wringstaafpunte afgeplat, wat nie net meer vloerruimte agter beskikbaar stel nie, maar ook ’n groter bagasieruim toelaat.

Die veringmonteerpunte, veertempo en demperverstelllings is almal versigtig vervolmaak om ’n uitstekende balans tussen ritgerief, hantering en stabiliteit te bied.

Die Celerio se tandstang- en kleinrat-stuurstelsel is met elektriese kraghulp toegerus. Die draaisirkel van 9,4 meter is een van die kortste in die klas, wat verder tot die supermini se ratsheid en algehele beweeglikheid bydra.

Celerio airbag

VEILIGHEID: Sien om na nommer een

Die Celerio se nuwe bakkonstruksie bevoordeel veiligheid met behulp van ’n nuwe konstruksietegnologie wat as Total Effective Control Technology (Algeheel-Effektiewe Beheertegnologie), of TECT, bekend staan.

Dit maak onder meer voorsiening vir beheerde, geoptimiseerde frommelsones wat botsingsenergie veilig versprei sonder om die integriteit van die passasier-veiligheidsel te benadeel.

Aldrie Celerio-modelle wat in Suid-Afrika beskikbaar gestel word, is met dubbele SRS-lugsakke voor toegerus, asook met ABS-sluitweerremme, rukstopgordels met lasbeperkers voor, ’n hooggeplaaste derde remlig agter, peuterwerende kinderslotte agter, en ’n geïntegreerde immobiliseerder.

AANDRYFSTELSEL: Ekonomiese geesdrif

Die nuwe Celerio word deur ’n lewendige, maar ekonomiese driesilinderenjin van 1,0 liter aangedryf. Die sogenaamde K10B-eenheid is onaangejaag en is ontwerp om kragtig en suinig te wees, tesame met ’n lae massa en ruimtebesparende afmetings.

Die enjin se doeltreffendheid is veral te danke aan verskeie maatreëls wat massa bespaar en wrywing verminder. Dié maatreëls laat op hul beurt beter verrigting en laer brandstofverbruik toe. Die K10B is danksy veranderinge aan die enjinblok, enjinmonterings, verkoeler en brandstoftenk sowat 9 kg ligter as sy voorganger.

Maksimumkrag beloop 50 kW, wat met ’n wringkragpiek van 90 Nm gepaard gaan. Hoewel dié syfers beskeie klink, sorg hulle vir dat die liggewig-Celerio geesdriftig versnel. ’n Vyfgang-handratkas is standaard.

Die Celerio kan egter ook met ’n sogenaamde geoutomatiseerde handratkas bestel word – ’n unieke opsie in dié segment. Die nuwe transmissie is eintlik ’n gewone vyfgangongwerp, maar die ratte word deur ’n elektro-hidrouliese aktiveerder gewissel, wat ’n koppelaarpedaal onnodig maak.

Die ratkas kan soos ’n volledig outomatiese ratkas benut word, maar die bestuurder kan ook kies om self ratte te wissel. Daarbenewens is daar ’n kruipmodus wat sorg dat die ratkas selfs in stadige spitsverkeer seepglad werk.

Die voordeel van die geoutomatiseerde handratkas is dat dit aansienlik meer doeltreffend as ’n gewone, koppelomsitter-toegeruste outomatiese ratkas is. Boonop sorg die keuse om self ratte te wissel vir groter bestuurspret.

Met ’n krag-tot-massaverhouding van 42 kW/ton voel die Celerio lewendig en gewillig, en reageer met geesdrif op versnellerinsette. Maar dit is die motor se brandstofdoeltreffendheid wat die meeste aandag gaan trek.

Met die geoutomatiseerde ratkas behaal die Celerio ’n brandstofverbruiksyfer van 4,6 liter/100 km vir die gekombineerde siklus, met ’n gepaardgaande COs-uitlaatgasvlak van 108 g/km. Met die gewone handratkas is die verbruik eweneens indrukwekkkend, met syfers van 4,7 liter/100 km en 110 g/km onderskeidelik.

Dit beteken dat die Celerio ‘n reikafstand van meer as 750 km met ’n vol brandstoftenk van 35 liter kan behaal.

Celerio boot

DIE REEKS: Drie om van te kies

Die nuwe Celerio-reeks bestaan uit drie modelle wat nou in Suid-Afrika beskikbaar is. Aldrie weergawes word deur dieselfde driesilinderenjin van 1,0 liter aangedryf, maar daar is twee ratkaskeuses, asook twee spesifikasievlakke: GA en GL.

Die meer bekostigbare GA-model is net met die gewone vyfgang-handratkas beskikbaar, maar die effens duurder GL-weergawe kan met òf die gewone ratkas, òf ‘n geoutomatiseerde handratkas bestel word.

Celerio GA
Die Celerio GA is die mees beskostigbare lid van die Celerio-reeks, en is net met die gewone handratkas beskikbaar, maar het steeds baie om oor te spog.

Die verskille wat buitevoorkoms betref is relatief onbeduidend. Nes die GL, is die GA se staalwiele van 14 duim met volgrootte wieldoppe toegerus, en met 165/70 R14-bande geskoei. Die sierrooster, buitespieëls en deurhandvatsels is in kontrasterende swart afgewerk.

Binne spog die GA met dieselfde deftige, swart bekleedsel, asook die gebruiksvriendelike ergonomika, as sy duurder GL-stalmaat. Die GA is goed toegerus, met ’n lys standaardkenmerke wat onder meer halogeenligte en ’n vee/wasstelsel vir die agterruit insluit. Die buitespieëls is handverstelbaar.

Binne word die instrumentehuls deur ’n groot snelheidsmeter oorheers, maar dit sluit ook ’n inligting-uitleespaneel in wat ’n digitale horlosie, brandstofverbruikmeter en ’n reikafstandmeter bied. Laasgenoemde kenmerke is ongewoon in dié segment.

Elektries-beheerde kragstuur is eweneens standaard, tesame met handverstelbare lugreëling wat met ’n stuifmeelfilter toegerus is.

Die GA is reeds met twee luidsprekers en ’n lugdraad toegerus, wat dit maklik en koste-effektief maak om ’n CD-instemmer te laat installeer. Onder die bykomende kenmerke tel twee voorste en drie agterste bekerhouers, en ’n 12V-kragprop aan die onderkant van die middelkonsole. Die eenstuk-banksitplek agter kan vorentoe vou om meer bagasieruimte te skep.

Die Celerio GA is met dubbele SRS-lugsakke voor toegerus, en ABS-sluitweerremme is standaard. Daarbenewens tel driepunt-rukstopgordels voor en agter (met ’n tweepunt-skootgordel vir die middelste sitposisie agter), peuterwerende kinderdeurslotte agter, en ’n geïntegreerde immobiliseerder ook onder die Celerio se lys kenmerke.

Celerio GL
Die GL is nog meer volledig toegerus, al is die aandryfstelsel identies aan dié van die GA. Suzuki se vernuftige geoutomatiseerde handratkas kan egter teen bykomende koste bestel word.

Die geoutomatiseerde ratkas kan of heeltemal outomaties bedryf word, of die bestuurder kan steeds verkies om self ratte te wissel. Die ratkas is meer doeltreffend as ’n gewone, koppelomsitter-toegeruste outomatiese ratkas.

Wat buitevoorkoms betref, word die Celerio GL gekenmerk deur ’n sierrooster met ’n swart glansafwerking en verchroomde horisontale aksente. Daarbenewens is die buitespieëls en die deurhandvatsels kleurbypassend.

Die GL voeg laaggemonteerde misligte by die halogeen-kopligte, en die buitespieëls is elektries verstelbaar. Die agterruit is boonop verhit.

Binne bied die GL dieselfde, aantreklike swart doekstofbekleedsel as die GA-weergawe, maar die deurpanele is ook met bekleedsel oorgetrek, en die deurhandvatsels het ’n chroomafwerking. Die gevolg is ’n aansienlik deftiger voorkoms.

Wat standaardtoerusting betref, baat die GL by al die kenmerke waarmee die GA-model spog, maar die lys is nog uitvoeriger. ’n Toereteller word by die instrumentehuls gevoeg, terwyl die digitale uitleespaneel in die geval van die GL-model met die geoutomatiseerde ratkas ook die rat wat gekies is, en die buitetemperatuur, kan aandui.

Die stuurwiel is kantelverstelbaar, en is met kontroles vir die klankstelsel en telefoonstelsel toegerus. Die klankstelsel bestaan uit ’n CD-instemmer met vier luidsprekers en ingeboude Bluetooth-koppeling vir selfone.

Die kantruite voor en agter is elektries verstelbaar, en afstandbeheerde sentrale sluiting is ook by die GL-pakket ingesluit. Daar is ’n bêrevakkie op die rugleuning van die voorste passasiersitplek, en die banksitplek agter is 60:40 verdeel om vir veelsydige kombinasies van sitplek en laairuimte te sorg.

Nes die GA baat die GL by die volledige lys veiligheidskenmerke waarvoor die hele Celerio-reeks bekend is. ’n Alarmstelsel word egter bykomend by die immobiliseerder geïntegreer.

WAARBORG EN DIENS: ’n Geruste hart

Die Suzuki Celerio word deur ’n waarborg van drie jaar/100 000 km gedek. Daarbenewens sluit die prys van die GL-weergawes ’n diensplan van twee jaar/
30 000 km in. Die diensinterval is 15 000 km.

Posted on by jonckie

Comments Off on Suzuki Celerio – ‘n Ekstragroot klein motortjie