Toyota bemoedig ingenieurswese deur voertuie te borg

Toyota Suid-Afrika Motors het onlangs nege voertuie aan Toyota Nigeria vir die uitsluitlike doel vir opvoeding en opleiding in die omgewing geskenk. Dié skenking is in pas met Toyota se benadering om die opheffing van opvoeding in Suid-Afrika sowel as die vasteland van Afrika te ondersteun.

Die voertuie, ’n mengsel van die plaaslik vervaardigde Corolla- en Hilux-modelle, sal deur Toyota Nigeria in vennootskap met ’n plaaslike universiteit gebruik word om belowende jong ingenieurs mee op te lei.

“Onderrig lê Toyota na aan die hart en ons poog voortdurend om te help waar ons kan. Toyota het talle programme en projekte wat opvoeding in Suid-Afrika en elders in Afrika ondersteun. Ingenieurswese is ’n baie belangrike studierigting vir Suid-Afrika en Afrika,” sê Dr. Johan van Zyl, President en Uitvoerende Hoof van Toyota Suid-Afrika Motors.

’n Toyota-handelaarskap in Nigerië het in sy bydrae tot onderrig ’n private universiteit in llara Mokin, in die staat Ondo in Nigerië, opgerig. Die vooraanstaande sakeman Michael Ade Ojo van Nigerië het die Elizade-universiteit op die been gebring met die hoofdoel om onderrig in sy land te verbeter.

Wat Suid-Afrika betref, fokus die Toyota-stigting op onderrig terwyl die Toyota Teach-projek as vlagskip-program bedryf word. Die projek het sedert 1991meer as 250 skole en oor die 20 000 leerders gehelp deur die gehalte van onderrig in skole in KwaZulu-Natal te verbeter. Toyota Teach benader die hele skool in sy ingryping en werk vir ’n tydperk van vier jaar saam met verkose skole op tien fokusgebiede, wat onderrigvaardighede en curriculum-ontwikkeling, skoolbestuur en -regering insluit.

“Ons fokus deur Toyota Teach op die aanvulling van geletterdheid, wiskunde en wetenskap vir jonger studente in die hoop dat dit ’n voorliefde vir hierdie vakke sal ontketen. Ons vertrou op ons beurt dat hierdie studente die volgende geslag Suid-Afrikaanse ingenieurs, opvoeders en professionele mense sal word,” sê Dr. van Zyl.

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota bemoedig ingenieurswese deur voertuie te borg