Toyota Imperial Suid-Afrika renspan maak sy merk by Dakar 2014

20140121-191519.jpg

Dit was die langste, hoogste en moeilikste Dakar-veldtydren vandat dié berugte byeenkoms in 2009 van die polities-onrusgeteisterde Noord-Afrika na Suid-Amerika verskuif is.
Net 204 voertuie (78 uit 184 motorfietse, 15 uit 42 vierwielmotorfietse, 61 uit 154 motors en 50 uit 70 renvragmotors) van die oorspronklike 450 wat op 5 Januarie in Rosario in Argentinië weggespring het, het die eindpunt gehaal.

Al twee die trots Suid-Afrikaanse Toyota Imperial Hilux 4×4-bakkies was onder die oorlewendes ná die tog van 9 500 kilometer deur Argentinië en Chile, wat twee weke geduur en 5 000 kilometer se rengedeeltes in 13 sneltrajekte ingesluit het. Die roete het die Andes-berge op ’n hoogte van 4 900 meter bo seevlak deur die Paso de Jama-pas oorgesteek.

Suid-Afrika se topverkoper-bakkie het weereens bewys hoe taai en betroubaar hy in die grootste uitdaging in wêreld-veldtydrenne is. Giniel de Villiers en Dirk von Zitzewitz was vierde algeheel en het die T1.1-klas vir omgeboude 4×4-veldtydrenmotors met petrolaandrywing gewen. De Villiers was die enigste jaer wat die oormag Mini’s die stryd al die pad tot by die eindpunt by Chile se hawestad Valprasio aangesê het. Hy het ook die laaste sneltrajek in sy sewende Top 5-sukses in tien Dakar-byeenkomste gewen.

Leeroy Poulter en Rob Howie was 33e algeheel en 13e in hul klas. Nog vier Hilux 4×4’s met ’n stewige Suid-Afrikaanse stamboek was onder die voorste 25. Die Belgiese Overdrive-span het twee voertuie gehad wat deur Toyota Motorsport Suid-Afrika gebou of uit boustelle saamgestel is wat deur Toyota Motorsport se Glyn Hall en sy knap span in Kyalami voorsien is, en was sewende en 13e algeheel (tweede en derde in hul klas). Hul Poolse jaers was Marek Dabrowski/Jacek Czachor en Adam Malysz/Rafal Marton terwyl Aidyn Rakhimbayev/Vladimir Demyanenko van Kazakhstan 17e (vyfde in hul klas) was.

Die private Suid-Afrikaanse jaers Thomas Rundle en Juan Mohr, wat aan hul heel eerste Dakar-ren in die gewese Toyota Motorsport-Hilux gejaag het waarin De Villiers en Von Zitzewitz in verlede jaar se Dakar-ren tweede was, was 25 e algeheel en agtste in hul klas.

Toyota het ook die louere in die T2-klas vir produksievoertuie ingeoes. Die Land Cruisers van die Japannese/Franse jaers Jun Mitsuhashi en Alain Guehennic en hul spanmaats Nicolas Gibon van Frankryk en Akira Miura van Japan was 20e en 21e algeheel en eerste en tweede in hul klas. Dit was Mitsuhashi se derde klasoorwinning.

Die Japannese veteraanjaer Teruhito Sugawara, wat in die ouderdom van 72 in sy 33e Dakar deelgeneem het (hy was die oudste deelnemer), en sy navigator, Hiroyuki Sugiura (Hino), en Sugawara se seun Yoshimasa en Katsumi Hamura (Hino) was onderskeidelik 12e en 31e algeheel in die vragmotorafdeling sowel as in Klas T4.2.

Die Toyota Motorsport Suid-Afrika-tegnikus Albert Geel was ’n spanlid in die T4-ondersteuningsvragmotor wat sy klas gewen het terwyl hulle tegniese steun op die roete vir die twee Toyota Imperial-Hilux 4×4’s verskaf het.

Calvyn Hamman, Senior Vise-President van Verkope en Bemarking by Toyota Suid-Afrika Motors, het die span van 21 Maandag by ’n perskonferensie by die Oliver Tambo-lughawe terugverwelkom en hul sukses geprys. “Ons is ongelooflik trots op julle en wat julle in een van die moeilikste Dakar-renne nog reggekry het.”

Die spanbestuurder, Glyn Hall, het sy ingenieurs en tegnici spesiaal vir hul rol in die moeilike omstandighede en uiterste werkstoestande bedank en geprys. “Julle het ware Suid-Afrikaanse spangees en deursettingsvermoë openbaar – nes ’n Springbok-rugbyspan.”

Hy het ook die verrigting van die Toyota Hilux, wat namens Toyota Suid-Afrika by Hallspeed by Kyalami gebou is, geloof. Die ren-Hilux het ’n V8-produksie-enjin van 5,0 liter met 32 kleppe en viervoudige bonokasse gebruik. “Die Hilux was aansienlik vinniger as verlede jaar en ons het hoë verwagtinge gehad. Ons jaag om te wen, en dit was dus moeilik omdat ons nie by die verrigting van die Mini’s kon kom nie. Dit was baie duidelik dat ons ons motors tot die uiterste gedruk het.

“Die motors se verrigting is nie op gelyke voet nie en dit is ’n groot probleem wat aangespreek moet word. Die bestaande reëls, wat daartoe lei dat die Hilux die kleinste lugbeperker van die voorjaers het, is al die afgelope twee jaar in plek en moet hersien word. Ons moet seker maak dat die verrigtingsbalans reg is.
Giniel de Villiers: “Ons het hoë verwagtinge gehad. Die nuwe Hilux was die beste wat ons nog gehad het, maar die rentoestande met groot dele van die roete baie hoog bo seevlak, het nie by ons petrolaangedrewe enjin met die kleinste lugbeperkers wat deur die organiseerders voorgeskryf is, gepas nie. Die diesel-aangedrewe Mini’s met hul baie groter lugbeperkers het ’n aansienlike voordeel teen sulke hoogtes en ook in die sandduine gehad. Ons kon hulle in die tydrenagtige rengedeeltes op gelyke voet aandurf. Dit was ook baie spesiaal om ons eerste sneltrajek in dié Hilux te wen.”

Leeroy Poulter, wat in sy heel eerste Dakar gejaag het, het groot indruk met sy spoed gemaak – hy was vir die grootste gedeelte van die openingsneltrajek los voor en het sy eerste podium-posisie in die derde sneltrajek beklink – en sodoende bewys hy is een van die jaers wat voortaan dopgehou moet word. “Ons het so goeie wegspring gehad dat ek gewonder het hoekom almal sê dit is so ’n moeilike ren. Ons het in die vierde sneltrajek hard aarde toe gekom ná ’n sprong wat ons agterste skokbrekers gebreek het. Ons moes vier ure vir die ondersteuningsvragmotor wag en dit was van daar af ’n baie moeiliker ren. Ons het baie geleer en ek sien daarna uit om weer te gaan en hierdie ervaring ten volle te benut.”

VOORLOPIGE UITSLAG VAN DIE 2014-DAKAR-VELDTYDREN:
1 Nani Roma/Michel Périn (ESP/FRA), Mini, 50:44:58
2 Stéphane Peterhansel/Jean-Paul Cottret (FRA), Mini, +5:38
3 Nasser Al-Attiyah/Lucas Cruz (QAT/ESP), Mini, +56:52
4 Giniel de Villiers/Dirk von Zitzewitz (ZAF/DEU), Toyota Hilux, +01:10.07
5 Orlando Terranova/Paulo Fiuza (ARG/PRT), Mini, +01:27:44
6 Krzysztof Holowczyc/Konstantin Zhiltsov (POL), Mini, +03:55:42
7 Marek Dabrowski/Jacek Czachor (POL), Toyota Hilux, +05:34:25
8 Christian Lavieille/Jean-Pierre Garcin (FRA), GWM Haval, +05:35:50
9 Martin Kaczmarski/Filipe Palmeiro (POL), Mini, +06:58:12
10 Vladimir Vasilyev/Vitaliy Yevtyekhov (RUS), Mini, +06:59:34
13 ​Adam Malysz/Rafal Marton (POL), Toyota Hilux
17 ​Aidyn Rakhimbayev/Vladimir Demyanenko (KAZ), Toyota Hilux
25 ​Thomas Rundle/Juan Mohr (ZAF), Toyota Hilux
33 ​Leeroy Poulter/Rob Howie (ZAF), Toyota Hilux

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy Dakar-borge, spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota, die Imperial Toyota-groep, Duxbury Netgear, die Innovation-groep, Toyota Finansiële Dienste, SAA Cargo, Blue Sky, Bosch, Castrol, DeWalt, Donaldson, Edgecam, 4×4 Mega World, Hallspeed, 5Mastercraft, NGK, Oakley, SKF, Spanjaard, Sparco en TFM.

20140121-191654.jpg

20140121-191747.jpg

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota Imperial Suid-Afrika renspan maak sy merk by Dakar 2014

Category: Algemeen