Nuwe Bridgestone-band verlaag vlootadministrasie drasties

Bridgestone het pas ’n gevorderde nuwe band vir vragmotors en busse onthul wat die groot kopsorg oor die bestuur van ’n vloot se bande geheel en al uitskakel – die rotering van bande tussen die dryfasposisies aan die voertuig.

“Bandrotering is ’n algemene vlootbestuurproses om die gemiddelde leeftyd van bande te verleng, maar dit het sekere nadele,” het Shaun Wustmann, Besturende Direkteur van die Bridgestone-bandeverspreiders Max-T Solutions, verduidelik. “Een daarvan is die hoeveelheid monitorwerk wat vereis word om rotering doeltreffend te bestuur. ’n Groot vloot kan weens tot agt dryfaswiele op ’n enkele voertuig tot groot banderoteringsadministrasie lei. Dit is hier waar die nuwe R-Drive 001 tot die redding kom,” het hy verduidelik.

Soos ’n mens van die naam kan aflei, is die nuwe R-Drive 001-swaarvoertuigband ten volle vir dryfasposisies ontwikkel en is dit as 315/80R22.5 beskikbaar. Die nuweling is ’n ‘pas-en-vergeet’-band wat vir sy hele lewensduur in dieselfde posisie gebruik kan word as waar dit oorspronklik gemonteer is toe die band nog splinternuut was. Behalwe dat dit bandadministrasie verminder, skakel dit ook rotasieverwante staantyd uit – die enigste tyd wat ’n R-Drive 001 verwyder hoef te word, is vir herstelwerk weens lekkasies, of wanneer die band aan die einde van sy leeftyd vervang of versool moet word.

Wustmann het verduidelik dat die band se gerigte loopvlakpatroon spesiale bindstange tussen die loopvlakblokkies het wat loopvlakstewigheid verhoog ten einde klouvermoë te vervolmaak en bandgeraas te beperk. “Beter beheer van die loopvlakstabiliteit lei ook tot ’n langer lewensduur,” het hy verduidelik.

Ander voordele van die meer stabiele loopvlakpatroon is minder rolweerstand, wat tot beter brandstofekonomie lei en minder hitte opbou – hetsy die band vir streekvervoer of lang afstande op snelweë gebruik word. “Die belangrikste eienskap van hierdie band is sy vermoë om al hierdie voordele te bied sonder dat dit ooit nodig is om dit van een na ’n ander posisie te verskuif,” het Wustmann gesê. “Bestendige slytasie en weerstand teen veral oneweredige verwering was ook belangrike ontwerpoogmerke,” het hy bygevoeg.

Bridgestone het gesê hierdie voordele is in vergelykende toetse bewys waar die R-Drive 001 teen ’n groot mededinger afgespeel is. Die Bridgestone-weergawe het in droë toestande, natweerverrigting en rompduursaamheidstoetse dieselfde as sy mededinger gevaar, maar aansienlik minder slytasie, laer rolweerstand en minder ongelyke verwering gehad.

Die nuwe band is reeds by sekere Max-T Solutions-afsetpunte regdeur Suid-Afrika beskikbaar, en word deur Max-T se Algehele Bandbestuurdiens gedek, wat vervoeroperateurs bystaan om die laagste moontlike koste per kilometer vir hul bande te help bewerkstellig.

“Die R-Drive 001 is die beste oplossing vir operateurs wat op soek is na bande om hul dryfasbande mee te vervang,” het Wustmann gesê. “Ons voorspel dat die kostevoordeel van enkelposisie-dryfbande die volgende paar jaar ’n groot oorweging in die bestuur van bande gaan word,” het hy afgesluit.

Nog inligting is beskikbaar by: www.maxtsolutions.co.za

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Nuwe Bridgestone-band verlaag vlootadministrasie drasties