Suksesvolle 2015 Dakar einde vir Toyota Imperial SA Dakar Span

B7t-D2uIgAAkLHB

BUENOS AIRES – Dit is sonder twyfel die wêreld se moeilikste motorren. Deelnemers van regoor die wêreld het die legendariese 2015-Dakar-ren oor meer as 9 000 km in drie Suid-Amerikaanse lande op motorfietse en vierwiel-motorfietse en in vragmotors en doelgeboude renmotors aangedurf. Vanjaar se vreeslose Suid-Afrikaanse Toyota-renspan het die vierde keer deelgeneem, en ten spyte daarvan dat hulle teen van die reuse in die motorwêreld te staan gekom het, kom die Toyota-Imperial-Suid-Afrika-Dakar-span met ’n trofee terug.

Dit is ’n welverdiende prys wat op die vinnige renroetes in Argentinië, oor die massiewe duine van die Atacama in Chile, en die hoë vlaktes in Bolivië losgejaag is. Die Toyota-Imperial-SA-Dakar-span was beter as ooit op die 2015-Dakar voorberei, maar kwellende vrae oor die verrigting van die turbolose V8-enjin in die Toyota-Imperial-Hilux teenoor dié van die turbodiesel-voertuie van party van die ander spanne, bly steeds ’n vraagstuk.

Die span van Suid-Afrika het egter deurgedruk en die Hilux se vermoë sonder twyfel bewys deur regdeur die reusagtige ren aan die hakke van die uiteindelike wenner, Nasser Al-Attiyah, te byt en op die podium (tweede algeheel) te eindig.

“As dit nie was vir ’n navigasiewaagstuk wat nié uitgewerk het soos ons graag wou nie, kon ons heel moontlik ’n ander trofee huis toe gebring het,” het die spanhoof, Glyn Hall, gesê. “Ons is egter uiters trots op wat ons reggekry het – naaswenners in wat ongetwyfeld die wêreld se moeilikste ren is.”

Toe die stof uiteindelik oor die laaste sneltrajek van die 2015-Dakar gaan lê, was dit Al-Attiyah van Qatar (MINI) wat die oorwinning beklink het – net 35 min. 34 sek. voor die Toyota-Imperial-jaers Giniel de Villiers en Dirk von Zitzewitz, wat die tweede keer as naaswenners uit die stryd getree het.
“Ons het ’n fantastiese ren gehad, en die Toyota-Imperial-Hilux het ons nie een keer in die steek gelaat nie,” het ’n opgewonde De Villiers ná die podiumgeselligheid in Buenos Aires gesê. “Nasser is egter ’n baie ervare en vinnige jaer, en dit sou nooit maklik wees om hom te vang nie, ongeag wat jy ry.”

De Villiers/Von Zitzewitz (#303) was vroeg in die ren in ’n sterk posisie om ’n aanslag op die voorpunt te maak, maar hul navigasiefout en effense teenstand van die geluksgodin het die gaping tussen hulle en Al-Attiyah vergroot eerder as om dit te verklein.

“Aan die einde van die dag is die Dakar-ren doodeenvoudig nie ’n maklike ren om te wen nie,” het Hall bygevoeg. “Baie spanne probeer. Maar hier is ons en ons hou die trofee as naaswenners omhoog.”

De Villiers-hulle se spanmaats, Leeroy Poulter en Rob Howie in die tweede Toyota-Imperial-Hilux (#327), het regdeur die ren met uitstaande spoed vorendag gekom, maar ’n stukkende veringkomponent het hulle vroeg reeds baie tyd gekos. Hulle het ook ’n navigasiepunt misgery, en is met 40 minute vir dié fout beboet.

Dit het hulle in die sestiende plek algeheel laat eindig, maar hulle was besig om die laaste sneltrajek te wen toe die organiseerders Sneltrajek 13 tussen Rosario en Buenos Aires ná die eerste beheerpunt weens oorstromings moes aflas. Dit beteken die Amerikaanse jaer Robby Gordon, wat voor was toe die sneltrajek gekanselleer is, is as wenner van die sneltrajek aangewys. Poulter/Howie was net 25 sekondes agter hom.

“Ons het ’n goeie ren gehad, en vanjaar weer baie geleer,” het Poulter gesê nadat hulle ná die ooppadgedeelte in die Argentynse hoofstad aangekom het.

“Hierdie is nie die soort ren wat ’n mens met jou eerste probeerslag wen nie, en blykbaar ook nie die tweede keer nie. Dit neem tyd om te verstaan hoe dinge in die Dakar-ren werk, maar ek dink ons het vanjaar baie gevorder.”

Dit was die derde podiumposisie vir die Toyota-Imperial-Suid-Afrika-Dakar-span in vier jaar – derde in 2012, tweede in 2013 en nou weer tweede in 2015. De Villiers en Von Zitzewitz het die podium in 2014 gemis, maar steeds hul Toyota-Imperial-Hilux steeds in die vierde plek algeheel oor die wenstreep gestuur.

Buiten die twee Toyota-Imperial-Hilux’e het die private jaer Yazeed Alrahji van Saoedi-Arabië fantasties gevaar in ’n identiese motor as dié van De Villiers en Poulter. Dié talentvolle jaer is deur ’n elektroniese probleem uitgeskakel terwyl hy duidelik op pad was om ’n podiumposisie in sy eerste Dakar-ren op te stel.

“Ons is net so trots op wat Yazeed in die 2015-Dakar vermag het,” het Hall gesê. “Sy ervaring in die Wêreld-tydrenkampioenskap was ’n groot aanwins, en dit is hartseer dat hy net drie sneltrajekte voor die einde van die ren noodgedwonge die handdoek moes ingooi.

“Vergelyk dit met die Toyota-Imperial-Dakar-span se eerste probeerslag in 2012, toe ons derde algeheel was,” het ’n oorstelpte Hall vol vertroue gesê. “Dit is duidelik dat ons dit reg gedoen het. Ons het vanjaar voluit probeer om die Dakar te wen, maar as enigiemand ons ’n tweede plek aangebied het voordat ons weggespring het, sou ek dit waarskynlik met ’n breë glimlag aanvaar het.”

Dit was ’n kewessie van trots vir Toyota SA Motors dat ’n Suid-Afrikaanse span die reuse van die Dakar aangedurf het en as naaswenners huis toe kom. Dit is ’n puik uitslag – nie net vir die maatskappy en sy Dakar-borge nie, maar vir Suid-Afrika as ’n geheel.

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy Dakar-borge, spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Hallspeed, TFM, Castrol, SKF, Spanjaard, Robor, 4×4 Megaworld, NGK, Donaldson, Mastercraft, Sat4Rent, Oakley, Edgecam, Supreme Springs, FreeM, Bosch, Smiths Manufacturing en Shatterprufe sowel as Duxbury Netgear, Innovation, Toyota Finansiële Dienste, SAA Cargo, Toyota en Imperial Toyota.

Posted on by jonckie

Comments Off on Suksesvolle 2015 Dakar einde vir Toyota Imperial SA Dakar Span