Stewige eindpoging vir Toyota in Tuinroete -tydren in seisoen se laaste byeenkoms

 

  • Gemmell/Swan naaswenners in Castrol-Toyota Yaris
  • Poulter/Coetzee derde in tweede Castrol-Toyota Yaris met een sneltrajek-oorwinning
  • Gemmell/Swan tweede in kampioenskap, De Villiers/Godrich (Imperial-Toyota Yaris) 4e en Poulter/Coetzee 6e in die reeks
  • Toyota wen vervaardigerskampioenskap die 21e keer

Die Suid-Afrikaanse 2013-tydrenkampioenskapseisoen het tot ’n vervroeë en antiklimaktiese einde op die tweede dag van die Tuinroete-tydren in die Wes-Kaap gekom toe swaar reën en gevaarlike padtoestande die organiseerders Saterdag gedwing het om die laaste vyf sneltrajekte af te las.

Toyota Motorsport Suid-Afrika se drie vierwielaangedrewe Klas S2000-Toyota Yaris-tydrenmotors het ná net ses van die beplande 12 sneltrajekte – waarvan vyf Vrydag en net een Saterdag beslis is – net-net ’n eerste ontluikende oorwinning waaraan hulle só hard in die nuwe tydrenmotor se debuutseisoĺen gewerk het, misgeloop.

Johnny Gemmell en Carolyn Swan (Castrol-Toyota Yaris) was weer tweede – die derde keer ná mekaar – en was net 12,8 sekondes agter die wenners, die nuwe 2013-kampioene Mark Cronjé en Robin Houghton. Leeroy Poulter en Elvéne Coetzee (Castrol-Toyota Yaris) was derde en 24,9 sekondes agter hul spanmaats (37,7 agter die wenners), en Giniel de Villiers en Greg Godrich (Imperial-Toyota Yaris) sewende.

Gemmell en Swan het die tweede agtereenvolgende seisoen as naaswenners in die kampioenskap geëindig, nadat hulle verlede jaar in ’n Toyota Auris ook tweede was. De Villiers en Godrich was vierde in hul eerste seisoen saam, terwyl Poulter en Coetzee sesde was.

Toyota het die gesogte vervaardigerskampioenskap danksy die algehele vertoning van die amptelike span en ’n string private jaers die 21e keer en die 15e keer in die laaste 16 jaar, gewen.

Die S2000-Uitdaging vir ouer vierwielaangedrewe tydrenmotors is deur Jean-Pierre Damseaux en Hilton Auffray in ’n Toyota Auris gewen. Hulle het die seisoen in ’n netjiese derde plek algeheel afgesluit, wat vier van die voorste ses plekke aan Toyota besorg het.

Die Tuinroete-tydren het ten spyte van die skielike einde nie teleurgestel wat ’n opwindende afsluiting van die seisoen betref nie. Die byeenkoms het ná Vrydag se vyf sneltrajekte oor ’n afstand van 95 kilometer in ’n driestryd tussen Cronjé/Houghton en die twee Castrol-Toyota-spanne ontwikkel. Die eerste dag is in droë toestande op vinnige grondpaaie, wat plek-plek glad was weens water en modder van vroeër reënbuie, beslis.

Cronjé het drie van die sneltrajekte gewen terwyl Gemmell en Poulter elk een gewen het. Gemmell was by die oornaghalte 10,5 sekondes agter, en Poulter 25, maar met nog sewe sneltrajekte op die program vir Saterdag was ’n Toyota-oorwinning steeds binne bereik.

“Ons het ons bes gedoen en die stryd telkens tot by die kampioenskapswenners geneem, maar ongelukkig effens te kort geskiet,” het die spanhoof, Glyn Hall, gesê.

“Ons is egter baie bemoedig deur die nuwe Yaris se verrigting en die vordering wat ons in die nuwe motor se eerste tydrenseisoen gemaak het.

“Ons het tussen die drie motors agt podiumposisies in die agt byeenkomste losgejaag en was vyf keer tweede, wat die laaste drie tydrenne insluit. Ons het altesaam 17 sneltrajekte deur die seisoen gewen. Johnny en Leeroy was net ongelukkig dat nie een van hulle een van vanjaar se tydrenne gewen het nie, terwyl Giniel en Greg met ’n bestendige vertoning regdeur die seisoen vorendag gekom het wat hulle in ’n skitterende vierde algeheel in ’n uiters mededingende kampioenskap laat eindig het.

“Baie geluk aan J-P en Hilton met hul oorwinning in die S2000-Uitdaging, en ’n groot dankie aan al die private jaers wat ons gehelp het om Toyota aan die bopunt van die vervaardigerskampioenskap te hou.

“Ons sien met groot vertroue uit na die 2014-seisoen, wanneer ons verwag om baie meer mededingend as vanjaar te wees.”

Die eerste ronde van aanstaande jaar se kampioenskap is die Tour Natal-tydren in KwaZulu-Natal, wat voorlopig op 15 Maart sal begin.

Toyota Motorsport gee erkenning aan sy borge, amptelike spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota het ’n wedersydse borgskapsverhouding met Castrol, Toyota Finansiële Dienste, die Imperial Toyota-groep, die Innovation-groep, Bosch, De Walt, Donaldson, Edgecam, Ferodo, 4×4 Mega World, NGK, SKF en Spanjaard.

Volg al die opwinding en gebeurlikhede van die Castrol Toyota-tydrenspan op Twitter by www.twitter.com/toyotasa.

Besoek ook:

Safe Driving on Gravel Roads

Posted on by jonckie

Comments Off on Stewige eindpoging vir Toyota in Tuinroete -tydren in seisoen se laaste byeenkoms