Toyota gehalte kraai koning in Ipsos-peiling

Ipsos Suid-Afrika het pas die 2014-toekennings vir produkgehalte en klante-ervaring aangekondig, en die gehalte wat sinoniem met Toyota Suid-Afrika Motors is, was duidelik onder die 18 handelsname van 12 vervaardigers te sien.

Toyota het die afdeling vir ligte handelsvoertuie geheel en al oorheers met die beste ligtehandelsvoertuigfabrikaat algeheel (PP100-telling van 39), die beste eenton-enkelkajuitfabrikaat algeheel (39), die beste eenton-dubbelkajuitfabrikaat algeheel (39) en die beste aanleg vir plaaslik vervaardigde ligtehandelsvoertuie (38).

“Gehalte is nog altyd ’n groot deel van die verbruiker se koopbesluit. Ons glo dat die aard van die bedryf ’n hoër algehele standaard, wat gehalte en klantetevredenheid insluit, vereis. Toyota se kernbenadering is gehalte, betroubaarheid en duursaamheid.. Ons streef voortdurend daarna om hoë gehalte te handhaaf,” sê Calvyn Hamman, Toyota se Senior Vise-President van Verkope en Bemarking.

Daarbenewens het Toyota ook ’n silwer toekenning in die afdeling vir beste hoëvolume-passasiersmotorfabrikaat en ’n brons in die afdeling vir die beste aanleg vir plaaslik vervaardigde passasiersmotors met ’n telling van 28 in al twee afdelings losgeslaan. Toyota het ook drie goud-toekennings in die elf onderafdelings in die passasiersmotor-segment gewen. Dit was vir die Toyota Auris (beste luikrug), die Toyota Avanza (beste veeldoelvoertuig), en die Toyota FJ Cruiser (klein ontspanningsvoertuig).

Die Ipsos-peiling is die grootste van sy soort in Suid-Afrika en is deel van Ipsos se gesindikeerde voertuignavorsing. Die peiling behels meer as 10 000 onderhoude met voertuigeienaars elke jaar. Die gehaltepeiling word drie maande nadat iemand ’n nuwe voertuig gekoop het, gedoen ten opsigte van die aantal probleme wat met die voertuig ervaar is.

Die bedryfsgemiddelde aantal probleme per 100 voertuie (uitgedruk as PP100) is al van 2011 nagenoeg 40 PP100, wat ’n groot verbetering teenoor 2005 is toe dié syfer op nagenoeg 140 probleme per 100 voertuie gestaan het.

Die tweede deel van die peiling behels die Klantetevredenheidsafdeling wat diep in die klant se ervaring by die handelaarskap delf.

Toyota het die louere in die afdeling vir ligte handelsvoertuie ingeoes, terwyl Lexus goud in die afdeling vir passasiersmotors verower het. Toyota het in geheel ’n silwer toekenning vir die passasiersvoertuig-koopervaring en brons vir die dienservaring losgeslaan, en nog ’n silwer toekenning vir die LHV-koopervaring.

“Ons werk hard saam met ons handelaars om te verseker dat ons ’n hoë klantetevredenheidservaring handhaaf. Ons het verskillende projekte in werking gestel om handelaars te ondersteun ten einde die klante-ervaring vir alle kopers te standardiseer,” sê Hamman.

“Ons waardeer en verwelkom al die terugvoer van ons klante. Ons wil ook ons handelaars met die skitterende uitslag geluk wens. Ons is trots op al die werk wat hulle vir ons doen en sal voortgaan om ons handelaarsnetwerk op hierdie reis te steun. Ons teiken is om die Nommer 1-posisie in klante se ervaring te wees, en ons is seker ons sal dit met die hulp van ons handelaars kan vermag,” sluit Hamman af.

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota gehalte kraai koning in Ipsos-peiling