Nog ‘n podiumposisie vir die De Villiers / Von Zitzewitz in sneltrajek 11 van Dakar-Veldtydren

Giniel de Villiers van Suid-Afrika en sy Duitse navigator, Dirk von Zitzewitz (Toyota Imperial Hilux), het Donderdag ten spyte van drie pap wiele op die klipperige terrein van die 11e sneltrajek in die Dakar-veldtydren in die Atacama-woestyn in Chile hul derde podiumposisie met ’n puik derde plek in die ren losgejaag.

Die 2009-Dakar-wenners was 12 min 38 sek agter die sneltrajekwenners, Orlando Terranova van Argentinië en sy Portugese navigator, Paulo Piuza (Mini), wat hulle van vierde algeheel tot vyfde laat terugsak het. Die algehele voorlopers, Nani Roma van Spanje en Michel Perin van Frankryk (Mini), was 10 min 57 sek egter die wenners in die tweede plek.

Roma en Perin is in die algehele klassifikasie van die ren voor hul spanmaats, die verdedigende kampioene Stéphane Peterhansel en Jean Paul Cottret van Frankryk (Mini) met ’n voorsprong van 5 min 32 sek met nog net twee sneltrajekte voor die einde van die ren Saterdag in Valparaiso. Nasser Al-Attiyah van Qatar en sy Spaanse navigator, Lucas Cruz (Mini), is 56 min 01 sek agter die voorlopers in die derde plek. Terranova/Piuza is 1 uur 03 min en 39 sek agter en 12 m 18 sek voor De Villiers/Von Zitzewitz.

Dit was die derde langste sneltrajek van die byeenkoms buiten sneltrajekte 4 en 10, en het 605 kilometer se mynpaadjies, rivierkruisings en die sandduine van Copiapo tussen Antofagasta en El Salvador behels.

De Villiers: “Ek het probeer versigtig wees. Dit was ’n goeie sneltrajek. Ons het twee van die Mini’s in die klipperige gedeelte ingehaal, maar het toe ons eerste pap wiel gehad. Ons het hulle weer ingehaal, maar hulle het in die sanderige gedeeltes onder ons uitgery. Ons het hulle in nog ’n klipperige gedeelte vir ’n derde keer ingehaal, maar ons tweede pap wiel gehad. Ons het ’n klip in die pad 30 kilometer voor die einde baie hard getref en nog ’n pap wiel opgedoen – ons dertiende tot dusver, en verreweg die meeste wat ek nog in die Dakar gehad het. Die motor het andersins puik gevaar en ons het geen ander probleme gehad nie. Ons het ’n lang dag voor ons more, en enigiets kan nog gebeur.”

Leeroy Poulter en Rob Howie het hard teruggeveg en stewig herstel nadat hulle Woensdag ’n slegte dag gehad het – hulle het eers twee-uur die oggend by die oornaghalte in Antofagasta aangekom nadat hulle vier uur vir hul ondersteuningsvragmotor moes wag om ’n gebreekte skokbreker te vervang – en het hul algehele posisie van 43e tot 33e verbeter. Dit was ’n dapper terugvegpoging aangesien hulle 85e op die pad agter 48 motors en 32 vragmotors weggespring het.

Hulle het ook drie pap wiele gehad en moes die laaste 100 kilometer versigtig ry omdat hulle nie meer spaarwiele gehad het nie.

Die Suid-Afrikaanse private Toyota-jaers Thomas Rundle en Juan Mohr het voortgegaan om hul merk te maak en het hul gewese Toyota Motorsport-Hilux in die 50e plek in die sneltrajek en 25e algeheel oor die eindstreep gestuur nadat hulle in die stof van die 21 motors en 12 vragmotors wat voor hulle weggespring het, moes sukkel.

Die Toyota Land Cruisers van die Japanese/Franse jaers Jun Mitsuhashi en Alain Guehennic en hul spanmaats Nicolas Gibon van Frankryk en Akira Miura van Japan het hul algehele posisies tot 20e en 21e onderskeidelik verbeter nadat hulle 24e en 23e in Donderdag se sneltrajek was. Hulle het hul eerste en tweede plekke in die T2-klas vir produksievoertuie behou.

Teruhito Sugawara van Japan en Hiroyuki Sugiura (Hino), en Sugawara se seun Yoshimasa en Katsumi Hamura (Hino) het ook hul algehele posisies in die T4-vragmotorafdeling tot 12e en 28e algeheel verbeter.

Die voorlaaste sneltrajek van die 2014-Dakar-veldtydren strek oor 699 kilometer waarvan 350 die rengedeelte tussen El Salvador en La Serena is. Dié wegspring is weer hoog bo seevlak en sal verseker dat die oggend wat as die Camanchaca bekend staan, nie weer dinge vertraag soos voorheen die geval was nie. Sand speel weer ’n groot rol, met ’n string groot duine aan die einde van die sneltrajek. Dit sal nié ’n tydje wees waar die podiumaanspraakmakers veel kanse gaan waag nie.

Die motors begin die rengedeelte om 10:18 (15:18 Suid-Afrikaanse tyd) en sal die ooppadgedeelte teen 19:20 (00:20 SA tyd) voltooi.

 

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy Dakar-borge, spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

 

Toyota, die Imperial Toyota-groep, Duxbury Netgear, die Innovation-groep, Toyota Finansiële Dienste, SAA Cargo, Blue Sky, Bosch, Castrol, DeWalt, Donaldson, Edgecam, 4×4 Mega World, Hallspeed, Mastercraft, NGK, Oakley, SKF, Spanjaard, Sparco en TFM.

Posted on by jonckie

Comments Off on Nog ‘n podiumposisie vir die De Villiers / Von Zitzewitz in sneltrajek 11 van Dakar-Veldtydren