Toyota triargie in eindstryd van Donaldson-veldtydrenkampioenskap

Die woord ‘triargie’ kom uit die ou Romeinse tyd en is ’n beskrywing van ’n groep van drie leiers wat die mag deel. Dit gebeur min dat só gepaste woord die stand van sake in iets soos motorsport raakvat, dog het die drie spanne in die voorste geledere van die 2014-Donaldson-veldtydrenkampioenskap in hierdie uiters mededinge vorm van motorsport ongetwyfeld die hef in die hand. Daarbenewens is al drie in Toyota Hilux-renvoertuie.

Dié driemanskap sal in hierdie naweek se Atlas Copco-450, die laaste ronde in die 2014-Donaldson-veldtydrenkampioenskap, in aksie wees. Die ren, wat Vrydag en Saterdag 28 en 29 November in die weste van Gauteng beslis word, sal die slagveld vir die eindstryd om vanjaar se titel wees – en wat ’n stryd gaan dit nie wees nie!

Die verdedigende kampioen Anthony Taylor (Castrol-Toyota Hilux) met sy navigator Dennis Murphy langs hom, is ná ses van die sewe rondes waaruit die 2014-kampioenskap bestaan nadat een ren vroeër vanjaar afgelas is, aan die voorpunt. Hulle het altesaam 119 punte tot dusver dié seisoen losgejaag en is 14 punte voor hul naaste teenstanders.

Dié bedreiging is in die vorm van die Mpumalanga-broers Johan (agter die stuur) en Werner Horn (navigator), wat as private jaers in die gewese fabrieksingeskrewe Hilux in die kleure van Malalane Toyota jaag. En wat ’n seisoen het hulle nie gehad nie! Die broers het punte in elke ronde van die kampioenskap losgejaag, en hul heel eerste algehele oorwinning in Augustus in die Force Fuel-450 by Sun City aangeteken.

Leeroy Poulter en sy navigator, Rob Howie, wat in die tweede Castrol-Toyota Hilux jaag, is net twaalf punte agter hulle. Dit is Poulter se eerste volwaardige seisoen in die kampioenskap, hoewel hy in Januarie vanjaar ure se ondervinding in ’n soortgelyke toegeruste Toyota Hilux in die moordende Dakar-veldtydren opgedoen het. Hoewel hulle nog nie die soet van ’n eerste veldtydrenoorwinning gesmaak het nie, het Poulter-hulle ’n string mededingende vertonings in 2014 ingeryg. Maar selfs al is die algehele titel buite hul bereik, kan ’n goeie vertoning in die komende Atlas Copco-450 hulle dalk net in staat stel om die tweede plek voor die neuse van die Horn-broers op te raap.

“Die goeie nuus vir ons is dat Toyota met die titel sal eindig, ongeag wat gebeur,” sê die Castrol-Toyota-spanhoof, Glyn Hall. “Dit sal egter fantasties vir die span wees as Anthony dit ’n tweede agtereenvolgende kampioenskap kan maak.”

Poulter is onlangs as die nuwe Suid-Afrikaanse Nasionale Tydrenkampioen vir 2014 gekroon nadat hy en sy tydrennavigator, Elvéne Coetzee, die titel in die voorlaaste ronde van die kampioenskap reeds beklink het. Hy sal gewis probeer om as naaswenner uit die veldtydrenkampioenskap te tree om by sy suksesse vir die jaar te voeg.

In Klas S vir produksievoertuie met enjins tot vier liter en vaste agterasse, is die Ruwacon Racing-veteranjaer Jannie Visser en sy navigator Joks le Roux (Toyota Hilux) op die oomblik voor in die kampioenskap. Hulle is agt punte voor Deon Venter in die 4×4 Megaworld-Toyota Hilux, wat die naasvoorloper in die klas is.

Hierdie naweek se aksie begin Vrydagoggend om 11:30 met die voorren oor ’n afstand van 100 kilometer. Die uitslag van dié deel van die ren bepaal die wegspringposisies vir die hoofren wat Saterdagoggend om 8:30 begin. Die renhoofkwartier is by die Kloof-buiteklub, waarna die grootste deel van die ren in die omgewing van Hillshaven, South Deep en Kalbasfontein beslis sal word.

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy borge, spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota, die Imperial Toyota-groep, Duxbury Netgear, die Innovation-groep, Toyota Finansiële Dienste, SAA Cargo, Sat4Rent, Bosch, Castrol, DeWalt, Donaldson, Edgecam, 4×4 Mega World, Hallspeed, Mastercraft, NGK, Oakley, SKF, Spanjaard, freeM, Smiths Industries en TFM.

Besoek ook:

Veilige bestuur op grondpaaie

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota triargie in eindstryd van Donaldson-veldtydrenkampioenskap