Stewige vertoning vir De Villiers terwyl spanopdrag Poulter terughou op Sneltrajek 11 van Dakar

Dakar Stage 11

TERMAS DE RIO HONDO – Sneltrajek 11 van die 2015-Dakar het nog ’n stewige vertoning deur die Toyota-Imperial-SA-Dakar-span se ‘meneer bestendig’, Giniel de Villiers, opgelewer. Dié Dakar-veteraan van Paarl en sy jarelange Duitse navigator, Dirk von Zitzewitz, het die derde vinnigste tyd in die sneltrajek opgestel en net 39 sekondes agter die sneltrajekwenner, die algehele voorjaer Nasser Al-Attiyah, geëindig. Hulle is met ’n gaping van 29 minute en 1 sekonde steeds die naasvoorlopers.

“Ons het ’n goeie sneltrajek gehad, maar dit was nét te kort om enige tyd van Nasser se voorsprong af te skaaf,” het De Villiers in die rivierdorpie Termas de Rio Hondo gesê. “En met nog net twee sneltrajekte oor, moet ons seker maak ons waag nie gevaarlike kanse nie. Ons kan Nasser nie meer met net spoed inhaal nie – al wat ons kan doen, is om uit te hou. Die oorwinning kan nog met ’n bietjie geluk ons kant toe kom.”

Dit was egter ’n frustrerende dag vir Leeroy Poulter en Rob Howie in die tweede Toyota-Imperial-Hilux. Hulle het in Sneltrajek 10 voor De Villiers/Von Zitzewitz geëindig, wat beteken hulle kon in Sneltrajek 11 voor hul spanmaats wegspring.

“Glyn Hall (die spanhoof) het ons vanoggend gevra om Giniel en Dirk te ondersteun,” het Poulter by die oornagtentkamp by Termas de Rio Hondo in Argentinië gesê. “Ons het dus vanoggend voor hulle weggetrek, maar afgetrek en gewag dat hulle verby kom. Dit het ons ’n rapsie meer as drie minute gekos, en hoewel ons daarna ’n skoon lopie gehad het, het ons steeds net die 16e vinnigste tyd opgestel.”

Die grootste teleurstelling in die Toyota-kamp was die onttrekking van die Saoediese private jaer, die nuweling Yazeed Alrahji en sy Duitse navigator, Timo Gottschalk. Hulle het in hul heel eerste Dakar gejaag en nie net mededingende tye regdeur die byeenkoms opgestel nie, maar selfs Sneltrajek 8 gewen. Hul Suid-Afrikaans geboude Toyota Hilux is identies aan die twee Toyota-Imperial-Hilux-renbakkies van De Villiers en Poulter.

“Yazeed en Timo was derde algeheel en dit het gelyk asof hulle ’n podiumposisie in hul eerste Dakar sou beklink,” het Hall by die eindpunt gesê. “Maar ’n elektroniese probleem met die spoedbeperker, wat gebruik word om te verhinder dat die motors die renorganiseerders se spoedperke oorskry, het onherstelbare skade aan hul renmotor se enjin veroorsaak. Ons het hard probeer om dit vanoggend tydens ’n dienspunt langs die pad reg te stel, maar kon dit net nie regkry nie en Yazeed moes hom aan die ren onttrek.”

Dit is ’n hartverskeurende einde aan die nuwelingjaer se puik veldtog. Hy en sy navigator het aan die begin van die jaer in Argentinië aangekom en almal met hul spoed en professionele benadering beïndruk – en dít ten spyte van die feit dat hulle nog glad nie die Toyota Hilux voor die Dakar gery het nie. Hulle was derde algeheel toe hulle uitval – net een posisie agter De Villiers/Von Zitzewitz.

Die ren nader vir die twee Toyota-Imperial-Hilux-jaers en die res van die oorblywende deelnemers nou die laaste twee sneltrajekte. Volgende kom Sneltrajek 12 oor ’n afstand van 298 km wat die deelnemers van Termas Rio Hondo na Rosario, waar die 2014-Dakar verlede jaar begin het, neem. Die deelnemers moet egter voor die wegspring van die sneltrajek eers ’n ooppadgedeelte van 248 km aflê, en ná die sneltrajek nog 478 km op gewone paaie ry. Dit is ’n massiewe trek in die rigting van die eindpunt, en kan die laaste kans vir ’n verandering aan die renvolgorde aan die voorpunt wees.

Dakar Stage 11 sky dune

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy Dakar-borge, spesialisverskaffers en tegniese vennote:

Hallspeed, TFM, Castrol, SKF, Spanjaard, Robor, 4×4 Megaworld, NGK, Donaldson, Mastercraft, Sat4Rent, Oakley, Edgecam, Supreme Springs, FreeM, Bosch, Smiths Manufacturing en Shatterprufe sowel as Duxbury Netgear, Innovation, Toyota Finansiële Dienste, SAA Cargo, Toyota en Imperial Toyota.

Posted on by jonckie

Comments Off on Stewige vertoning vir De Villiers terwyl spanopdrag Poulter terughou op Sneltrajek 11 van Dakar