Wes-Kaap neem die voortou in Bridgestone-bandepeiling

Bridgestone se bandeveiligheidsprojek vir 2013 het op hoë noot afgesluit – die laaste peiling vir die jaar, wat op 9 November in die parkeerterrein van die Pick n Pay-hipermark in Ottery in Kaapstad gedoen is, het ’n aansienlike styging in bandeveiligheid teenoor die bandepeiling wat in 2012 op dieselfde plek gedoen is, getoon.

“Die verbetering was ’n groot verrassing ná verlede jaar se teleurstellende uitslae,” het Philip Nel, Bridgestone se direkteur van verkope en bemarking, gesê. “Trouens, die gehalte van bande wat ons in 2012 in Ottery gemeet het, was die ergste in die voorafgaande drie jaar, en ons het nie veel hoop vir vanjaar se peiling gehad nie,” het hy erken. “Gelukkig het Ottery een van die grootste verbeterings teenoor die vorige jaar in die geskiedenis getoon,” het hy bygevoeg.

Die Ottery-peiling van 2012 het onthul dat net 82% van die bande wat ondersoek is, die regte druk gehad het. Banddruk hoër as 2,9 Bar of minder as 1,5 Bar word as uiters gevaarlik beskou, en ’n hele 15% van die bande wat in 2012 ondersoek is, het in daardie afdeling geval. Daarbenewens is 3% van die bande as ‘gevaarlik’  bestempel (druk tussen 1,5 en 1,7 Bar).

Altesaam 912 bande aan 228 voertuie is in 2013 nagegaan, en die stand van bande is in ’n pamflet wat onder elke voertuig se ruitveër agtergelaat is, aangedui. Die persentasie bande met die korrekte banddruk het tot 87% gestyg, wat gunstig met peilings van ander gebiede regoor Suid-Afrika vergelyk. Die persentasie bande wat weens banddruk as uiters gevaarlik beskou is, het met meer as die helfte tot 7% gedaal. Bridgestone sê van die ‘uiters gevaarlike’ bande het waarskynlik na die afdeling vir ‘gevaarlik’ bande verskuif, wat tot 6% teenoor 2012 verdubbel het. “Hoewel ons eerder sou wou sien dat hierdie bande die regte druk gehad het, is hulle ten minste minder gevaarlik as wat hulle voorheen was,” het Nel gesê.

Die span Bridgestone-bandespesialiste het elke band ook vir algehele gehalte ondersoek. Daarvan was 4% van die bande beskadig of tot op die minste wettige loopvlak of erger afgeloop. Dit het weereens gunstig teenoor dié van gebiede wat die afgelope 24 maande die beste gevaar het, vergelyk.

Bridgestone het die 2013-bandepeilingseisoen danksy die groot sprong in die Wes-Kaap as een van die suksesvolste in die sewejarige geskiedenis van die projek bestempel. Altesaam 6 724 bande – ’n nuwe rekord – is ontleed, waarvan 90,2% (ook ’n nuwe rekord) die korrekte banddruk gehad het. Dit was ’n groot verbetering teenoor die vorige rekord (89%), wat verlede jaar opgestel is.

“Ons ervaar steeds ’n klein, dog bestendige daling in die aantal bande wat in die afdelings vir ‘gevaarlik’ of ‘uiters gevaarlik’ val, en is vol vertroue dat dit aanstaande jaar sal voortduur,” het Nel gesê.

Hy het ’n beroep op motoriste gedoen om te verseker dat hul bande behoorlik gepomp is, en genoeg loopvlak het om oppervlakwater in reënweer voldoende te verplaas. “Moenie toelaat dat ’n gevaarlike band jou lewe hierdie vakansieseisoen eis nie,” het Nel afgesluit.

Besoek ook:

Tyre Safety and Safe Driving 

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Wes-Kaap neem die voortou in Bridgestone-bandepeiling