Toyota steun entrepreneursontwikkeling

Toyota Suid-Afrika Motors het in vennootskap met die Afrikaanse Handelsinstituut (AHi) reeds bykans drie honderd en vyftig studente as deel van hul entrepreneurs-ontwikkelingskursus opgelei. Die suksesvolle tweede fase van die opleiding is pas voltooi.

Die AHi het ’n skenking van Toyota Suid-Afrika spesifiek vir die ontwikkeling van entrepreneurskap ontvang. Dié skenking is vir Kamers van Koophandel wat bereid is om ’n progressiewe stap te neem om potensiële entrepreneurs uit voorheen benadeelde gemeenskappe uit te soek en op te lei. Dié kandidate word dan aan ’n meer formele sake-omgewing blootgestel, wat die sakekamer in staat stel om sy grense oor die tradisionele strukture van die verlede te verbreed.

“Toyota is trots om deel van hierdie insiatief te wees,” sê Dr. Johan van Zyl, President en Uitvoerende Hoof van Toyota Suid-Afrika Motors. “Ons maatskappy is verbind tot voortdurende verbetering en behoorlike opleiding op alle vlakke, wat die ontwikkeling van entrepreneursvaardighede insluit. Suid-Afrika is een van die grootste entrepreneursmarkte ter wêreld – die beste manier om werkloosheid te bestry. Hierdie jong entrepreneurs kan met behoorlike opleiding en opvolg-menteringsbesoeke die leiers van die toekoms word.”

Die opleiding word onder die beheer en toesig van ’n sakekamer gedoen. Die opleiding van aspirant- en opkomende entrepreneurs deur sakekamers was tot dusver ’n groot sukses en bykans 350 jong mense het al die opleidingsprogramme bygewoon.

“Die primêre doel van die kursusse is om entrepreneurs met die nodige kennis toe te rus om entrepreneursvaardighede en potensiaal te ontwikkel, maar ook om jong mense van verskillende agtergronde te betrek, se Dr. van Zyl

Die kursusmateriaal behels onder meer hoe om ’n sakeplan op te stel, ’n infrastruktuur daar te stel, ’n onderneming te finansier, ’n struktuur vir menslike hulpbronne te ontwikkel, ’n onderneming te bemark, ’n sake-entiteit te bepaal, ’n onderneming te monitor, bestuur en leierskap sowel as om die volhoubaarheid van ’n onderneming te onderhou.

Die kursus is goed deur die kursusgangers ontvang, en terugvoer is postief. Van die kommentaar wissel van “die mees prakties gerigte kursus wat nog aangebied is” tot “’n veranderde siening oor hoe om ’n besigheid te bedryf”.

Die Toyota-befondsing is gebruik vir opleiding by Hammanskraal en Eersterust deur die Vanderbijlparkse Sakekamer, wat dit in samehang met die Vaal-kampus van die NWU onderneem het. Die Oudtshoorn-sakekamer het opleiding in Bridgton en Bongolethu gedoen, terwyl fasiliteringskursusse by Sterkspruit en Tsitsikamma aangebied is.

Die tweede fase van die Toyota-befondsing is die afgelope jaar gebruik om kursusse en opvolg-menteringsbesoeke aan individual entrepreneurs in George, Gansbaai, Robertson/Bonnievale, die Khwa Ttu San-opleidingsentrum in Malmesbury, en meer onlangs ook in Port Elizabeth by die New Horizons-ontwikkelingsagentskap in Bloemendal te bring. Die AHi het ook ’n eendagkursus vir swart vroue gehou wat in ’n losse koöperatief saamgebind is en hul eie klein ondernemings bedryf.

“Ons is baie in ons skik met die uitslag van hierdie projek tot dusver en sal voortgaan om die AHi te steun in sy werk om mense van ’n voorheen benadeelde agtergrond op te hef en toe te rus,”  sê Dr. Van Zyl.

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota steun entrepreneursontwikkeling