Toyota lei stiller kleinhandelsmark

  • Toyota behou sy posisie as markleier
  • Uitvoerverkope daal namate vervaardigers modelreekse verander
  • Nuwe Corolla word verwag om verkope van Maart af te laat versnel
Marksegment Januarie 2013 Januarie 2014 %-verandering
Passasiersvoertuie

40 865

38 008

-7,00%

Ligte handelsvoertuie

14 067

13 145

-6,6%

Medium handelsvoertuie

780

780

Swaar handelsvoertuie

329

265

-19,5%

Ekstraswaar handelsvoertuie

819

769

-6,1%

Busse

39

58

+48,7%

Voertuig-uitvoer

17 393

13 960

-19,7%

Algehele mark (plaaslik)

56 899

53 025

-6,8%

Toyota Suid-Afrika Motors het in Januarie 10 659 nuwe voertuie aan klante voorsien en die nuwe jaar as markleier in Suid-Afrika afgeskop. Dié syfer verteenwoordig ’n aandeel van 20,1% in ’n mark wat met 6,8% teenoor dieselfde maand in 2013 gedaal het.

“Die mark toon duidelike tekens van ’n afname buiten die gewone seisoenale ongelykhede wat ons in Januarie verwag,” sê Calvyn Hamman, Senior Vise-president van Verkope en Bemarking by Toyota Suid-Afrika Motors.

Hamman verwys na die algemene gebruik waar talle nuwevoertuig-eienaars en selfs sekere motormaatskappye die registrasie van nuwe voertuie wat in Desember verkoop is, tot die nuwe modeljaar uitstel. Dit lei tot ’n daling in die aangemelde verkope in Desember en ’n sprong in verkope in Januarie.

“Ons verwag dat die mark in 2014 tot dieselfde vlak as in 2013 sal stagneer of selfs effens kan daal, en die eerste maand se verkope is bewys daarvan,” sê Hamman. “Dit is deels te danke aan die onderliggende ekonomiese aanwysers, soos stygende inflasie, ’n verswakkende rand en stygende verbruikerskuld. Die onlangse rentekoersverhoging, hoewel klein, het ’n verdere negatiewe sein aan verbruikers gestuur.”

Verkope aan voertuigverhuringsmaatskappye, wat op 7 154 eenhede ofte wel 13,4% van algehele verkope te staan kom, het verkope ’n ongewone hupstoot gegee, terwyl kleinhandelverkope – ’n barometer van private kopers se ekonomiese werklikheid – altesaam 80,9% van alle voertuie wat verkoop is, verteenwoordig. Verlede maand het hierdie deel van die mark 82% verteenwoordig.

Januarie se verkoop- en vervaardigingsyfers is ook deur vervaardigingsaanpassings van sekere hoëvolumemodelle beïnvloed. Die voorbereiding vir Toyota se nuwe Corolla, wat van Maart af plaaslik te koop sal wees, beteken dat die 1 110 eenhede wat in Januarie van die hand gesit is, nie die ware markvereiste van die Corolla weerspieël nie.

Ander vervaardigers het ook hul modelreekse aangepas, en die daaropvolgende daling in vervaardiging het algehele uitvoersyfers geraak, wat met 19,7% teenoor dieselfde maand in 2013 gedaal het.

“Ons moet onthou dat Januarie se kleinhandelverkope ten spyte van die laer verwagtinge van verkope in 2014 steeds hoër of soortgelyk aan die markhoogtepunt van 2007 is. Ons verwag dat die mark hierdie tempo vir die res van die jaar sal behou of effens sal daal namate voertuigpryse by die swakker rand aangepas word en kopers hul keuse in reaksie op die stygende koste van skuld sal verander,” sê Hamman.

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota lei stiller kleinhandelsmark