Bridgestone maan motoriste om versigtig te bestuur op nat paaie

Bridgestone het die behoefte aan genoeg loopvlak beklemtoon in ’n poging om motorryers te help voorkom dat hul motors in water gly. Dié bandevervaardiger het gereageer op die baie reënprobleme in Gauteng, wat in die eerste maand van die nuwe jaar tot ’n string botsings gelei het.

“’n Band het goeie klouvermoë op die padoppervlak nodig om behoorlike beheer te verseker,” het Jan Maritz, Bridgestone se promosiebestuurder, gesê. “Die meeste bestuurders verbind ’n gebrek aan klouvermoë met situasies soos wanneer die motor gly, wat dikwels veroorsaak word deur skerp stuurinsette of oordadige spoed in draaie. Maar die verlies aan klouvermoë kan ook veroorsaak word wanneer ’n band deur dieper water ry as wat die groewe kan weglei,” het hy gesê.

Die verlies aan klouvermoë weens te veel water op die pad se oppervlak word ‘watergly’ of ‘aquaplaining’ genoem. Die voorste bande van ’n tipiese klein sedan wat teen 120 km/h op ’n pad met ’n dun film water van net 1 mm diep ry, moet elk van sowat ses liter water per sekonde ontslae raak. Wanneer dit hard reën, moet elke band teen 120 km/h tot 60 liter water per sekonde wegvee. Dit is dieselfde as ’n bad vol water elke drie sekondes.

Bande verplaas water deur die groewe in die loopvlak, en die oorskot word deur klein gleufies in die loopvlak uit die weg geruim. As die motor egter te vinnig ry of daar is te veel water op die pad, word die bande se vermoe om die water vinnig genoeg te verplaas, erg belemmer en gly die band bo-oor die oppervlak van die water. Dit word watergly (aquaplaning) genoem, en soos enige bestuurder wat dit al teëgekom het kan getuig – dit maak dit onmoontlik om te rem, te stuur of selfs te versnel.

Watergly hou eers op wanneer die water vlakker as die kritiese perk word, of wanneer die voertuig stadig genoeg beweeg sodat die band met die padoppervlak kontak maak. Baie voertuie wat in sulke omstandighede gly, bots voordat die bestuurder beheer herwin, dus is dit baie belangrik om te voorkom dat die voertuig bo-oor die water gly deur stadiger te ry en uit te draai om diep water te vermy indien moontlik.

“’n Groot oorsaak van watergly is bande wat nie genoeg loopvlak het nie,” het Maritz verduidelik. “’n Band met groewe wat net ’n paar millimeter diep is, kan selfs wanneer jy aansienlik spoed verminder, steeds nie genoeg water verplaas om te voorkom dat die band bo-oor die water gly nie,” het hy gesê. “Die wetlike perk is groewe wat ten minste nog 1,6 mm diep moet wees, maar enigiets minder as drie millimeter is nie werklik genoeg om stortreën baas te raak nie – selfs al ry ’n mens heelwat stadiger,” het hy bygevoeg.

Maritz raai motoreienaars, wat besorg is oor hul voertuie se loopvlakdiepte, aan om by ’n passentrum aan te doen om dit te laat nagaan. “Passentrums het loopvlakdieptemeters om vas te stel hoe diep die groewe nog is, wat ook sal wys indien die slytasie oor die hele oppervlak van die band oneweredig is,” het hy verduidelik.

“’n Vinnige ondersoek wat net vyf minute in beslag neem, kan die verskil tussen veilige beheer en gevaarlike watergly beteken wanneer jy weer in ’n reënstorm ry,” het hy gewaarsku.

Besoek ook:

Safe Driving in Bad Weather conditions

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Bridgestone maan motoriste om versigtig te bestuur op nat paaie