Lexus is een om dop te hou… só sê die motortydskrif CAR

Lexus is as ’n “maatskappy wat dopgehou moet word” in die motortydskrif CAR Magazine se gesogte jaarlikse 2014-motortoekennings aangewys, wat erkenning aan uitstaande motorvoertuig-vernuf  gee. Die geselligheid is vandeesweek by Campus in Fourways gehou.

CAR se redakteur, Steve Smith, sê Lexus is besig om ’n revolusie te beleef. “Dit het met die GS begin, momentum met die IS gekry en beur voort met die pragtige RC F-koepee. Ons sien baie daarna uit om die volgende stap in Lexus se herlewing te sien.”

Justin Ryan, Hoofbestuurder van Lexus Suid-Afrika, is met reg baie trots op hierdie toekenning. “Dit is ’n groot beloning vir Lexus om op hierdie manier erken te word. Dit herbevestig die gehalte wat nog altyd die kern van ons fabrikaat is – weelde, verfyning en tegniese nuwighede. Iets wat egter selfs nog belangriker is, is dat dit wys hoe suksesvol ons met die dinamiese herlewing van Lexus met die bekendstelling van elke nuwe model is.”

Hoewel mense uit die aard van die saak opgewonde is oor die koms van toekomstige modelle soos die RC en RC F-koepee (wat teen die einde van die jaar in Suid-Afrika verwag word), het Lexus nie op sy louere gerus nie. Twee staatmakers in die Lexus-reeks – die uiters talentvolle GS en die sportiewe, dog praktiese RX – het albei ’n effense 2014-verjongingskuur ondergaan.

GS 450h SE / 350

Die nuwe GS, wat ’n hele hersiening van ’n weelde-sedan met veel groter klem op rydinamika verteenwoordig, dog steeds die Lexus-standaard van binneruimweelde en algehele bougehalte behou, het groot byval by kritici regoor die wêreld gevind. Sy breër spoor, meer regstreekse stuur, klankontwikkelde uitlaatstelsel, outomatiese ratkas met direkte krag-oordrag en pedaalwissels aan die stuur, gevorderde remtegnologie met lugverkoelde skywe en ruim gebruik van aluminium regdeur, gee die nuwe GS ’n dinamiese herlewing.

Die GS bied in ware Lexus-styl ’n ongeëwenaarde lys weelde-items as deel van sy standaard-toerusting.

Die GS 350 pronk met eienskappe soos ’n intelligente klimaatbeheerstelsel, Lexus se vooraanstaande klankstelsel, elektries verstelbare voorsitplekke en stuurwiel, en volledige hoëgraadse leerbekleedsel regdeur. Maar die grootste nuus vir 2014 is die gebruik van ’n outomatiese 8-gang-Sport Direct Shift (SPDS)-transmissie wat op dié van die LFA gegrond is en uit die Lexus IS F kom. Daarbenewens sal die GS 350 op aandrag van Lexus-klante nou vir die eerste keer in Suid-Afrika ook met die F-SPORT-rompstel beskikbaar wees.

Die lys bykomstighede het in die geval van die GS 450h-modelle effens gegroei danksy die volkleur-weerkaatsskerm wat nou deel van die standaard-toerusting is. Die 450h, wat met ’n soortgelyke V6-petrolenjin as dié van die GS 350 toegerus is, bied 345 Nm se wringkrag en is vir maksimum-kraglewering van 213 kW ingestel. Dit word verder deur ’n kragtige elektriese motor en hoëverrigting-battery aangevul wat die algehele stelselverrigting tot 252kW verhoog. Die elektriese motor gee ook ’n bykomende 275 Nm vir nog meer indrukwekkende reaksie. Die dryfstelsel is aan ’n E-CVT-palwisseltransmissie gekoppel.

 

RX 350 EX (nuwe persfoto’s is beskikbaar)

Die gewilde RX-reeks het in 2012 reeds die nuwe korporatiewe Lexus-identiteit en uurglas-sierrooster gekry. Dié model is weer vir die 2014-modeljaar met ’n nuwe voorkomspakket verfris, wat nou deel van die RX 350 EX se standaard-toerusting is. Hierdie pakket behels ’n herontwerpte voorbuffer met groter luginlate om die motor ’n meer gespierde vooraansig te gee.

Ander veranderings sluit in nuwe 19”-allooisierwiele (teenoor die 18”-wiele van die uitgaande model), sowel as ligdiode-misligte voor. Die RX 450h SE se jongste opgradering sluit in die ligdiode-binnebeligtingspakket sowel as die gebruik van die geïntegreerde sportbestuurstelsel wat die bestuurder in staat stel om die rymodus vir ekonomiese (Eco), gewone (Normal) of sportiewe gebruik (Sport) in te stel.

Posted on by jonckie

Comments Off on Lexus is een om dop te hou… só sê die motortydskrif CAR