Nuwe Lexus-oopdak-ontwerp maak sy buiging op Los Angeles-Motorskou

Die Los Angeles-Motorskou was die gasheer vir die wêreldbekendstelling van die nuwe LF-C2-konsepmodel, ’n 2+2-roadster-ontwerp wat die kerntemas in ’n sterk futuristiese stylrigting vir Lexus saamvat.

Jeff Bracken, groepvisepresident en hoofbestuurder van Lexus VSA, het die LF-C2-konsepmodel onthul en gesê: “Hierdie konsepmodel toon Lexus se toewyding tot emosionele ontwerpe en sy passie vir ’n uitmuntende ry-ervaring vir verbruikers regoor die wêreld.”

Die konsepmodel is op ’n suiwer en eenvoudige sportkoepee-gedagte gegrond, en pronk met ’n uiters gestileerde 2+2-uitleg. Die model, wat ontwerp is met die doel om die bestuurder en passasier die beste oopdak-ry-ervaring denkbaar te gee, het nie ’n dak of enige vorm van kajuitbedekking nie.

Die stilering van die buitekant is deur die wyse waarop oppervlakvorms op lig reageer, beïnvloed. Die ontwerpers het skerp kante, plat oppervlakke en kurwes geskep wat die LF-C2 in staat stel om ’n ander soort karakter uit te straal wanneer dit uit verskillende hoeke en in wisselende ligtoestande gesien word. Hierdie benadering tesame met ’n laag-vir-laag-verfproses lei tot ’n treffende voorkoms en ’n progressiewe vertolking van ’n daklose weelde-GT.

Die skoumotor se goudgeel afwerking is geskep deur ’n verfproses met veelvuldige lae in te span. Die onderlaag is opgevolg deur silwer, ’n deurskynende laag, en dan ’n geel laag wat teen die silwer weerkaats om vir ’n briljante glans te sorg, waarna dit deur ’n bo-laag afgerond is.

Yasuo Kajino, die LF-C2 se hoofontwertper, het dit só gestel: “Ons word instinktief aangetrek en geinspireer deur goed wat die prag van lig vasvang. Wanneer ’n mens so-iets in die regte lig plaas, sien mense dit op ’n manier waarop hulle dit nog nooit voorheen gedoen het nie.”

Die konsepmodel het ’n eksperimentele weergawe van Lexus se kenmerkende uurglasrooster wat ’n driedimensionele gevlegte maasdraadvoorkoms het wat ware Lexus-vakmanskap weerspieël. Die rooster sit tussen driehoekige ligdiode-kopligte – iets wat hy met ander Lexus-sportmotors deel – en rigtingwyserligte waaruit ’n karakterlyn regdeur die pylvormige romp tot by die motor se kort stertkant vloei. Luginlate in die voorste buffer herlei verkoelingslug na die remme en help dat die lugvloei die voorkant teen hoë snelhede bestendig hou.

Van die kant gesien het die motor ’n vloeiende lyn wat van die voorste buffer tot die baie skuins A-pilaar strek. Klein luginlate in die syskorte herlei lug na die agterste remme, wat daarna weer deur vinagtige verspreiers aan die agterkant uitvloei. Die agterkant het L-vormige stertligte en vier verchroomde stertuitlaatpype met ’n uitstaande nuwe ontwerp. Die konsepmotor is met 20”-vyfspeek-allooisierwiele geskoei.

Aan die binnekant word ’n ruim en weelderige kajuit aangetref wat by die sportelegansie van die buitekant aanpas. Trouens, die buitekant-stilering strek tot in die kajuit waar die middelkonsole uit die agterdek ontspring in ’n lyn wat deur die hele lengte van die kajuit tot in die voorpaneel strek. Die voorpaneel self spreek van ’n praktiese eenvoud met ’n aantreklike dog doodgewone instrumentehuisie, ’n middelgemonteerde skerm wat met ’n afstandgemonteerde raakskerm beheer word, en ’n klassieke syferhorlosie tussen die middelste twee luguitlate. Die gehalte van dié bestuurdersmotor word in die dik, leerbeklede stuurwiel en vormpassende sitplekke weerspieël.

Die binneruim-ontwerpers het daarna gestreef ’n gebalanseerde atmosfeer van krag en eenvoud te skep wat die hoofsintuie betrek: sagte wit en grys leeroppervlakke, en ligdiodes al langs die binnelyn onder die vensterlyn.

 

LF-C2-afmetings

Lengte (mm) 4,715
Breedte (mm) 1,840
Hoogte (mm) 1,385

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Nuwe Lexus-oopdak-ontwerp maak sy buiging op Los Angeles-Motorskou