Bridgestone-klubuitdaging ’n eindstryd met ’n verskil!

Die eindronde van die 2013-Bridgestone-4×4-klubuitdaging het tot ’n veeleisende stryd tussen die 30 topspanne by die Gerotek-voertuigtoetsgeriewe naby Pretoria gelei. Niks kon die deelnemers egter voorberei op dít wat die organiseerders in die mou gevoer het nie!

Dit was amper soos in die feëverhaaltjie met die spieëltjie-spieëltjie-aan-wand-vraag: watter fabrikaat 4×4 is werklik beter as die res om sy bestuurder ’n skouspelagtige voordeel in ’n strawwe 4×4-uitdaging te gee?

Die Mercedes-Benz Gelandewagen, of dalk die Jeep Wrangler Rubicon met sy grendelewenaars voor en agter? Wat van die klein, dog manhaftige Suzuki Jimny? En moenie die magdom dubbelkajuit-bakkies buite rekening laat nie…

Die taaiste deel van die toffie in die aanloop tot die eindronde vir Daniel Barbosa van Bridgestone, wat die uitdaging bestuur, was doodeenvoudig hoe om te verseker dat die uitdaging regverdig is wat al die verskillende fabrikate betref sonder dat enige ’n onregverdige voordeel geniet?

Op die ou einde was die antwoord heel eenvoudig – gee al die deelnemers dieselfde voertuie om dieselfde hindernisse mee aan te durf. Op hierdie manier kom alles neer op bestuursvermoë en die deelnemers se vaardigheid om by ’n 4×4 aan te pas wat hulle nog nooit gery het nie.

Die verrassing – en opwinding – toe Barbosa dié nuus oor die beheervoertuie vir al die eindronde-hindernisse aangekondig het, was duidelik te sien. Maar hoe dieper die nuus begin insink het, hoe meer sinvol het dit geblyk te wees, en hoe meer het die deelnemers geglimlag. Die meeste het saamgestem dat dit so regverdig is as wat enige 4×4-kompetisie kan wees.

Die groot dag het uiteindelik aangebreek, en die 30 spanne het hul eie voertuie gebruik om van hindernis tot hindernis te beweeg. By elke hindernis het ’n ander voertuig op hulle gewag – van ’n Suzuki Jimny sonder ewenaargrendels tot ’n Mercedes-Benz E63 AMG waarvan die kloubeheer vir ’n laespoed-gimkana op die glybaan afgeskakel was.

Dit was gou duidelik dat dit ’n groot uitdaging sou wees om enigsins punte in die hindernisse aan te teken, om nie eens van volpunte te praat nie! Maar namate die dag gevorder het, het sommige deelnemers – wat duidelik die kuns bemeester het om vinnig aan te pas en die hand wat hulle gedeel is, so doeltreffend as moontlik te benut – ’n honderd punte hier en 80 daar opgeraap.

Intussen het iets anders, waarvan die deelnemers geheel en al onbewus was, ook ’n groot rol gespeel. Omgewingsuitdagings lê Bridgestone baie na aan die hart, en die roetebeamptes het by elke hindernis punte op die gebied van spesifieke omgewingsuitdagings toegeken. Die beamptes het by een van die hindernisse byvoorbeeld ’n paar leë koeldrankblikkies laat lê. Die deelnemers wat dit opgetel en in die asblik gegooi het, het hoë omgewingspunte gekry.

By ’n ander hindernis waar dit baie waarskynlik was dat die voertuie se wiele kon tol, het pogings om wieltol te beperk, heelwat punte getel. Dié wat die enjins laat skree en die modder in alle rigtings laat spat het, het min omgewingspunte gekry, terwyl dié met ’n meer besadigde benadering meer punte opgemaak het.

Die deelnemers het aan die einde van ’n lang dag agter die stuur van ’n uiteenlopende verskeidenheid voertuie uiteindelik na die nabygeleë Leeuwenkloof-4×4-omgewingsvriendelike geriewe vir die uiteindelike prysuitdeling van die 2013-seisoen saamgetrek.

Hier het nog ’n verrassing gewag – die hoofborg, Conqueror-sleepwaens, het aangekondig dat die kompetisie se eerste prys, ’n sleepwa ter waarde van R50 000, tot een van oor die R100 000 opgegradeer is!

Die derdeplekwenner wat bewys het sy talent gaan nie net oor sy Gelandewagen se twee grendelewenaars nie, was Idmar Marx en sy spanmaat Johan Bischoff. Hulle het ’n bande-geskenkbewys ter waarde van R10 000 van Bridgestone SA gewen.

Die naaswenners se Jeep Wrangler Rubicon is wel ’n baie gerespekteerde 4×4, maar die mens agter die stuur is toe nie so sleg nie. Johan Swift en sy spanmaat, Dieter Schaap, is as naaswenners gekroon. Hulle het ’n Top Dog-veerstesel ter waarde van R20 000 van Opposite Lock losgeslaan.

Die algehele wenners, wat ’n skittervertoning op die gebied van veldryery en omgewingsake gehad het, was Danny Daniels en Tjaart Scheepers. Dié span, wat gewoonlik in ’n Jeep Grand Cherokee deelneem, is met die R100 000-sleepwa van Conqueror beloon.

Besoek ook :

Road Safety and Tyre Safety

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Bridgestone-klubuitdaging ’n eindstryd met ’n verskil!