Toyota-Handelaars Wys Die Omgewingsweg Aan

Die beskerming van die omgewing en die daarstelling van ’n volhoubare Suid-Afrika is nog altyd een van Toyota Suid-Afrika Motors se grootste voorkeure. Verskillende programme is ontwikkel om die uitwerking wat Toyota se vervaardigingsaanleg in Durban sowel as sy bedrywighede in Johannesburg op die omgewing het, te verminder.

Toyota het as deel van sy doelwit om ’n volhoubare Suid-Afrika te help handhaaf, ook ’n projek ingestel om te verseker dat al sy handelaars sy oogmerk om die omgewing te beskerm, ondersteun.

“Die handelaarsomgewingsrisiko-ouditprogram (DERAP) is in die lewe geroep om handelaars te lei om verskillende grondmaatreëls in te stel om die omgewing te beskerm. DERAP monitor en meet die handelaar se vordering en verrigting op grond van die voorgeskrewe maatreëls,” sê John Oliver, Toyota se Vise-President vir Klantediens.

Die handelaarshoof is uiteindelik verantwoordelik vir die handelaarskap se vertoning wanneer dit by die toepassing van die vyf grondbeginsels van die program kom, wat die aanwysing van ’n personeellid om in beheer van die omgewingsprojekte te wees, insluit. Die ander aspekte behels die vertoning van ’n afvalbeheerverklaring in die handelaarskap, om afval korrek ingevolge wetgewing te hanteer, behoorlike waterdreineringstelsels by die handelaarskap, en die korrekte herwinning van verkoelingsvloeistowwe.

Toyota vereis van al sy handelaars regoor Suider-Afrika om al die fundamentele beginsels by elke handelaarskap in werking te stel. Die handelaarskap word ’n ECO1-status toegeken sodra die program in werking gestel is en gevolg word.

“Ons is baie trots op ons handelaars se ECO1-status. Altesaam 95% van ons handelaars het reeds die ECO1-status. Ons wil uiteindelik al ons handelaars op die ECO3-vlak hê. Ons bedank al ons handelaars vir hul voortgesette harde werk wat ons omgewingsbeleid betref. Ons sal hulle bly steun in hul strewe om ’n meer voulhoubare Suid-Afrika te help skep,” sê Oliver.

ECO3 is ’n vrywillige program wat die grondbeginsels sowel as ander programme waarby handelaarskappe moet aansluit, behels. ECO3 is die nasionale wetlike vereiste vir alle handelaarskappe. Altesaam 89 Toyota-handelaarskappe het van Augustus 2014 af reeds ECO3-status bereik.

Die huidige DERAP-program is in 2004 begin. Elke handelaar word twee keer per jaar geoudit om te verseker hulle voldoen aan die grondbeginsels van die program.

“Toyota streef regdeur die hele organisasie na die drie belangrikste aspekte – verminder, hergebruik en herwin. Ons is deur ons omgewingsveldtogte daarop gerig om ons water- en energie-verbruik, afval, gevaarlike stowwe en papiergebruik te verminder. Ons hergebruik so ver as moontlik en herwin alles wat ons kan. Alle papier, blikkies, plastiek en glas word by die oorsprong van sulke afval gesorteer en na herwinningsaanlegte gestuur. Ons gooi sekere afval net as laaste uitweg weg, maar maak seker dit word binne die wetlike vereistes hanteer,” sluit Oliver af.

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota-Handelaars Wys Die Omgewingsweg Aan