Lexus kondig splinternuwe ES aan

 

1.      Inleiding

2.      ’n Woordjie deur die hoofingenieur

3.      Netjies uitgevat vir ’n elegante teenwoordigheid

4.      ES word met twee kragbronne bekend gestel 

5. Topklas-hantering aan die hand van nuwe vering en stuurstelsel 

6. Binneruim leun op jongste L Finesse-ontwerp 

7. Buitengewoon veilig 

8. Prys, waarborg en instandhouding

Elke nou en dan kom ’n voertuigvervaardiger met ’n ontwerp vorendag wat só spesiaal is dat dit tot ’n nuwe nismark lei. Dit is juis die geval met die splinternuwe Lexus ES. Dit is ’n motor met ’n onderdrukte prys, maar met gemak, gerief en die soort eienskappe wat steeds daarin slaag om in die mees verfynde smaak te voldoen.

Soos Justin Ryan, Hoofbestuurder van Lexus Suid-Afrika, dit stel, het Lexus nié van die koper vergeet wat ’n meer waarde-geöriënteerde aanbod wil hê nie: “Hulle wil al die tierlantyntjies hê wat ’n mens in ’n Lexus kry, maar nie noodwendig die naalbyt-versnelling wat daarmee gepaard gaan nie.”

Wat kry jy dus presies wanneer dit by die nuwe Lexus ES kom?

  • Doelgerigte stilering met ’n tikkie van die dramatiese aan die hand van die nuwe Lexus-uurglasrooster wat deesdae meer bekend is;
  • Ruimte, ruimte en nogmaals ruimte. Soos Ryan sê, “hierdie is nou één motor wat jy van die agtersitplek af sal wil bestuur – prysgewys glip die ES net onder die IS-reeks in, maar wat ruimte betref, is hy baie nader aan die GS.”
  • Innemende padgedrag met oorgenoeg verrigting aan die hand van sy viersilinder-sestienklep-dubbelbonokas-VVTi-petrolenjin van 2,5 liter in die ES 250 en die petrol/elektriese hibriedweergawe in die ES 300h. “Die ES is ’n klassieke snelweg-toermotor met ’n romerige, soepel rit wat danksy ’n verfynde veelskakel-agtervering nooit sy kenmerkende Lexus-ewewig prysgee wanneer die paaie kronkelrig raak nie,” sê Ryan.
  • ’n Uitmuntend ontwerpte binneruim met die beste afwerking, deurspek van elke weelde-, veiligheids- en geriefskenmerk denkbaar.
  • “Sy bekendstellingsprys van R435 900 vir die ES 250… is daar nog iets te sê?” sluit Ryan af.
  1. ’n Woordjie deur die hoofingenieur

“My passie vir die ES het begin toe ek in die vroeë 1990’s ’n ontwikkelingsweergawe van die tweede geslag ES in die fabriek gesien het. Ek het toe reeds besef ek wil aan hierdie voertuig werk en iets spesiaal vir hierdie weergawe, die sesde geslag, ontwerp. Die jongste ES bou voort op die vorige geslag se verfyning en soepelheid, maar bied ook die beste ruimte, weelde en gemak in sy klas.

“Ons is baie trots op die feit dat hy in dieselfde pryssegment as ’n klein, Duitse sedan val, maar die binneruimte van ’n groot weeldemotor bied. Dít is wat die ES uniek in die mark maak.

“Hoewel ons voorkeur die ontwerp van ’n ruim, gemaklike en stil sedan sonder gelyke was, wou ek ook seker maak daar was nog genoeg om die bestuurder se belangstelling geprikkel te hou. Ek het tot hierdie gevolgtrekking gekom toe ek vroeëre weergawes in die ontwikkelingsfase gery het en besef het hulle kort iets op die gebied van dinamiese verrigting.

“Ons het dit in ag geneem en besluit om ’n nuwe platform vir die ES te ontwikkel wat stewiger, ligter, langer en laer as wat aanvanklik beplan is, sou wees. Ons het die aantal sweisplekke vir die voor- en agterdeur-openinge vermeerder en die posisie van die sweiskolle in die deuromlystings en wielnisse aangepas om die romp stewiger te maak.

“Daarna het ons lugdinamiese komponente onder die romp aangebring, die terugspringvere vir die voorste en agterste vering aangepas, en kronkelvere wat in die teenoorgestelde rigting gedraai is, vir die voorvering ingespan. Dit het ons gehelp om groot gemak en reguitlyn-stabiliteit vir die beste gemak vir die insittendes te bewerkstellig, terwyl die bestuurder ook ’n meer lonende ervaring kon geniet.

“Die verfynde ry-ervaring word deur die eerste gebruik van ’n hibried-dryfstelsel in die ES afgerond. Die gebruik van spesiale klankdigtingsmateriale en verseëling sluit die insittendes verder van die buitewêreld af.

“Ons het ook nuwighede binne en buite in gebruik geneem, wat ’n geïntegreerde deel van die besieling van onlangse Lexus-voertuie was en die L Finesse-stilering insluit. Die bekende uurglas-sierrooster is nou ’n kenmerkende element van die L Finesse-stilering en werk juis goed in die ES om ’n sterk, dog elegante stelling te maak.

“Die binneruim pronk met ’n gevorderde ontwerp met fyn detail en die beproefde Lexus Remote Touch, wat die ingewende beheer van voertuigstelsels moontlik maak. Die agterste insittendes sal ook die vertroeteling en weeldegevoel van die pragtige leersitplekke, die Nanoe™-versoenbare klimaatbeheer vir bykomende gemak, en elektries beheerde agterkant-sonskerms as deel van die standaard-toerusting geniet.

“Ek moedig jou aan om die ES van voor en agter in die kajuit te ervaar ten einde ons ontwikkelings eerstehands te geniet.

“Ek is vol vertroue dat ons ’n gevorderde weeldesedan ontwerp het wat in die smaak sal val van kopers wat nie aan dié hoeveelheid ruimte en gemak in hierdie deel van die mark gewoond is nie.”

Toshio Asahi

Hoofingenieur, sesde geslag ES (Lexus Internasionaal)


  1. Netjies uitgevat vir ’n elegante teenwoordigheid

Iets wat met die intrapslag genoem moet word, is die feit dat die sesde geslag ES ’n splinternuwe romp het wat op ’n nuwe platform gebou is sonder dat enigiets van die vorige weergawe af oorgedra is.

Die nuwe ES se uiters sterk romp sorg vir ’n stabiele platform vir die vering, en lewer ook ’n bydrae tot sy uitstaande botswaardige eienskappe, duursaamheid en lae oordrag van geraas, vibrasie en grofheid (NVH). Die romp maak omvattend gebruik van hoësterkte staal wat dit stewiger maak en terselfdertyd aan gewigsteikens voldoen terwyl die bagasieruim so groot as moontlik is.

Vyf verskillende graderings hoësterkte-plaatmetaal is in die samestelling van die nuwe ES gebruik, terwyl aluminium ook oorvloedig ingespan is.

Die ontwerp van die nuwe ES-rompplatform sorg vir die grootste moontlike kajuitruimte en ’n indrukwekkende teenwoordigheid op die pad: die asafstand is 2 820 mm met ’n wielspoor van 1 590 mm voor en 1 575 mm agter.

Die rompontwerpers het ’n magdom ontwerptegnieke gebruik om die romp en veringhegpunte so sterk as moontlik te kry, waaronder: vervolmaakte kolsweiswerk in die kante van die romp, rompversterkings, reguit eerder as geboë panele, nuwe subrame, nuwe dwarsbalke, rompstutte, vloerstutte, perfekte ligging vir raammateriale, minder rompkomponente, hersiene/groter paneeldwarsseksies en sterker lasse.

Uit ’n estetiese oogpunt gesien pronk die ES-reeks met ’n elegante sy-aansig wat die skerp lyne van die Lexus-L Finesse-ontwerpbenadering beklemtoon.

Die kenmerkende L Finesse-uurglasvormige sierrooster oorheers die vooraansig en sorg vir ’n moderne, treffende voorkoms. Dit word aangevul deur die breë spoor, uitstaande wielnisse en breë houding voor en agter, waar dit lyk asof die panele verrek is om ’n eietydse en sterk houding op die pad te verteenwoordig.

Die voorste kopligsamestelle pronk met Lexus se pylpunt-dagligryligte (DRL) terwyl die ligdiode-stert- en remligte (LED) in die agterligsamestelle ’n gevorderde weergawe van die L-grafika uit die jongste weergawe van die LS behels. Die stertligsamestelle sluit die lyne van die nommerplaatafwerking in, wat ’n gevoel van breedte en deurvloei na die agterkant van die motor gee.

Die ontwerp van die agterste buffer wissel van model tot model. Die buffer wat in die ES 250 gebruik word, krul om die dubbele uitlaatpype, terwyl dié van die ES 300h ’n lugstabiliserende stertvinvorm het wat die uitlaatpype versteek en ’n skoon voorkoms bied wat netjies by ’n Lexus-hibried pas. Die ES 300h het ook ’n lugskort op die bagasiebakdeksel wat ’n bydrae tot lugdinamiese verrigting lewer. Ander onderskeidende ES 300h-stileringskenmerke sluit blou versiering vir die voorste en agterste Lexus-kentekens, en HYBRID-kentekens bokant die agterdeure se skermstroke in.

Van die kant gesien kombineer die ES praktiese gebruik met ’n elegante voorkoms. Die venster strek opwaarts tot by die hoë daklyn om in- en uitklim te vergemaklik, terwyl eietydse stileringskenmerke ’n windmakerige kinkel in die agterdeure het wat tot in die C-pilare strek.

Lugdinamiese vatbaarheid het ’n groot rol in die uiteindelike ES-ontwerp gespeel – sy soepel vorm en slanke afmetings het tot ’n sleursyfer (Cd) van net 0,27 gelei. Lugstabiliserende vinne is in die deurraam en kante van die stertliglense ingebou. Die vinne skep warrelstrome wat die lugvloei in die rigting van die voertuig aantrek en die laag lug om die romp laat krimp, wat stabiliteit in die ry verbeter.

Rompbedekkings aan die onderkant tesame met lugvinne wat strategies aan die voorste, middelste en agterste dele aan die onderkant van die romp geplaas is, sorg vir bykomende lugdinamiese doeltreffendheid deur die lugvloei onderdeur die motor gladder te maak en sleur te verminder. Dit bevorder nie net brandstofekonomie nie, maar sorg ook vir hanteringstabiliteit.

Die ES 300h het ’n hibried-spesifieke voorste sierrooster en ’n unieke lugskort op die bagasiebakdeksel, wat lugdinamiese verrigting verbeter en die hibried- en petrol-modelle van mekaar onderskei.

Die posisie van die kantspieëls is ook hersien – die afstand tussen die spieëlhulsels en die romp is aangepas om windgeraas te beperk.

Al die modelle is met 215/55R17/93V-bande geskoei. Die twee allooisierwielontwerpe vul die elegante lyne van die ES se buitestileringspakket aan:  die ES 250 het ’n 17”-ontwerp met ’n dinamiese, sesspeek-aansig, terwyl die 17”-ontwerp van die ES 300h-model uit vyf lugdinamies gevormde speke bestaan.

Die ES-buitekant in ’n oogopslag:

  • ’n Splinternuwe, uiters stewige rompplatform met ’n groter asafstand lei tot ’n groot kajuit
  • L Finesse-ontwerpbenadering sluit kenmerkende uurglasvormige sierrooster in
  • Treffende kopligontwerp met dagligryligte (DRL)
    • Pasgemaakte agterste buffer vir die ES 250 en ES 300h (die hibried-weergawe kry ook ’n unieke sierrooster en lugskort op die bagasiebakdeksel)
    • Lugdinamies doeltreffende sleursyfer (Cd) van net 0,27
    • 17”-allooisierwiele in twee onderskeidende ontwerpe

  1. 4.      ES met twee kragbronne bekend gestel

Die nuwe voorwielaangedrewe Lexus ES is met ’n keuse tussen twee kragbronne beskikbaar – viersilinder-petrol en ’n petrol-elektriese weergawe met Lexus-hibriedaandrywing. Die ES 250, wat waarskynlik die gewildste model van die twee sal wees, word aangedryf deur ’n sestienklep-dubbelbonokas-petrolenjin van 2,5 liter met dubbele VVT i-tegnologie.

Die ES 250 se verrigtingsyfers kom te staan op 135 kW teen 6 000 r/min en 235 Nm se wringkrag teen 4 100 r/min, terwyl die enjin aan ’n outomatiese 6-gang-transmissie gekoppel is.

Die ES 250 sal in 9,8 sekondes van 0 tot 100 km/h tot ’n topspoed van 207 km/h versnel, en pronk met ’n brandstofverbruiksyfer van 8,0 liter/100 km in die gekombineerde siklus, en ’n uitlaatgassyfer van 188 g/km.

Lexus gebruik die letterwoord VVT i – die “i” staan vir die intelligente manier waarop die stelsel kleptydreëling regdeur die hele toerestrek vervolmaak om die beste verrigting en brandstofdoeltreffendheid te bewerkstellig. Die gebruik van veranderlike uitlaatgas-kleptydreëling verminder pompverlies en verhoog die hoeveelheid uitlaatgas-hersirkulering, wat tot minder uitlaatgasse lei. Die stelsel verminder uitlaatgasse selfs wanneer die enjin nog koud is, soos wanneer die motor soggens aangeskakel word.

Die ES se viersilinder-petrolenjin van 2,5 liter het ook ’n nuwe akoesties beheerde inlaatstelsel wat die wringkrag van 2 000 tot 4 000 r/min in die kern van die toerestrek verbeter. Die inlaatspruitstuk is lig en werk stil, en is van ’n veeldoelige hars gemaak wat lugvloei bevorder. Die ontwerp van die nuwe inlaatpoort is met die hulp van rekenaar-ontwikkeling verfyn. Dit het tot hoë kraglewering en beter brandstofdoeltreffendheid gelei deur hoë lugvloei en inlaattuimelvloei te verseker.

Ander enjineienskappe sluit in laespanning-suierringe, ’n skuins gemonteerde krukas, driefase oliepomp met veranderlike verrigting, en roltuimelaars. Dit lei tot beter brandstofverbruik, minder uitlaatgasse, hoë kraglewering en minder vibrasies en geraas.

Hoogs doeltreffende inlaatpoorte, kompakte ontbrandingskamers en ’n hoër drukverhouding werk alles saam om ontsteking te verhoog. Die silinderkop is in die navorsing- en ontwikkelingsfase in Japan herontwerp om verrigting, brandstofdoeltreffendheid en uitlaatgasvrystelling te verbeter. Die nuwe silinderkop bestaan byvoorbeeld uit twee dele wat die roltuimelaars huisves en die vervaardigingsproses vereenvoudig. Die gevolg is ’n ingewikkelder en meer verfynde komponent waarvan die vorm deur middel van rekenaarontwerp vervolmaak is.

Dit het tot ’n dun, ligte ontwerp gelei met hidrouliese spelingverstellers en kleppe met ’n groot omtrek, wat verrigting verhoog.

Interessant genoeg word die temperatuur deels deur waterholtes binne die silinderblok beheer. Daarbenewens verander die boorvorm namate die enjin warm word, wat uitsetting beheer en ’n hoër werktemperatuur moontlik maak.

Vier enjinhegpunte met aktiewe beheer en wat met vloeistof gevul is, word in die ES gebruik om geraas en vibrasies teen enjinsnelhede onder 900 r/min te beperk.

Die ES 300h is die eerste petrol-elektriese hibried-kragbron in die ES-reeks. Die nuwe ES word aangedryf deur ’n VVT i-petrolenjin van 2,5 liter (wat 118 kW teen 5 700 r/min en 213 N.m se wringkrag teen 4 500 r/min lewer) en aan ’n elektriese motor van 105 kW met ’n 650 V-nikkelmetaalhidriedbattery gekoppel is. Die stelsel se gesamentlike verrigting is 151 kW.

Die ES 300h het ’n elektroniese palwisseltransmissie (eCVT) en versnel in 8,5 sekondes van 0 tot 100 km/h, maar pronk met die soort brandstofverbruik (5,5 liter/100 km in die gekombineerde siklus) wat gewoonlik met dié van meer kompakte voertuie verbind word. Die ES 300h se CO2-uitlaatgasse is op 130 g/km vasgestel.

Die nuwe Lexus ES gebruik twee transmissiestelsels, wat ten gunste van ’n balans tussen verrigting, ekonomie, soepel werking en min geraas en vibrasie (NVH) ontwerp is.

Dié twee ES-transmissiestelsels maak gebruik van ’n ratkierie in ’n wisselhekkie met sekwensiële wisseling, kunsmatige intelligensie (AI)-wisselbeheer en Lexus Drive Mode Select. Die opvolgratwisseling stel bestuurders van die ES 250 en ES 300h in staat om rybaarheid met handratagtige wisselwerking te verhoog.

Die ES 300h se nuwe eCVT-stelsel sluit twee 650 Volt-wisselstroom-motors/kragopwekkers en ’n saamgestelde (dubbele) stel planeetratte in. Die gebruik van ’n planeetratstelsel in teenstelling met ’n bandkatrolstelsel beteken geen energie gaan deur glywerking verlore nie, terwyl brandstofekonomie verbeter word.

Die Lexus ES 300h gebruik ingewikkelde sagteware om die transmissie te beheer en die spoed van die petrolenjin, kragopwekker en dryfmotor soepel te beheer wanneer die motor versnel of spoed verloor. Die sagteware het vier verstellings wat deur die bestuurder gekies kan word: EV (suiwer elektriese aandrywing), ECO (ekonomies), NORMAL (gewoon) en SPORT.

Die ES 300h kan met die wegtrek en teen snelhede van tot 45km/h met suiwer elektriese aandrywing (EV) ry. Dit sorg vir die minste moontlike geraas en absoluut geen uitlaatgasse in woongebiede en ondergrondse parkeerterreine. Die ES 300h gebruik net elektriese krag om in trurat te ry.

Drive Mode Select

Die nuwe Lexus ES pronk met Drive Mode Select (DMS) wat die bestuurder in staat stel om die voertuig se gedrag vir ’n dinamiese bestuurstyl of die gunstigste brandstofverbruik aan te pas. Die stelsel verstel ook die elektriese kragstuur (EPS), versnellingsgevoel en lugversorgingstelsels van die petrol-aangedrewe ES 250 sowel as die ES 300h.

Die drie verstellings – ECO, SPORT en NORMAL – kan met die draai of druk van die DMS-kontrole gekies word. Die ES 300h het ’n unieke EV-verstelling, soos reeds genoem, wat die hibried-batterypak gebruik om die voertuig tot 45km/h te laat ry.

Wanneer die ECO-werking gebruik word, word die temperatuur deur middel van die klimaatbeheerstelsel, lugvloeivolume en werking van die agtersitplekverwamers bestuur om die gunstigste doeltreffendheid te verkry. Die beligting van die instrumente verander in ’n rustige blou om omgewingsbewuste ryverrigting aan te dui, en die woord ECO verskyn op die instrumenteskerm.

Wanneer die SPORT-modus gebruik word, is die versnellingsgevoel en elektriese kragstuur skerper deur vinniger op die bestuurder se insette te reageer. Dit word deur rooi beligting op die instrumentepaneel en ’n SPORT-ikoon vir ’n meer sportiewe kajuitgevoel aangevul.

Die gewone modus (NORMAL), wat verrigting en doeltreffendheid balanseer, is die verstekverstelling wanneer die enjin aangeskakel word. Dit kan ook ingeskakel word wanneer die motor in die ECO- of SPORT-modus is deur bloot die DMS-skakelaar te druk.

ES-verrigting in ’n oogopslag:

  • ES 250 – sestienklep-viersilinder van 2,5 liter met dubbele bonokasse en dubbele VVT i (6-gang-outomaties)
  • ES 250 – 135 kW teen 6 000 r/min / 235 Nm teen 4 100 r/min
  • ES 250 – 0 tot 100 km/h in 9,8 sekondes / topspoed 207 km/h
  • ES 250 – brandstofverbruik in gekombineerde siklus: 8,0 liter/100 km en 188g/km se CO2-uitlaatgasse
  • ES 300h – VVT i-petrolenjin van 2,5 liter (118 kW teen 5 700 r/min / 213 N.m se wringkrag teen 4 500 r/min) gekoppel aan ’n elektriese motor van 105 kW en ’n gekombineerde kragleweringsyfer van 151 kW (eCVT)
  • ES 300h – 0 tot 100 km/h in 8,5 sekondes / topspoed beperk tot 180 km/h
  • ES 300h – brandstofverbruik in gekombineerde siklus: 5,5 liter/100km en 130 g/km se CO2-uitlaatgasse
  • Drive Mode Select vir meer begeesterde of doeltreffender rygedrag

  1. Uitstaande hantering aan die hand van nuwe vering en stuurstelsel

Die voor- en agtervering van die nuwe Lexus ES is ontwerp om ’n lewendige ry-ervaring te bied wat vertroue inboesem en die legendariese ritgemak soos ’n Lexus-towertapyt te behou.

Die voorvering gebruik MacPherson-stutte met nuwe balievormige kronkelvere wat in die teenoorgestelde rigting gedraai is, en ’n rolstaaf wat op ’n roosverbinding gemonteer is om reguitlyn-stabiliteit en stuurgevoel te verbeter, wat simmetrie tussen die linker- en regterkante van die motor bied.

Die verbeterde agtervering bestaan uit veelskakel- of dubbelkoppeling-stutte met keëlvormige kronkelvere en ’n rolstaaf wat op ’n koeëlgewrig gemonteer is, en weereens gemak en hantering bevoordeel. Die voorste en agterste skokbrekers is eweneens ten gunste van gevorderde hantering en stabiliteit ingestel.

Die ligte veerstelsel bied ook ’n besparing op geveerde of ongeveerde gewig ten einde brandstofekonomie te verbeter en hanteringstabiliteit te verhoog.

Wanneer dit by hantering kom, kan ’n mens egter nie die stuurstelsel oor die hoof sien nie, en dis ook hier waar die nuwe ES beïndruk. Die nuweling het ’n meer verfynde spoedsensitiewe elektriese kragstuur (EPS) vir die ideale kragstuurhulp teen alle snelhede.

Die hoeveelheid kragstuurhulp styg met elke stuurhoek – veral teen lae snelhede. EPS bespaar energie teen hoë spoed en wanneer die motor in ’n reguit lyn ry deurdat bykans geen elektrisiteit vereis word nie. Die regstreekse stuurgevoel is verbeter deur die wringstewigheid van die stuurwiel se stutraam te verhoog.

Die ES se stuurstelsel gebruik ’n pasgemaakte tandstang- en kleinrat. Die stuurkas is van aluminium gemaak om gewig te verminder. Die aantal tande en die tandstang- en kleinrat is aangepas om by die elektriese kraghulp te pas.

Die Lexus ES het ’n teleskopies- en kantelverstelbare stuurkolom, met ’n 40 mm-kantelverstelling en 40 mm se teleskopiese reikafstand.

ES-vering en stuurstelsel in ’n oogopslag:

  • MacPherson-stuttipe voorvering met omgekeerde gedraaide kronkelvere vir beter hantering en gevorderde stuurgevoel
  • Nuwe dubbelskakel-agterveerstelsel om reguitlyn-stabiliteit en beheer te bevorder.
  • Verbeterde spoedsensitiewe elektriese kragstuur (EPS) vir gladder, akkurater stuurgevoel en groter terugvoer.

  1. Binneruim leun op jongste L Finesse-ontwerp

Die moderne binneruim van die nuwe Lexus ES is ontwerp om ’n gevoel van oop ruimte en sekuriteit te bied – en word deur Lexus se unieke L Finesse-ontwerpbenadering aangevuur.

Die binneruim van die ES, wat op die ontwerpe van die CT 200h, GS en IS gegrond is, is met die oog op uitstaande ergonomie en ’n fokus op die bestuurder ontwerp, met afsonderlike vertoon- en werkingsones. Die gevolg was dat siglyne en sigbaarheid teenoor dié van vorige weergawes verbeter is, die kontrole-uitleg is meer logies en nuwe kajuitmateriale met hoëgraadse vakmanskap word gebruik.

Die lang, laag-op-laag-voorkoms van die instrumentepaneel plaas die belangrikste inligting reg in lyn met die bestuurder se sig in ’n 8”-satellietnavigasieskerm en aanvullende 3,5”-vertoonskerm in die instrumentepaneel, wat alles deel van die standaard-toerusting is.

Die nuwe voorpaneel verbind tradisionele tegnieke met vakmanskap vir hoëgehalte-afwerking, wat ’n handgestikte voorpaneel en hoëtegnologiese wyserhorlosie met selfbeligting insluit.

Die omvattende werksone is onder die vertoonskerm en huisves die stuurkontroles, middelste instrumentehuls, klank- en klimaatbeheer-kontroles, rathefboom en Lexus se bekroonde Remote Touch System (met ’n kontrole soortgelyk aan ’n rekenaarmuis).

Die ES se stuurwiel, wat van die GS oorgedra word, het ’n driespeek-ontwerp met ’n deursnit van 380 mm en huisves die klank-, telefoon-, vertoonskerm- en verskillende modusskakelaars vir maklike toegang. Die stuurwielhoek is laer as dié van vorige weergawes sodat die bestuurder dit verder kan draai sonder om oor te leun.

Vernuwende agtergrondbeligting is aan die in- en uitklimvolgorde en die verskillende rymodusse gekoppel. Die instrumentepaneel-beligting pas by die rymodus, met blou beligting vir die instrumente wat daarop dui dat die motor in ECO-, gewone (NORMAL) of EV-werking is, terwyl die feit dat die motor in Sport-modus is deur rooi instrumentebeligting aangedui word.

Kajuitruimte en sitplekindeling

Feit: die nuwe ES bied meer been-, kop- en skouerruimte as enige van sy mededingers in dieselfde prysklas.

Die voorste insittendes word bederf deur 953,4 mm se kopruimte, 1 463,6 mm se skouerruimte, 1 392 mm se heupruimte en 1 065 mm se beenruimte, waarvan laasgenoemde beter as enige E-segment-voertuig is.

Die agterste insittendes het 953,3 mm se kopruimte, 1 396,9 mm se skouerruimte, 1 365,9 mm se heupruimte en 1 015,4 mm se beenruimte. Die gebruik van ’n voorwielaangedrewe uitleg, wat nie ’n sogenaamde transmissietonnel vereis nie, stel uit die aard van die saak meer ruimte agter beskikbaar, wat gemak verhoog en ’n gevoel van oopheid bied.

Al die sitplekke is ontwerp om langafstandgemak te bied. Die ingenieurs het die bekkensteun verhoog en die gordels verbeter om te verhinder dat ’n mens se bolyf skuins sit. Dit verdeel die druk op die sitplekgedeelte en help dat ’n mens nie gou tam word nie.

Die bestuurder is ook gemakliker deurdat die stuurhoek tot 22 grade verminder is en Lexus se nuwe stuurwiel ingespan word.

Al die gebiede wat in aanraking met die insittendes kom, soos die middelkonsole-deksel en armleunings, is dik opgestop om gemak te verhoog. Aandag aan detail sluit ook die manier in waarop mense in en uit die motor klim, met die fokus op groot deuropenings en holvormige deurbeslag om meer plek vir die swaai van die insittendes se voete te maak.

Die weelderige en ruim kajuit van die Lexus ES-sedan is is met ’n string verskillende beslag- en kleurkeuses beskikbaar om in individuele behoeftes en smake te voorsien. Twee verheweleerbeklede binneruimkleure is beskikbaar: swart en ivoor. Elk van dié kleure sorg vir ’n onderskeidende voorkoms met ’n gevoel van verpersoonlike weelde, wat deur die smaakvolle gebruik van klavierswart insetsels in die voorpaneel en middelkonsole versterk word.

Metaalversierings word op die voorpaneel, middelkonsole en sekere elemente in die voor- en agterdeure in al die modelle gebruik. Die bagasieruim is ’n honger 490 liter vir die ES 250, terwyl dié van die hibried-model 425 liter kan sluk. Al twee weergawes het ’n volgrootte noodwiel.

Dubbelsone-klimaatbeheer

Al die ES-lugversorgingstelsels maak gebruik van Nanoe-tegnologie, wat vogtigheid deur middel van ione na die kajuit stuur om ’n gunstiger klimaat vir die insittendes te skep. Dit word gedoen deur negatief gelaaide mikroskopiese Nanoe-ione met omtrent 1 000 keer meer voginhoud as gewone ione te laai. Die ES 250 sowel as die 300h het dubbelsone-klimaatbeheer.

Vertoonskerm vir veelvuldige lesings

Die multimediastelsel, wat ’n 8”-hoëresolusieskerm behels wat aan die bekroonde Lexus Remote Touch-stelsel gekoppel is, maak dit moontlik om die satellietnavigasie en ’n truratkamera saam te benut.

Die samevoeging van die vertoonskerm en die raakskerm vertoon en beheer die klankstelsel-, klimaatbeheer-, voertuigverstelling-, satellietnavigasie-, trurat-kamera- en parkeersensor-inligting.

Die twee ES-modelle het ook ’n 3,5”-hoëresolusie-TFT-skerm in die middel van die instrumentepaneel. Dié skerm is in vyf onderskeidende dele verdeel: die boonste deel vertoon motorrytoestande soos spoedbeheer en spoed. Die buitetemperatuur, brandstofverbruik en oorblywende reikafstandand word reg onder dit vertoon, terwyl die laaste drie gedeeltes die ratposisie, rymodus en ritinligting vertoon. Die bestuurder kan ’n knoppie op die stuurwiel gebruik om die vertooninligting te verander.

Ander standaard-items regdeur die reeks sluit in gevorderde Bluetooth-versoenbaarheid, stemherkenningsvermoë en iPod- en USB-verbindings.

Die nuwe Lexus het ’n mengelmoes gemak- en geriefstoerusting wat alles deel van hul standaard-toerusting is. Verwys na die aangehegte lys vir die omvattende lys toerusting, maar hier is ’n voorsmakie van sommige van die mees uitstaande kenmerke:

  • Verheweleer-bekleedsel in swart of ivoorkleurig
  • Elektries beheerde en verhitte voorsitplekke met geheuewerking vir die bestuurdersitplek
  • Stuurgemonteerde skakelaars vir die klank-, vertoon-, stemherkenning-, telefoon- en spoedbeheerstelsels
  • Dubbelsone-klimaatbeheer
  • Elektrochromatiese binne-truspieël
  • Elektro-vertoonskerm vir SatNav, 8-luidspreker-klankstelsel en trurat-kamera
  • Sonarparkeerstelsel (werk saam met truratkamera) vir parkering
  • Lexus Remote Touch-stelsel
  • Bluetooth en USB-sokke
  • Sondak (kantel en skuif)
  • Elektries beheerde deurspieëls (verhit, trek outomaties terug, geheueverstelling)
  1. Buitengewoon veilig

Aktiewe veiligheidseienskappe wat deel van die nuwe ES se standaard-toerusting is, sluit in voertuigstabiliteitsbeheer (VSC+), kloubeheer, sluitwerende remme (ABS), elektroniese remkragverdeling, remhulp en noodremwaarskuwing. ’n Banddruk-waarskuwingstelsel en blindekol-monitor (BSM) met baanwisselhulp is ook deel van die pakket.

Die blindekolmonitor help om voertuie in die blinde kol aan weerskante van die motor te bespeur en stel die bestuurder oor die teenwoordigheid van ’n ander motor in kennis deur ’n oranje simbool in die deurspieël aan daardie kant te laat brand. Wanneer die rigtingwyser gebruik word en die BSM bespeur ’n ander motor in die aangrensende baan, begin die verligte BSM-simbool in die spieëltjie flikker.

Die ES 300h het die bykomende gerief van wegtrekhulp (HAC) en ’n elektronies beheerde remstelsel (ECB).

Wat passiewe veiligheid betref, het al die ES-weergawes altesaam tien lugsakke as deel van hul standaard-toerusting, waaronder knie- en voorkantlugsakke vir die bestuurder en voorste passasier, kantlugsakke in die voorste en agterste sitplekke, sowel as luggordyne. Die voorste sitplekke is spesifiek ontwerp om sweepslagbeserings (WIL) in sekere soorte botsings van agter af te help voorkom.

ES-veiligheidspakket in ’n oogopslag:

  • VSC en
  • Kloubeheer
  • ABS met EBD, remhulp en noodremwaarskuwing
  • Banddruk-waarskuwingstelsel
  • Blindekol-monitor met baanwisselwaarskuwing
  • Wegtrekhulp (HAC) – ES 300h
  • Elektronies beheerde remstelsel (ECB)
  • 10 lugsakke
  • ISOFIX-kindersitplekmontering
  • Voorste sitplekke wat sweepslagbeserings (WIL) teenwerk
  1. Prys, waarborg en instandhouding

ES 250 – R435 900

ES 300h – R515 000

Al die modelle in die ES-reeks word net soos die res van die Lexus-reeks deur ’n fabriekswaarborg van vier jaar /100 000 km gedek. Die ES 250 en 300h word op die gebied van instandhouding ook deur Lexus se “Distance Plan Plus” as deel van die prys gedek. Besoek www.lexus.co.za, bel 08611 LEXUS of sluit op Facebook by Lexus aan by www.facebook.com/LexusSouthAfrica.

Posted on by jonckie

Comments Off on Lexus kondig splinternuwe ES aan