Poulter beindruk terwyl De Villiers uithou op die 10de Skof van Dakar 2015

Poukter Howie Hall

SALTA – Nog ’n dag op die Dakar; nog ’n keer oor die Andes… Sneltrajek 10 het die deelnemers uit die stof van Calama in Chile oor die Andes en terug tot in die welige woude van Salta in Argentinië geneem. Onderweg het hulle ’n uitdagende sneltrajek oor 358 km aangedurf – een wat nog lank in die geheue van Leeroy Poulter en Rob Howie sal vassteek.

Dié Toyota-Imperial-Hilux-jaers het die dag in die 18e posisie algeheel begin en as die 37e motor op die pad weggespring (die wegspringposisies word deur die uitslag van die vorige sneltrajek bepaal, nie die algehele posisies nie). Dit het hulle nie net agter ’n magdom ander deelnemers in die motorafdeling geplaas nie, maar ook agter vyf massiewe renvragmotors wat geskiedkundig moeilik is om verby te steek.

“Ons het net een van daardie skaars, skoon lopies op die Dakar gehad,” het ’n oorstelpte Poulter by die oornagtentkamp by Salta, wat bykans onder water was, gesê. “Ons het al vyf vragmotors en dertien motors verbygesteek, en in die proses die vierde vinnigste tyd van almal aangeteken. Dit plaas ons in ’n puik wegspringposisie vir more – net voor Giniel en Dirk.”

Hoewel die algehele voorjaer, Nasser Al-Attiyah (MINI) die sneltrajek gewen het en sy spanmaat Orlando Terranova tweede was, was dit ’n hele Toyota-vloot wat hulle oor die eindstreep gevolg het. Die vinnigste van dié drie Toyota’s was die private Saoediese jaer Yazeed Alrahji in ’n Hilux wat identies aan die twee Toyota-Imperial-Hilux’e is. Sy tyd deur Sneltrajek 10 was 47 sekondes vinniger as dié van Poulter/Howie (#327), wat op hul beurt 18 sek vinniger as De Villiers/Von Zitzewitz (#303) was.

“Dit was ’n goeie dag vir die span in die geheel,” het die spanhoof, Glyn Hall, by die eindpunt van die sneltrajek gesê. “Leeroy en Rob het ’n ongelooflike sneltrajek gehad om vierde te eindig, en Giniel en Dirk het gedoen en die druk op Nasser gehou ten spyte van die feit dat hulle hul eie probleme gehad het.”

De Villiers-hulle het die wegspringpunt van die sneltrajek sonder probleme gehaal, maar toe Giniel sy renharnas vasmaak, het hy gesien een van die penne het skeefgetrek. Hy kon die gordels vaskry, maar die integriteit van sy veiligheidstelsel het regdeur die sneltrajek in sy onderbewussyn gespook.

“Vandag se sneltrajek was lank en moeilik, met baie plekke wat ’n mens kon uitvang,” het De Villiers by die eindpunt van Sneltrajek 10 gesê. “Dit was net soveel moeiliker omdat ek die hele tyd bekommerd was oor my veiligheid en kon net nie die gevoel afskud nie.”

De Villiers se kommer was baie geldig – verlede jaar se wenner en die vinnigste motor in Sneltrajek 9 vanjaar, Nani Roma (MINI), is in ’n skouspelagtige ongeluk in Sneltrajek 10 uitgeskakel. Die Spanjaard het ’n versteekte sloot in die pad teen hoë spoed getref en sy voertuig het vernietigend gerol. Hy en sy navigator het ongedeerd uit die wrak geklim, maar dit bewys net hoe selfs die bestes deur die Dakar en sy giere uitgevang kan word.

Die volgende sneltrajek is effens korter, hoewel daar steeds baie uitvangplekke is. Die sneltrajek is teen 194 km een van die korter uitdagings van die 2015-Dakar, en die hele ren verskuif van Salta na Termas Rio Hondo. Dit sal die elfde van 13 sneltrajekte wees, en hoewel dit oor ’n korter afstand is, kan uitputting steeds ’n rol speel. Niemand op die Dakar-ren is nie ná soveel dae se agtereenvolgende sneltrajekte tot op die been toe moeg nie, maar dit sou nie die Dakar gewees het as die maklik was nie.

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy Dakar-borge, spesialisverskaffers en tegniese vennote:

Hallspeed, TFM, Castrol, SKF, Spanjaard, Robor, 4×4 Megaworld, NGK, Donaldson, Mastercraft, Sat4Rent, Oakley, Edgecam, Supreme Springs, FreeM, Bosch, Smiths Manufacturing en Shatterprufe sowel as Duxbury Netgear, Innovation, Toyota Finansiële Dienste, SAA Cargo, Toyota en Imperial Toyota.

Posted on by jonckie

Comments Off on Poulter beindruk terwyl De Villiers uithou op die 10de Skof van Dakar 2015