Die nuwe Aygo: Toyota verhoog pretfaktor in blinknuwe stadsmotor

Die nuwe Aygo, wat pas by die Geneefse motorskou onthul is, is nog ’n voorbeeld van Toyota se verbintenis om immer beter gehaltemotors te bou wat die oog vang en werklik pret is om te bestuur. ’n Kenmerkende en karaktervolle ontwerp – wat met verwysing na Japan se moderne jeugkultuur “J Playful” genoem word – en ’n magdom moontlike ombouings wys hoe Toyota pret en genot deel van die bou en ontwerp van dié nuwe stadsmotor maak.

Die nuwe Aygo bou terselfdertyd voort op die gehalte wat die oorspronklike model só ’n sukses regdeur sy leeftyd gemaak het deur die motor kompak, rats en betroubaar met werklik lae loopkoste te hou. Laasgenoemde word gesteun deur sy hersiene en bekroonde drielinder-VVT i-enjin van 1,0 liter wat die beste brandstofekonomie en CO2-uitlaatgasse bied.

Volledige besonderhede oor die Suid-Afrikaanse modelreeks en pryse sal nader aan die plaaslike bekendstelling later vanjaar aangekondig word.

Buite-ontwerp

Kompakte verpakking was deurslaggewend tot die ontwerp van die nuwe Aygo om die motor sy stadsvriendelike hantering te laat behou. Sy algehele lengte is met 25 mm tot 3 455 mm verleng, wat beteken hy behou die kompakte verpakking van die vorige model, wat die beste in sy klas was. Hoewel die voorste kopruimte met 7 mm verleng is, is die voertuig se hoogte met 5 mm tot 1 460 mm verminder, wat sy lugdinameise doeltreffendheid verhoog. Die voorste en agterste spoor is elk 8 mm breër.

Die nuwe Aygo is nou wel kompak en het ’n karaktervolle voorkoms, maar hy is stewig en lyk heeltemal tuis op straat. Sy stewigheid is te danke aan ’n sterk vorm wat die ontwerp sy kernvolume gee. Maar om die genot-aspek toe te voeg, het die ontwerpers die beginsel van ’n sagte voorkoms wat deur die harde dop van die ontwerp breek gebruik, wat lyne breek en die Aygo sy kenmerkende voorkant-X-voorkoms gee. Dit word na agter oor die oppervlak van die romp uitgebrei, en behels al die voertuig se buite-eienskappe, wat die boonste en onderste sierrooster, kopligte, misligte en selfs die deurspieëls en kant-sierstroke insluit.

Van die kant gesien is die dak laer terwyl die voorkant effens vorentoe geskuif is. Die gevolg daarvan is dat die kajuit se swaartekragmiddelpunt ook vorentoe skuif, wat ’n meer gebalanseerde en effense vooroorhouding skep. Dit word verder deur ’n skuins gordellyn beklemtoon wat in die ingeboude agterste lugskort doodloop. Die dak self het ’n nuwe pagode-styl profiel en ’n integrale agterste drukvlerk. Die vorm van die kantvensters verskil tussen die drie- en vyfdeur-modelle, waarvan laasgenoemde sy venstergrafika tot in die stertligte verleng en die indruk van bykomende lengte gee.

Die agterkant het ’n soortgelyke ontwerptema as dié van die voorkant, en die stertdeur en onderste buffer vorm breuklyne in die voertuig se soliede oppervlak. Die lighulsels is in die seskantige stertdeur ingebou, terwyl die boonste buffergedeelte tot in die uitgeboude wielnisse strek, wat die motor ’n breë en stabiele houding gee.

 

Binneruim-ontwerp

Die middelkonsole se trapesium-vorm gee die pas vir die nuwe Aygo se binneruim aan en word in die detail van die luguitlate, deurbeslag en die omgewing van die ratkierie weerspieël. Die konsole ondersteun die breë voorpaneel met ’n dowwe nie-weerkaatsende afwerking tussen twee dunnerige A-pilare. Die nuwe instrumentehuisie sluit ’n meter in wat uit ringe bestaan wat permanent verlig word. Die meter het ook ’n inligtingvertoonskerm wat maklik leesbaar is.

Hoewel die asafstand onveranderd op 2 340 mm staan, is die kajuit 9 mm langer. Breër armstutte verhoog gemak nog verder. Die bagasieruimte het ook meer plek – ’n bykomende 29 liter – en laaiwerk is nou nog makliker danksy die ruimte tussen die drumpel en agterste sitplekrugleuning wat met 5 mm vergroot is.

Ombouing

Die nuwe Aygo sal in Europa met ’n magdom omboumoontlikhede bekend gestel word, wat kopers in staat sal stel om ’n motor aan te skaf wat werklik uniek is. Aan die buitekant sal die nuwe X-vormige voorste sierrooster, invoegsel vir die agterbuffer en allooisierwiele alles vir ’n spesifieke smaak aangepas word, terwyl die instrumentepaneel, middelkonsole, luguitlate, ratkierieknop en die omgewing van die ratwisselmeganisme maklik verander kan word – selfs jare nadat die motor aangeskaf is.

Om dinge nog makliker te maak, kan kopers ook uit ’n reeks binne- en buite-stileringspakkette kies eerder as om stukkie vir stukkie ombouingsbybehore te kies. Ombouingskeuses vir die Suid-Afrikaanse mark sal beperk wees om die prys so bekostigbaar as moontlik te hou.

Multimedia-x-raakskermstelsel

Die nuwe Aygo sal met Toyota se nuwe multimedia-x-raakskermstelsel beskikbaar wees. Dié stelsel gebruik ’n ten volle geïntegreerde sewensduim-raakskerm. Dit is die eerste stelsel in dié segment wat ’n truratkamera as deel van sy standaard-toerusting het (neem asseblief kennis dat die toerusting vir die SA toegeruste Aygo eers nader aan die bekendstelling bekragtig sal word).

Kragbron

Die nuwe Aygo pronk met ’n heeltemal hersiene weergawe van Toyota se bekroonde driesilinder-eenliter-enjin. Dié enjin is hersien en gebruik ’n hoër drukverhouding wat nou op 11,5:1 te staan kom, en het ’n verbeterde ontbrandingskamer-ontwerp wat meer doeltreffend is. Wrywingsverlies is hoofsaaklik deur die gebruik van ’n nuwe laewrywings-tydketting verminder. En hoewel dit steeds een van die ligste enjins in die mark is, is nog meer gewig bespaar deur ’n silinderkop te gebruik wat ’n ingeboude uitlaatspruitstuk het.

Dié enjin het ook meer krag en wringkrag: 51kW teen 6 000 r/min en 95 Nm teen 4 300 r/min. Altesaam 85 Nm van sy wringkrag is vanaf net 2 000 r/min reeds beskikbaar.

Die nuweling sal met ’n vyfgang-handratkas beskikbaar wees. Sommige internasionale markte sal ook die bykomende x-shift bied – ’n outomatiese handratkas wat vir volle outomatiese werking of met handratwisseling met wisselpedale of die ratkierie self gebruik kan word.

Toyota was met al hierdie veranderings versigtig om nie die enjin se bekende wakker karakter prys te gee nie. Die enjin sal steeds doodgelukkig teen hoë enjinsnelhede kan sing, en hoewel klankdigting verbeter is, sal sy sportiewe klank steeds hoorbaar wees wanneer hy hard gedruk word.

Omvattende werk is ook gedoen om sy lugdinamiese eienskappe te verbeter, wat tot ’n beter sleursyfer gelei het – Cd 0.29 teenoor die vorige 0.30.

Hierdie verbeterings werk alles saam om die nuwe Aygo se brandstofverbruik in die gekombineerde siklus van sy vorige 4,4 liter per 100 kilometer tot net 4,1ℓ/100km* en sy CO2-uitlaatgasse tot 95g/km* te verminder – heelwat laer as die 100g/km-maatstaf vir die uitsluiting van bykomende belasting (VED).

* Voorlopige Europese syfers voor finale homologasie.

 

TEGNIESE SPESIFIKASIES

ENJIN

Nuwe Aygo 

Soort

1.0 VVT i

Brandstof

Petrol

Klepwerking

4-klep-dubbelbonokas

Verplasingsinhoud (cc)

998

Boor en slag (mm)

71 x 84

Drukverhouding

11.5:1

Maksimum-kraglewering

(kW @ r/min)

51 @ 6 000

Maksimum-wringkrag

(Nm @ r/min)

95 @ 4 300

REMME
Skywe voor (mm)

247 x 20

Trommels agter (mm)

200

VERING
Voor

MacPherson-stutte

Agter

Wringstaaf

TRANSMISSIE
Soort

handrat

VERRIGTING
Topspoed (km/h)

159

0-100 km/h (sek)

14,2

BRANDSTOFVERBRUIK (onderworpe aan finale homologasie)
Gekombineer (l/100km)

4.1

Tenkinhoud (ℓ)

35

CO2-UITLAATGASSE (onderworpe aan finale homologasie)
Gekombineerde siklus (g/km)

    95

GEWIG
Padgewig (kg)

840 – 890

Bruto massa (kg)

1 240

BUITE-AFMETINGS
Lengte (mm)

3 455

Breedte (mm)

1 615

Hoogte (mm)

1 460

Voorste oorhang (mm)

675

Agterste oorhang (mm)

440

Asafstand (mm)

2 340

Sleursyfer (Cd)

0,29

Wielgrootte

14 of 15

Bandgrootte

165/65R14 of 165/60R15

BINNE-AFMETINGS
Binneruim-lengte*

1 630*

Binneruim-breedte*

1 250 (3-deur)

1 300 (5-deur)

Binneruim-hoogte

1 205 (gewoon)

1 155 (sagtekap)

 

Bagasieruimte (ℓ)

168

       

 

* van versnellerpedaal tot agtersitplek-heuppunt

Posted on by jonckie

Comments Off on Die nuwe Aygo: Toyota verhoog pretfaktor in blinknuwe stadsmotor