Nuwe Honda Jazz -Deftig en Treffend

 Capture

 

  • Moderne, aantreklike stilering laat die koppe draai
  • Groter kajuit bied klasbeste ruimte en veelsydigheid
  • Geheel nuwe bak en onderstel is ligter en stywer
  • Langer asafstand bevorder stabiliteit en bevoordeel ritgerief en hantering
  • Lang lys aktiewe en passiewe veiligheidstandaarde, insluitende ses lugsakke vir alle modelle

Die geheel nuwe Honda Jazz is nou in Suid-Afrika beskikbaar. Dié jongste, derde-geslag Jazz spog met ’n splinternuwe voorkoms en meer kompakte afmetings, maar is nogtans ruimer binne, en bied ’n meer omvattende lys standaardtoerusting. Die nuweling is boonop algeheel meer doeltreffend, en verteenwoordig ’n aansienlike stap vorentoe in verglyking met sy uiters gewilde en suksesvolle voorganger.

Hoewel die splinternuwe Jazz op alle vlakke beter is, bly waarde en funksionaliteit egter steeds kernkenmerke van die nuweling.

Ruim, veelsydige kajuit

Honda se sogenaamde Magic Seat-sitplekstelsel, wat nog altyd een van die Jazz se sleutelkenmerke was, is eweneens deel van die jongste, derdegeslag-model se toerustinglys, en sorg vir ’n unieke vlak van aanpasbaarheid in dié segment.

Boonop beteken die bykomende beenruimte agter dat die nuwe Jazz met gemak sitplek vir tot drie passasiers agter bied.

Die binne-afwerkings weerspieël Honda se klem op tasbare gehalte, hoë vlakke van gerief en gebruiksvriendelike ergonomika. Die uitleg van die instrumentepaneel is ontwerp vir doeltreffende wisselwerking tussen die Jazz en sy insittendes, terwyl die afwerkings en materiale in die binneruim van uitsonderlike gehalte is.

Jazz inside 3

Geheel  nuwe konstruksie

Die bakkonstruksie van die nuwe Honda Jazz is nie net ligter as voorheen nie, maar ook sterker en stywer, wat aansienlike verbeterings aan die veer- en stuurstelsels toelaat. Die nuwe Jazz se onderstel maak vir ’n langer asafstand voorsiening, wat ritgehalte, stabiliteit en hantering bevoordeel.

Die nuwe bak se voorste gedeelte baat ook by Honda se jongste-geslag ACE (Advanced Compatibility Engineering), wat ontwerp is om die beste botsingsveiligheid moontlik te bied, en dus in die geval van ’n botsing die insittendes van die Jazz nog beter beskerm.

Treffende, moderne stilering

Die buitevoorkoms van die nuwe Jazz is onmiskenbaar Honda, en weerspieël ’n atletiese, kragtige ontwerpbenadring wat beide die modern styl en die dinamiese vermoeëns van die nuweling uitbeeld. Gemeet aan die sagter, geronde ontwerp van sy voorganger, lyk die nuwe Jazz meer liniêr en aggressief, met ’n vaartbelyne vooraansig, skerp gekantelde voorruit en duidelik omlynde sykante.

Kort bakoorhange, ’n gestroomlynde dakprofiel en sterk beklemtoonde wielboë tel ook onder die ontwerpkenmerke wat tot ’n oorkoepelende indruk van dinamiese vermoë bydra.

Die nuwe Jazz is in ses helder kleure beskikbaar: Taffeta-wit, Alabaster Silwer-metaal, Carnelian-rooi, Urban Titanium-metaal, Sunset-oranje, en Golden Brown-metaal.

Twee enjins, twee ratkaste

Die nuwe Honda Jazz bied ’n keuse van twee kragbronne: ’n nuwe, uiters doeltreffende viersilindereenheid van 1,2 liter, en die beproefde enjin van 1,5 liter wat ook in die vorige Jazz aangewend is. Albei eenhede is met Honda se i-VTEC intelligente, veranderlike kleptydreëlstelsel toegerus, wat beide doeltreffendheid en verrigting baat.

Wat ratkaste betref, is daar eweneens twee keuses: ’n vyfgang-handratkas, en ’n Voortdurend Aanpasbare Transmissie (CVT). Soos voorheen, is die nuwe Jazz voorwielaangedrewe.

Jazz inside 2

’n Reeks van sewe modelle

Die plaaslik beskibare Honda Jazz-reeks bestaan uit sewe modelle, met ’n keuse van twee enjins, twee ratkaste en vier spesifikasievlakke. Die mees bekostigbare Jazz is die 1.2 Trend, wat met ’n handratkas toegerus is, gevolg deur die Jazz 1.2 Comfort, wat met òf ’n handratkas òf die CVT-ratkas beskikbaar is.

Daar is ’n keuse van vier Jazz-modelle wat deur Honda se bekende viersilinderenjin van 1,5 liter aangedryf word. Die Jazz 1.5 Elegance en die 1.5 Dynamic-vlagskipmodel kan albei met òf die vyfgang-handratkas òf die CVT-ratkas bestel word.

“Die aankoms van die geheel nuwe Honda Jazz verteenwoordig ’n mylpaal vir die Suid-Afrikaanse mark,” sê Graham Eagle, bedryfsdirekteur van Honda Motor Suider-Afrika.

“Die Jazz spog reeds met ’n benydenswaardige reputasie vir aanpasbaarheid, veiligheid, doeltreffendheid en gehalte. Tog stel hierdie nuwe, derdgeslag-weergawe in alle opsigte selfs hoër maatstawe.”

Volgens Eagle bied die nuwe Jazz nie net ’n meer kompakte bakvorm nie, maar maak van ‘n langer asafstand en slim verpakking gebruik om ’n ruimer, meer aantreklike kajuit te skep wat boonop hoër vlakke van veelsydigheid en aanpasbaarheid behaal.

“Die nuwe Jazz blink op al dié vlakke uit, en lewer ’n uitsonderlike kleinmotorervaring wat ook buitengewone waarde weerspieël,” het Eagle afgesluit.

Jazz

Pryse

Die nuwe Honda Jazz is vanaf Februarie 2015 by Honda Motor Suider-Afrika se nasionale netwerk handelaars beskikbaar. Die pryse sluit ’n waarborg van

drie jaar/100 000 km. Alle Jazz-modelle buiten die Trend-intreevlakmodel word boonop met ‘n diensplan van vier jaar/60 000 km ondersteun. Die diensinterval is

15 000 km.

 

Jazz 1.2 Trend-handrat                 R179 900

Jazz 1.2 Comfort-handrat             R204 900

Jazz 1.2 Comfort CVT                   R221 900

Jazz 1.5 Elegance-handrat          R234 900

Jazz 1.5 Elegance CVT                 R249 900

Jazz 1.5 Dynamic-handrat           R249 900

Jazz 1.5 Dynamic CVT                  R264 900

Jazz assembly

Posted on by jonckie

Comments Off on Nuwe Honda Jazz -Deftig en Treffend