Toyota Motorsport pak vir Argentinië – ‘n Stryd teen tyd!!

Toyota Motorsport Suid-Afrika is midde ’n stryd van ’n ander aard terwyl die pasgekroonde nuwe Suid-Afrikaanse veldtydrenkampioene besig is met die reuse-taak om ’n stuk of ses ton se toerusting en onderdele vir die 2014-Dakar-veldtydren wat in Januarie in Suid-Amerika afskop, te verpak.

Dit is ’n stryd teen tyd en die spertyd is oor net meer as ’n week. Die Toyota Imperial Suid-Afrika-span se twee Toyota Hilux 4×4’s, wat gedeeltelik uitmekaar gehaal en op laaiplanke van die Suid-Afrikaanse Lugdiens se vragafdeling verpak moet word, sowel as al die toerusting en onderdele wat vir die 13 dae van die Dakar-byeenkoms nodig sal wees, moet op 13 Desember in sowat 130 kaste in drie aluminium-houers by die SAA by die OR Tambo Internasionale Lughawe vir die lang vlug na Argentinië afgelewer word.

Toyota Motorsport se werkswinkel in Barbecue Downs, net om die draai van die Kyalami-grand prix-renbaan, is ’n miernes van bedrywighede en alles en almal word ingespan.

“Dit gaan ’n bietjie dol op die oomblik,” het die spanhoof, Glyn Hall, dit sagkens gestel waar hy tussen toegedraaide groot komponente en rye en rye bokse met kleiner komponente verdwerg is.

“Ons moet absoluut alles wat ons nodig sal hê om die twee renvoertuie te versorg, saamneem. Dit beteken bykomende onderdele vir bykans elke komponent vir elk van die twee Toyota Imperial Hilux 4x4s. Daar is omtrent 4 000 individuele items.”

Die span van 21 (bestaande uit die renjaers, navigators, ’n ingenieur, ’n fisioterapeut, tegnici en die spanbestuurder) sal op 29 Desember met hul aankoms in Buenos Aires dadelik na Zerate, sowat 80 kilometer verder, na Toyota Argentinië se monteeraanleg vertrek.

Die tegnici sal al die toerusting uitpak en dit in twee ondersteuningsvragmotors wat tussen die oornaghaltes reis, en ’n renvragmotor wat die deelnemers met noodsaaklike onderdele volg, pak.

Die twee Toyota Imperial Hilux 4×4’s sal betyds vir ’n voorren-toetslopie op 2 Januarie in Rosario, die amptelike wegspringpunt van die byeenkoms, aanmekaargesit word. Daarna volg die amptelike registrasie en voorondersoeke op 3 Januarie in Rosario. Die twee Suid-Afrikaanse bakkies sal op 5 Januarie met Giniel de Villiers en Dirk von Zitzewitz in die derde posisie in Hilux #302 en Leeroy Poulter en Rob Howie in die 23e posisie in Hilux #323 op die wegspringstreep aantree.

“Ons het ook ’n logistieke ondersteuningsvragmotor wat alles sal vervoer wat ons vir die kuipe en slaapplekke in die bivouac nodig het – kitsafdakke, grondseile, tente, slaapsakke en verbruiksgoedere,” het Hall bygevoeg.

“Die res van ons ry vir die duur van die ren in twee Toyota Fortuners en ’n Land Cruiser Prado op ’n meer regstreekse roete tussen die oornaghaltes as die deelnemers.

“Dit is ’n reuse-taak om alles vir die Dakar in te pak en van Suid-Afrika af Argentinië en Chili toe en daarna weer terug Suid-Afrika toe te bring, en dit moet met militêre presisie gedoen word. Dit verg baie papierwerk, wat doeaneklaring van Suid-Afrika af en terug, én ons deurgang deur die twee Suid-Amerikaanse lande insluit.”

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy Dakar-borge, spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota, die Imperial Toyota-groep, Duxbury Netgear, die Innovation-groep, Toyota Finansiële Dienste, Blue Sky, Bosch, Castrol, DeWalt, Donaldson, Edgecam, 4×4 Mega World, Hallspeed, Mastercraft, NGK, Oakley, SKF, Spanjaard, Sparco en TFM.

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota Motorsport pak vir Argentinië – ‘n Stryd teen tyd!!