Maak bandeveiligheid jou voorkeur vir 2014 vra Bridgestone

Die bandevervaardiger Bridgestone het ’n beroep op motorryers gedoen om bandeveiligheid een van hul nuwejaarvoornemens vir 2014 te maak. “Baie botsings in Suid-Afrika word veroorsaak deur bande wat skielik ingee,” het Bester Betha, Bridgestone se bestuurder vir praktiese ingenieurswese, gesê. “Motoriste kan die gevaar van bande wat skielik meegee of bars, aansienlik verminder deur bewus te wees van waarvoor hulle op die uitkyk moet wees en die gewoonte te kweek om hul voertuie se bande gereeld na te gaan,” het hy gesê.

Die belangrikste teken van ’n doeltreffende bandeveiligheidsroetine is om die bande gereeld na te gaan. Bande verloor mettertyd druk, en dié proses kan deur ’n stadige plek of foutiewe klep versnel word. Dit is noodsaaklik dat die bande ten minste elke tweede week nagegaan moet word ten einde enige negatiewe tekens op te spoor, soos wanneer die band sy druk vinniger as die ander aan die voertuig verloor.

Maak seker die klepdoppie is op sy plek voordat jy ’n band se druk meet – die doppie keer dat stof in die klep beland en dit laat lek. Gaan ook die wiel self na vir goed soos pakolie wat uit die naaf lek, wat daarop kan dui dat ’n wiellaer besig is om in te gee. As jy baie olie aan die kant van die velling sien wat na die motor wys, kan dit beteken dat die rubberseël om die konstantesnelheidskoppeling geskeur het.

Gaan ook die wielmoere of -boute na. As een losgewikkel het, is dit ’n waarskuwing om die res ook na te gaan. Fokus nou op die band self. Het die rubber enige snymerke, knoppe of kneusplekke? Indien wel, kan dit onwettig – en doodeenvoudig lewensgevaarlik – wees, aangesien ’n knop op ’n band deur inwendige skade veroorsaak word wat lug tussen die saamgestelde lae van die band laat insypel het. Só band kan maklik bars!

Ondersoek ook die slytasie van die band – as dit meer in  die middel as op die skouers afloop, is die band waarskynlik te hard gepomp. Gebruik ’n betroubare banddrukmeter om die druk na te gaan, en doen dit net wanneer die bande nog koud is. Die lug in die band sit heelwat uit namate dit verhit, en dit laat die druk styg, wat doodnormaal is. As jy egter ’n band wat warm gery is, se druk afwaarts tot by die vervaardiger se voorgeskrewe druk aanpas, kan die band eintlik te pap wees, wat daartoe kan lei dat te veel hitte in die rubber opbou en die gevaar verhoog dat die band kan bars wanneer jy weer ry.

Onthou om die klepdoppies terug te draai wanneer jy die banddruk nagegaan het, en stel jou selfoon om jou daaraan te herinner om die bande elke twee weke na te gaan.

“Dit neem minder as vyf minute om die bande volledige en behoorlik na te gaan,” het Betha gesê. “As alle motorryers hierdie toetse gereeld doen, sou baie ongevalle op Suid-Afrika se paaie voorkom kon word,” het hy afgesluit.

Besoek ook:

Bandeveiligheid en Padveiligheid

Posted on by jonckie

Comments Off on Maak bandeveiligheid jou voorkeur vir 2014 vra Bridgestone